Vinnigste vierdeurmotors óóit!?

(Foto: Verskaf)

ʼn Mens kan maklik redeneer dat BMW se M5 en AMG se E-klas twee voertuie is wat die rewolusie van die Duitse über-sedanmotor begin het.

Die Duitsers, met hul asemrowende Autobahn, het die weg gebaan vir ʼn sedanmotor wat in ʼn paar uur tussen twee groot stede kon reis. Dié twee voertuie, indien nie beperk nie, ry lag-lag 300 km/h. Dit is absoluut fantasties.

Ek het sowat twee jaar gelede vir die eerste keer ʼn voorsmakie van die indrukwekkende BMW M5 Competition gehad en het onlangs agter die stuur van ʼn Mercedes-AMG E63S geklim. Sjoe. Ek het al ʼn paar keer gesê dat die huidige turboaangejaagde 4.0 V8 van Mercedes moontlik een van die beste enjins ter wêreld is.

Hoe dit ook al sy, laai BMW toe nou die dag ʼn nuwe M5 Competition met ʼn M-Performance-uitlaatpyp by my huis af. Hemels!

Kom ons vergelyk die twee:

Ontwerp

BMW M5 CompetitionMercedes-AMG E63S 4Matic+
4/54/5

Ek voel dat ek hier ʼn bietjie lelik is met die E en 5. Albei is bitter mooi voertuie, maar in ʼn wêreld waar die GT 4-deur en 8-reeks bestaan, is die gewone E en 5 nie só mooi nie. Een is nie mooier as die ander nie; dit gaan eenvoudig ʼn smaakverskil wees. Albei is kolossale 5-sitplek-vuurwaens met vier deure en ʼn allemintige kattebak.

Binneruim

BMW M5 CompetitionMercedes-AMG E63S 4Matic+
4/55/5

Al is albei voertuie ewe gemaklik, sal ek hier stry dat die E-klas se kattebak effe groter is, maar dis die ontwerp van die E-klas se binneruim wat my oortuig. Die skerms is pragtig. Die BMW se nuwe skerm vir die lugreëling is effens moeilik om te bemeester, en die skerm wat sy spoed, toere en ander inligting wys, se ontwerp kan nie verander word soos by die E-klas sʼn nie.

Enjin, ratkas en dryfstelsel

BMW M5 CompetitionMercedes-AMG E63S 4Matic+
5/54,5/5

Dié twee voertuie is wild. Hulle is asemrowend vinnig, en hul padhouvermoë ondenkbaar. Ek hou meer van die enjinklank van die AMG, maar die M-Performance-uitlaatpyp op die M5 is ʼn groot verbetering op die standaard-weergawe. Albei voertuie het wringkragomsitter outomatiese ratkaste met vierwielaandrywing. Die BMW bied 460 kW en 750 Nm. Hy sal van stilstand 100 km/h haal in 3,3 sekondes sê BMW, en Mark Jones – ʼn plaaslike motorjoernalis het hom op 3,28 sekondes hier bó op die platorand getoets. Die AMG bied 450 kW en 850 Nm. Hy sal 100 km/h haal in 3,4 sekondes en 300 km/h voluit. Die BMW 305 km/h, sê BMW. Ek het dit gehaal en hy het nog poeier gehad, so ek dink hulle is konserwatief. Die nuutste M5 voel snikkend vinnig.

(Foto: Verskaf)

 

Ritgehalte, padhouvermoë en veiligheid

BMW M5 CompetitionMercedes-AMG E63S 4Matic+
4,5/55/5

Dié twee voertuie is in ʼn klas van hul eie. Albei klou soos ʼn neet op die pad. Die ritgehalte in die BMW is skrams beter as die AMG sʼn, maar die AMG het een meer lugsak as standaard, met die opsie van nóg twee.

Waarborg, diensplan en prys

BMW M5 CompetitionMercedes-AMG E63S 4Matic+
4/54/5

Nie een van die twee voertuie is goedkoop nie. Die AMG tiep die skaal teen R2,436 miljoen, en die BMW R2,328 miljoen, sonder die R100 000 se uitlaatpyp. Albei bied ʼn 2 jaar/onbeperkte km‑waarborg en 5 jaar/100 000 km‑ omvattende instandhoudingsplan.

Opsomming

BMW M5 CompetitionMercedes-AMG E63S 4Matic+
21,5/2522,5/25

Dis ʼn verrassing as ek die tellings bymekaar tel. Ek was oortuig dat die BMW sou wen, maar dit lyk my die Mercedes-AMG E63S 4Matic+ wen hom met een punt. Albei is bioniese rygoed. Dit is bitter moeilik om te kies tussen die twee, maar die M5 Competition was bitter bitter sterk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.