Die Japannese doen dinge deurdag en op hulle eie tyd. As iets werk, dan karring hulle nie veel daaraan nie. Vat nou maar die nuwe Suzuki GSX-S1000. Dit is in wese nie veel anders as die fiets wat in 2015 die lig gesien het nie, en tog is daar stuk-stuk klein veranderinge aangebring. Dit het die fiets verbeter, sonder om onnodige koste tot gevolg te hê. Ek is genooi om ’n kort tydjie op die fiets deur te bring om die nuweling beter te leer ken.
Ons ontmoetingspunt was naby Magaliesburg, en met die eerste oogopslag merk jy onmiddellik die nuwe hooflig op. Dit is ’n dubbele LED-eenheid, met die twee ligte op mekaar gestapel. Dit is omhul deur gevormde bakpanele wat die voorkant van die fiets heel aggressief laat vertoon. Die hooflig is een van daardie items wat menings sal verdeel, maar ek hou daarvan.
- (Foto: Chris Kuun)
- (Foto: Brian Cheyne)
Die enjin is steeds ’n 999 cc‑viersilinder‑eenheid wat ook in die GSX-R diens doen, maar vir die S is die enjin heelwat rustiger gemaak. Die kraglewering is sodanig hersien om geriefliker te wees vir alledaagse gebruik en nie net vir vinnige tye op die baan nie. Suzuki het ook die brandstofinspuiting hersien vir beter verbruik. Die fiets kom standaard met snelskakeling op en af.
Die brandstoftenk is vergroot tot 19 liter en is gevorm vir gemak. Die voetrusse is ook nie so hoog soos op die GSX-R nie en met die handvatsels wat nou breër en nader aan die ryer is, is die S ’n baie gemaklike fiets. Die instrumentepaneel is ’n LCD-eenheid wat ek ook op die Katana teëgekom het. Weereens is die menings verdeeld of Suzuki nie eerder ’n volkleur-TFT moes gebruik het nie, maar soos my een kollega opgemerk het: “Jy het net nodig om te sien hoe ver jy oor die spoedgrens is. Alle ander inligting is bloot akademies.”
Die S gebruik ook Suzuki se “Easy Start System”. Jy druk net die aansitter een keer en die enjin sal draai tot daar lewe is. Jy het nie nodig om die knoppie in te hou nie. Die enjinklank is uniek aan viersilinders en is redelik gedemp. Dit is natuurlik die Euro5-reëls se skuld. Die koppelaar is lig en soos ons na die hoofpad afgery het, kon ek voel die S is sommer lus vir galop. Hierdie is ’n kaalfiets; daar is dus geen windbeskerming nie. Daar is ook nie eers ’n opsie vir ’n skermpie nie. Dit is net jy, die wind en die krag in jou boarms wat sal bepaal hoe hard jy hierdie fiets sal druk. En hy is nie onwillig om hard gedruk te word nie.
Die snelskakeling werk seepglad, en soos met alle snelskakelingstelsels, hoe harder jy ry, hoe beter werk hulle. Sommer uit die staanspoor het ek die S baie geniet. Ons het eers rustig gery, maar soos ek meer vertroue gekry het, kon ek voel dat ek nie eers naby die fiets se vermoë ry nie – ongeag hoe hard ek probeer ry het. Na middagete was ons ’n kort tydjie in verkeer, maar selfs hier was die fiets in sy element.
Soos ek gesê het, die S is ’n kaalfiets met min fieterjasies. Die klem is op eenvoud, gemak en genot. As jy egter van ʼn meer bruikbare 1 000 cc-fiets soos die S hou, maar jy soek tog ʼn bietjie meer windbeskerming vir lang afstande, dan moet jy net nog so klein rukkie wag. Suzuki stel later die jaar die GSX-S1000 GT bekend, en dit lyk na ’n fantastiese sport-toerfiets. Suzuki is regtig besig om hulle stempel op die Suid-Afrikaanse mark af te druk, veral in die motorsegment. Ek sien uit om hierdie jaar nog nuwe Suzuki’s te ry!
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
4 Kommentare
Ek hou nie van die voorkoms nie, seker maar iets om aan gewoond te raak.
En wat kos hy ?
uhm mixed emotions, kan nie besluit of ek dit like of nie. die fairing voor pas nie. hou nie van dit nie. lyk soos n bike wat ander fietse se parte op het. smaak verskil seker maar.
dis asof al hierdie maatskappye try geld spaar en alles so minimaal laat lyk, verder betaal jy n arm en been vir iets.