Voertuigverkope beter as verwag

Die Toyota Hilux. Foto: Verskaf

Ondanks die onsekere politieke sentimente aan die vooraand van die algemene verkiesing, het voertuigverkope in April merkwaardig stabiel gebly.

Daar was selfs geringe groei in die passasiersmotorafdeling (3,9%) oftewel 935 eenhede vir ʼn totaal van  24 989. Ligte handelsvoertuie, daarenteen, het maar gesukkel en die totaal van 9 810 was 866 minder as in April ʼn jaar gelede.

Die uitvoerkomponent het egter fantasties presteer en die totaal van 33 090 eenhede was 53,8% beter as die 21 519 ʼn jaar gelede.

Onder die Toptien was Toyota (8 267) weer eens baas ondanks ʼn daling van nagenoeg 3 500 verkope teen Maart vanjaar. Hilux (2 411) was die algehele topverkoper met sterk steun deur RAV (839), en Fortuner op 816 verkope. Vir RAV was dit die eerste keer dat hierdie model deur die 800-kerf gebreek het.

Corolla Quest het ook mooi presteer met 436 verkope, maar Lexus LS (1), Lexus RC (1) en Toyota 86 (ook 1), sal moet sokkies optrek.

Die nuwe Volkswagen Tiguan (Foto: Volkswagen)

Volkswagen, tweede algeheel met 5 862, maak steeds staat op sy passasiersmotors waar Polo Vivo (2 350) die topverkoper was, terwyl Polo goed gevaar het en 1 165 verkope aangeteken het. Tiguan (442) en Golf 7 (391) het beïndruk, maar die rooi ligte flits vir Audi A3 Cabriolet (1), Audi A1 Sportback (1) en ʼn beskeie 3 verkope vir Jetta 6.

Terug in die derde plek algeheel ná ʼn maand waartydens hy Nissan se uitlaatgasse moes opruik, het Ford (3 461) sy tradisionele plek herower ondanks ʼn daling van nagenoeg 1 500 eenhede teenoor Maart (4 961). Oudergewoonte was Ranger (1 635), EcoSport (742) en Everest op 345 verkope die uitblinkers.

Nissan, vierde met 3 124 verkope, kan homself seker skop oor sy swak vertoning, want sy Maart-totaal was ʼn heel skaflike 5 417. Nissan is in ʼn mate gered deur Datsun GO (453), NP200 (715), en NP300 met 307 verkope. Navara sukkel steeds en sy totaal van 177 was maar beskeie.

Die Hyundai Kona. Foto: Verskaf

Hyundai bly gemaklik in die vyfde plek met ʼn totaal van 2 428 – gerugsteun deur Grand i10 (718), i20 met 346 verkope, en 372 nuwe eienaars vir Tucson. Kona het swak gevaar met ʼn beskeie 67 verkope, terwyl die duur Santa Fe se 38 verkope ʼn onderprestasie was.

Franse invoerder Renault (1 832) bly in die sesde plek onder die Toptien danksy sy goedkoper intreevlak-produkte soos Kwid (472) en Sandero II met 422 verkope.

Ondanks ʼn beperkte modelreeks bly Isuzu (1 548) stewig in die sewende plek met sy D-MAX-bakkie op 1 158 verkope en M-UX op ʼn nederige 47.

BMW (1 446) sal verheug wees dat hy die agtste plek algeheel beklee – en dit sonder enige bakkies in sy reeks. Dit is gemaklik beter as Mercedes-Benz (negende) se 1 149, en BMW se staatmakers is steeds 3-reeks (354) en 170 verkope van die plaaslik gemonteerde X-3. Die intreevlak-1-reeks het ook 144 nuwe tuistes gevind.

Die Mazda CX-5 2.2DE AWD Akera (Foto: Mazda)

In die tiende plek het Mazda (1 028) verras en danksy sy CX-5 (338) en CX-3 (321) toegesien dat KIA die lys verlaat.

Van die ander vervaardigers buite hierdie uitgelese groep, sal Jaguar/Land Rover moet besin oor sy 270 totaal – veral in die lig daarvan dat moedermaatskappy Tata die Britte as ʼn remskoen begin beskou. ʼn Ander invoerder vir wie die klok begin lui – Peugeot/Citroën – sal ook moet besef dat algehele maandelikse verkope van 69 eenhede net nie goed genoeg is nie.

Intussen gaan dit steeds goed met die superrykes onder ons, en het Porsche 105 eenhede verkoop, Lamborghini het 10 verkope aangeteken, terwyl Audi R8 (4), Bentley en Ferrari (6 elk) en Maserati met 5 verkope almal redelik tevrede kan voel.

Daar word verwag dat die Suid-Afrikaanse motorbedryf steeds sal voortgaan om staat te maak op sy uitvoerkomponent.

Die nuwe Volkswagen Polo Vivo (Foto: Volkswagen)

Toptien passasiersmotors

Volkswagen Polo Vivo  2 350

Volkswagen Polo  1 165

Toyota RAV  839

Toyota Fortuner   816

Ford EcoSport  742

Hyundai Grand i10  718

Renault Kwid  472

Datsun GO   453

Renault Clio IV  452

Ford Figo  426

Die Ford Ranger Wildtrak. Foto: Verskaf

Toptien ligte handelsvoertuie

Toyota Hilux   2 411

Ford Ranger  1 635

Toyota Quantum  1 238

Isuzu D-MAX  1 158

Nissan NP200   715

Nissan NP300   307

Hyundai H100   248

Mahindra Scorpio   208

Nissan Hardbody   208

Nissan Navara   177

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Chris Ws ·

En die arme VW Amarok? Nie eers meer onder die top 10 vir ligte handels voertuie nie.Die Nissan Nevara stof hom al uit as dit by verkope kom.

Vita ·

Dit ook net by verkope VW Amarok by die beste bakkie,as jy geld het koop jy hom,daar nie n beter V6 op die mark nie

willem Botha ·

Ek het al twee amakroks gehad 4 keer langs sie pad gebreek en moes ingesleep word Toyota hillux 2.8 gekoop nog nie een dag se probleme gehad nie en het al 150 000km afgelê

Wielspore ·

As gebruikte voertuie ingesluit word in April se verkope het totale verkope van alle voertuie heelwat gestyg en die mark het meer na gebruikte voertuie verskuif. Meer as 70 persent van alle voertuie wat verkoop word is gebruik en die oorblywende mark van 30 persent is nuwe voertuie. Dit beteken dat nuwe voertuie te duur word en mense eerder gebruik verkoop. Gedurende Maart het VW ‘n spesiale aanbieding op die Amarok gehad en daar is so baie verkoop dat daar tans ‘n tekort aan die 2.0 l diesel model is. Die VW T Cross word September bekend gestel en gaan na my mening nog ‘n groter aandeel van die SA motor mark kry. Die Mahindra XUV300 word ook binnekort bekend gestel en na wat verneem word gaan dit teen ‘n baie goeie prys verkoop word. Ek self was baie jare skepties oor die produk tot so ‘n maand terug en by ‘n handelaar was, Mahindra is ‘n vervaardiger om dop te hou, kwaliteit het heelwat verbeter en die XUV300 gaan goed doen. Lekker ry!

Wielspore ·

Die meerderheid dubbelkajuit 4×4 bakkies wat in SA verkoop word sien waarskynlik ‘n grondpad vir 14 dae. Die res van die tyd is dit teerpad met mamma agter die stuur (eina) om die kinders by die skool af te laai en winkels toe te gaan. Vir pappa is dit die status simbool en dat hy ook kan sê dat hy 4×4 het. Niks daarmee fout, ons Afrikaners doen dit, selfs Steve het sy decoder met sy Toyota plat gery. Die Amarok is ‘n moderne bakkie wat jou die rygerief van ‘n motor gee. Niks fout met die ander produkte, Suid Afrikaners is tradisie vas en hou by hulle brands.

Vita ·

Gaan kyk die toyota se goose test op youtube,dit nie baie goeie en veilige bakkie nie en toyota weet dit

Robert ·

Willem Botha, jy weet natuurlik presies hoekom die amaroks langs die pad staan, hoe oud hulle is en wat hulle al deur gemaak het. As jy wil vergelyk doen dit met gelyksoortige rygoed. Die Toyota sal nooit by die ry gemak van die amarok uitkom nie al probeer hulle wat. Dis goed as jy van jou toyota hou maar moenie die ander make afkraak net omdat hulle nie jou goedkeuring dra nie. Miskien moet jy gaan probeer uitvind wat was die rasionaal agter VW se besluit om die amarok op die mark te bring dalk sal jou siening verander.

Vita ·

Stem,ry genot en kwaliteit bou is Amarok voor almal,kyk maar gerus Safari 4*4 roetes ,Amarok 1 van die beste 4*4 stelsels op die mark

Johan ·

Dankie ejs klaar met Toyota. Ford 100 keer beter veral as dit kom by brandstof verbruik. Ag los tig net die ou ….storie van toyota hou sy waarde. Dis n ou ….storie

Fonnie ·

Ek het foto”s van ‘n Ford Ranger wat ‘n paare keer gerol het en sy lugsakke het nie eers geaktiveer nie

Siener ·

Dis n toyota probleem. Tot onlans het toyota n airbag recall gehad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.