Voertuigverkope daal skerp in April

Toyota se Prospecton-aanleg na die swaar reën (Foto: MISA)

Maart was ʼn fantastiese maand vir die Suid-Afrikaanse motorbedryf, maar April het talle uitdagings gehad wat tot ʼn daling in verkope gelei het.

Plaaslike verkope het vanjaar weer ʼn hoogtepunt bereik sedert die begin van die Covid-19-pandemie én uitvoere het die spiere gebult. In Maart is daar 50 607 voertuie plaaslik verkoop en 34 285 is uitgevoer. In April is slegs 37 107 plaaslik verkoop en 30 788 uitgevoer.

Die groot daling kan deels toegeskryf word aan die ramp wat Toyota getref het. Die swaar reënval en gepaardgaande vloede in KwaZulu-Natal het veroorsaak dat Toyota bedrywighede by sy Prospecton-aanleg in Durban moes opskort. Daar word hard gewerk om die fabriek weer in volle bedryf te kry.

Waar Toyota in Maart 15 008 eenhede plaaslik verkoop en 6 837 uitgevoer het, kon hy in April slegs 8 952 plaaslik verkoop en 3 629 uitvoer. Toyota se handelaarsnetwerk sal in die volgende maande steun moet vind met ingevoerde modelle.

Die sterkste presteerder in April was Suzuki. Die topverkopermotor in die passasiersegment in April was Suzuki se Swift met 1 621 eenhede – ʼn enorme prestasie. Suzuki sit nou stewig in die derde plek met 3 696 eenhede, ʼn rekord vir dié handelsmerk. Volkswagen sit steeds stewig in die tweede plek met 5 084 plaaslike verkope en ondanks al die uitdagings is Toyota eerste met 8 952 plaaslike verkope.

Die sterkste uitvoerders in April was Volkswagen met 8 349 eenhede, Mercedes-Benz met 7 047, BMW met 5 800, Ford met 5 063 en Toyota wat die topvyf afrond met 3 629.

In die bakkiesegment het Isuzu steeds sterk gestaan met 777 van hul Gen 6 D-Max-bakkies. Die sterkste ligte handelsvoertuie is Toyota Hilux met 2 788 verkope, Ford Ranger met 1 140, Nissan NP 200 met 966, Isuzu D-Max met 777, en dan volg 458 Mahindra Pik-ups en 435 Nissan Navaras.

Ligte handelsvoertuie, minder as 3 501 kg, het gedaal van 13 975 eenhede in Maart tot 9 558 eenhede in April. Mediumhandelsvoertuie tussen 3 501 kg en 8 500 kg het van 798 in Maart gedaal tot 475 in April. Swaar handelsvoertuie tussen 8 501 en 16 500 kg het minder geval van 546 in Maart tot 456 in April. Ekstraswaarvoertuie bó 16 500 kg het ook gedaal van 1 449 tot 931 eenhede in April en busse bó 8 500 kg was 34 in April teenoor 49 in Maart.

Dit is egter verstommend dat die mark gegroei het teenoor 2021, sê Mark Domisse, voorsitter van die Nasionale Motorhandelaarsvereniging (Nada). “Verkope in April 2022 oorskry dit van 2021 met 4,3% teen alle verwagting in as mens die nagevolge van die oorstromings, minder verkoopsdae weens vakansiedae en skoolvakansies, asook die aanhoudende tekort aan mikroskyfies in ag neem.”

Wesbank het intussen gesê hy begin verandering sien in die finansiering van voertuie. “Waar Wesbank twee gebruikte voertuie teenoor een nuwe voertuig finansier, begin dinge terugskuif in die guns van nuwe voertuie namate voorraad beskikbaar word, asook weens die tekort aan goeie gehalte tweedehandse voertuie,” sê Lebogang Gaoaketse, hoof van bemarking en kommunikasie by Wesbank.

“Wispelturigheid is die enigste konstante gegewe in die mark. Onbetroubare verskaffing is buite die vervaardigers se beheer; syfers groei wel jaarliks en dus is daar nie rede tot kommer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

krodedil ·

Ek wonder wat word van al die waterbeskadigde Toyota’s.

Wielspore ·

Koop ‘n nuwe Toyota en kry ‘n gratis Wet and Dry Electrolux stofsuier saam.

JohanR ·

Ek ook krodedil. Ek dink hulle word op gebreek, af gesmelt en dan word die staal en plastiek maar net weer gebruik. ‘n Kar wat onder wate was wil ek nie koop nie. Daai stink is net te veel!

Jenny ·

Of dalk kan mense net nie meer die buitensporige pryse van voertuie in SA bekostig nie??

Wielspore ·

Die berig is nie korrek, VW se Polo was die beste passasier voertuigverkoper in April met 1878 eenhede, dan die Swift met 1621 eenhede gevolg deur die Polo Vivo met 1547 eenhede.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.