Voertuigverkope: Die top-10 vir Julie

Die Toyota Hilux Dakar (Foto: Toyota)

Ondanks die aftakeling van sakevertroue deur roekelose politieke uitsprake, het verkope van nuwe voertuie in Julie steeds geringe groei gehandhaaf.

Totale verkope van 47 881 eenhede was 2,6% oftewel 1 210 eenhede beter as in die ooreenstemmende maand verlede jaar. Hierteenoor was totale uitvoere van 28 063 voertuie dramaties minder as in Julie 2017 toe 34 720 eenhede uitgevoer is.

Passasiersmotors het veral uitgeblink met 32 108 verkope – ’n verbetering van 4,3% (1 323 eenhede) teenoor ’n jaar gelede. Dit was veral die huurmotormark wat ’n groot bydrae gelewer het met 18,8% aankope van die totaal.

Die verkope van ligte handelsvoertuie, daarenteen, het met 2,3% gedaal tot 13 458 wat 311 eenhede minder is as in Julie verlede jaar.

Daar was ook verskeie skommelinge onder die sogenaamde toptien waar Ford sy podiumplek (derde) teruggekry het ten koste van Nissan, en KIA een plek opgeskuif het ten koste van BMW wat na die tiende plek afskuif.

Met ’n skittervertoning van 12 840 verkope staan Toyota weer eens heel bo op die podium danksy Hilux (3 373), Corolla/Auris/Quest op 2 047, en blink vertonings deur Fortuner met 1 006 verkope, gevolg deur RAV met ’n indrukwekkende 949 wat amper dubbel soveel as Volkswagen Tiguan (494) is.

Die Volkswagen Polo GTi. Foto: Verskaf

Volkswagen beklee oudergewoonte die tweede plek onder die toptien met ’n groottotaal van 7 691 – wat amper ’n duisend eenhede meer is as Junie se syfers. Volkswagen steun steeds swaar op sy passasiersmotors waar die immergewilde Polo die topverkoper was met 2 817, gevolg deur Polo Vivo op 2 321 verkope. Insiggewend ook dat Caravelle en Kombi gesamentlik net 81 verkope kon aanteken, teenoor Hyundai se H1 wat na 143 nuwe eienaars gegaan het – weer eens ’n bewys van Hyundai se prysvoordeel in hierdie segment.

Soos reeds gemeld, het Ford (4 856) sy derde plek algeheel herwin ten koste van Nissan – danksy Ranger (2 563), Figo se 808 verkope en EcoSport op 575. Verstommend dat Kuga 123 nuwe tuistes kon vind, terwyl Mitsubishi se ASX – in elke opsig ’n beter voertuig – net 19 verkope kon aanteken.

Nissan (4 530) wat kortstondig op die podium was, is in die vierde plek met NP200 (1 356), gevolg deur NP300 met 1 108 verkope en Almera met 377 eenhede wat nuwe tuistes gevind het.

In die vyfde plek het Hyundai (3 150) geen mededinger wat in sy nek blaas nie en is Grand i10 op 1 140 steeds die staatmaker. Ander goeie vertonings is gelewer deur Creta (597) en i20 met 651 verkope. Hierteenoor het die gewone i10 net een koper se hart gesteel!

Renault (1 829) beklee steeds die sesde plek ondanks ’n verkopedaling van meer as 600 eenhede. Onder sy presteerders was Kwid op 656 verkope, Sandero II op 505 en Clio IV met 412 eenhede wat verkoop is.

Mercedes-Benz beklee weliswaar die sewende plek met ’n totaal van 1 904, maar dis meer as 100 verkope swakker as in die vorige maand.

Isuzu, wat in die agtste plek is met ’n totaal van 1 656 (nagenoeg 300 minder as in Junie) het darem nog ’n model – MU-X – bygekry, terwyl die KB-bakkiereeks vir 1 165 verkope gesorg het teenoor die MU-X se redelik beskeie 76.

Die Picanto 1.2 Smart. Foto: Verskaf

Intussen blaas KIA (1 554) in Isuzu se nek, danksy goeie vertonings deur Picanto (893) en Rio met 303 verkope. Sportage het redelik gevaar met 183 eenhede wat verkoop is, maar grootboet Sorento sukkel maar aan met net vyf eenhede wat nuwe tuistes gevind het.

Vir KIA was die onttroning van BMW ook ’n prestasie, en sukkel laasgenoemde maar aan met ’n totaal van 1 479 verkope – ook sonder om aan te dui watter van sy modelle presteer en watter nie. Miskien vaar almal so sleg dat BMW sku is om dit aan die groot klok te hang.

BMW het rede tot kommer, want Suzuki (1 237) blaas in sy nek en staan ’n goeie kans om oor ’n maand of wat by die manne van München verby te seil om uiteindelik onder die toptien ’n staanplekkie te kry.

Onder die vervaardigers buite die toptien-dampkring vorder Mazda goed met ’n totaal van 1 230, terwyl Jaguar/Land Rover (378) sal wonder oor Junie se 486 verkope. Porsche staan oudergewoonte sterk op 85 verkope, terwyl Volvo teleurgesteld sal wees met Junie se 301 verkope wat nou net 222 was in Julie.

Intussen vier die superrykes onder ons steeds fees – soos weerspieël in verkope deur Maserati (nege), Bentley op agt en Ferrari met ses verkope. Audi R8 het net een koper oortuig om hom huis toe te neem.

Daar is steeds verskeie invoerders wat sal moet besin oor hulle bemarkingstrategieë – veral Subaru (70), Peugeot Citroën (82), en Fiat/Chrysler/Alfa wat met ’n uitgebreide modelreeks net 144 verkope kon aanteken.

Ten slotte: Daar word gevrees dat dreigende handelsoorloë ’n negatiewe uitwerking op voertuiguitvoer vanaf ons land mag hê, terwyl die binnelandse mark steeds stabiel bly – ondanks die jongste tendens wat daarop dui dat vir elke nuwe motor, 2,3 gebruikte voertuie verkoop word.

Top tien passasiersvoertuie

  1. Volkswagen Polo – 2 817
  2. Volkswagen Polo Vivo –  2 321
  3. Toyota Corolla/Auris/Quest –  2 047
  4. Hyundai Grand i10 – 1 141
  5. Toyota Fortuner – 1 008
  6. Toyota RAV – 949
  7. KIA Picanto – 893
  8. Toyota Etios – 830
  9. Ford Figo – 808
  10. Renault Kwid – 656

Top tien ligte handelsvoertuie

  1. Toyota Hilux – 3 373
  2. Ford Ranger – 2 563
  3. Toyota Quantum – 1 460
  4. Nissan NP200 – 1 356
  5. Isuzu KB – 1 165
  6. Nissan NP300 – 1 108
  7. Hyundai H100 – 281
  8. Volkswagen Amarok – 270
  9. Toyota Land Cruiser PU – 238
  10. Mahindra Scorpio – 236

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Piet Pompies ·

Nuwe voertuig verkope is ‘n uitbeelding van hoe gesond jou land se ekonomie is en met die effense styging gaan dit redelik met ons land se ekonomie. Interessant dat VW Polo en VW Polo Vivo weereens plekke geruil het as die beste verkopers van nuwe passasiers voertuie. Onlangs het ons na die nuutste Toyota Yaris en Ford Figo gekyk en altwee hierdie voertuie het groot geword en hoef glad nie terug te staan vir ander voertuie in hulle klas. Ons besit VW produkte en dit was nogal opmerklik dat die nuwe Yaris nogal swaar trek teen opdraendes in die Laeveld in vergelyking met die nuwe Polo Vivo. Uitstappies met beide die Yaris en Polo tussen dorpe het heelwat frustrasie gesorg vir die bestuurder van die Yaris deur die bergpasse. Die grappie tussen ons was dat jy die Yaris se verrigtinge nie in spoed meet nie, maar in enjin revolisies.

Gerrit ·

Dit is vir my verstommend hoe die rubriekskrywer so los stelling kan maak dat die MitshibushiAXS in ALLE opsigte ‘n beter voertuig is as die Kuga. Ek ry ‘n Kuga 2.0diesel AWD met drive assist opsie. Die ASX kan en ALLE opsigte nie eens kompeteer nie my ‘ou’ vriend. Doen jou huiswerk self en moet asb agter elke joernalis se geite en persoonlike voorkeure aanpraat nie! Verstommend…

Sies tog! ·

Ek stem saam met jou, weet ook nie hoe kan hy Kia met Isuzu vergelyk nie.

Enna ·

Ons verruil ons Kuga 2.0 diesel vir niks. Puik voertuig. Baie lig op brandstof.

Oom Piet ·

Goeie navorsings joernalistiek samevatting.
Vra ASB vir meer onderverdeling van totale verkope aan wie bv. Individue, Regering, Besighede, Vervoer, Beveiliging en Verhuurders, o- ja en hoeveel was hernude huurmotors/demo’s.

Pieter ·

Die enigste rede hoekom verkope verbeter het vergeleke met verlede jaar is omdat die vervaardigers en handelaars massiewe kortings en inruil bystand aan nuwe verkopers verleën. Sonder dit sou oor prys nuwe voertuie handelaars se vloere vol gestaan het.

Hendrik van George ·

Wat my verbaas is hoeveel Toyota RAV’s verkoop word met die bekendstelling van ‘n totale nuwe RAV slegs ‘n paar maande weg.

Chris Ws ·

En die VW Amarok kry steeds slae as dit by verkope kom.Maar Toyota,Nissan,Isuzu,Ford/Mazda het hulself deur die jare bewys .Die Amarok moet nog.En dan die prys . . . . .neewat.
Hou die Mahindra Scorpio dop.Daai voertuie is geweldig taai.Mense is verniet bang vir hulle want hier in ons omgewing ry hope rond en doen BAIE harde werk sonder probleme wat ek van weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.