Voertuigverkope in Augustus

Argieffoto Foto: Royalty-Free/Corbis

Argieffoto Foto: Royalty-Free/Corbis

Ondanks ʼn papperige ekonomie wat voortstrompel, het voertuigverkope in Augustus vanjaar met net 1.4% (767) eenhede gedaal teenoor Augustus verlede jaar se syfers. Weereens was dit die ligte handelsvoertuie wat die wa deur die drif gesleep het met ʼn verkopestyging van 2.1% (306 eenhede) vir ʼn totaal van 14 942 eenhede teenoor Augustus 2013.

Motors, daarenteen, het met 37 953 eenhede, ʼn daling van 2.7% jaar-op-jaar getoon. Hiervan was 79.8% aan handelaars, 13.1% aan die uithuurbedryf, 3.6% deur maatskappye se eie vlote en 3.5% aan die staat.

Onder die gebruiklike Top Tien, was Toyota weer eens baas met totale verkope van 10 949 eenhede wat ook verlede maand se algehele topverkoper – Toyota Hilux (3 238) – ingesluit het.

In sy gebruiklike tweede plek was weer eens Volkswagen wat op 8 617 eenhede verkoop, met bykans 1 100 eenhede geval het in vergelyking met Julie vanjaar.

Daar ‘s ook ʼn nuwe gesig op die laagste trappie van die podium waar Ford (6 778) daarin geslaag het om Associated Motor Holdings (6 126) na die 4e plek af te dwing.

In die 5e plek staan General Motors/Isuzu steeds sterk (5 723 eenhede), terwyl Nissan sy gebruiklike 6e plek (4 142) beklee.

Die 7e en 8e plekke behoort oudergewoonte aan Mercedes-Benz en BMW en hier is Mercedes-Benz baas met 2 839 verkope teenoor BMW se 2 744. Dis veral Mercedes-Benz se handelsvoertuie wat aan hom die voorsprong besorg het, want indien net passasiersmotors oorweeg word, wen BMW loshande die stryd met ‘n telling van 2 744 – 2 242.

In die 9e plek is steeds die enigste Franse invoerder – Renault – met 1 432 verkope, terwyl Honda weer sy potensiaal verwesenlik het deur meer as ʼn duisend eenhede (1 010) te verkoop.

Onder die individuele vervaardigers het Toyota sy sukses te danke aan Corolla/Auris/Quest (1 928), Etios (1 502), Fortuner (959) en RAV op 427. Laasgenoemde se vertoning is egter ietwat swakker as Ford se Kuga waarvan 540 eenhede verkoop is.

Ondanks ʼn ietwat teleurstellende maand, het Volkswagen steeds redelik vertoon danksy veral Polo Vivo (2 756) wat van hom dan ook die topverkoper passasiersmotor maak, asook Polo (2 267), Golf 7 (590) en ʼn hele reeks Audis wat ook mooi presteer het. Die A1 (207), A3 (458) en A4 (395) het almal hulle kant gebring. Hierbenewens het die Jetta 6 ook goed vertoon met 290 verkope.

Benewens die reeds vermelde Kuga, het Ford ook goed gevaar danksy Figo (1 181), Fiesta (887) en EcoSport (800). Die Focus (361) het ook goeie syfers behaal, maar dis weer eens die gewilde Ranger (2 312) wat Ford na die derde plek opgestoot het.

AMH se vertoning (geen individuele modelle word gerapporteer nie) was nie te wafers nie, maar hy bly steeds vierde ondanks ‘n daling van bykans 700 eenhede teenoor die vorige maand.

Die 5e plek word steeds beklee deur General Motors/Isuzu wat sterk steun op Aveo (655), Spark (873) en Cruze 300), asook sy Isuzu KB-reeks (1 166) en Chev Utility (1 368).

Dit het nou al tradisie geword dat Nissan nie sommer sy 6e plek sal afstaan nie, en weer eens is dit veral Qashqai (417), Almera (289) en X-Trail wat vir die prestasie sorg. Maar dit is ook Nissan se ligte handelsvoertuie wat hom in staat stel om sy 6e plek te behou. Hier is die uitblinkers veral NP300 Hardbody (892), NP200 (1 553) en die NV350 Taxi wat met 96 verkope stadig maar seker vordering begin toon.

Mercedes-Benz is ietwat gelukkig om sy 7e plek ten koste van BMW te behou, want dis net sy handelsreeks wat aan hom die voorsprong besorg het. In die mini-stryd tussen Mercedes-Benz se C-klas en BMW se 3-reeks, was BMW (1 212) die wenner in die lig van die C-klas se 1 082 eenhede wat verkoop is. Ander sterk presteerders vir Mercedes-Benz was M-klas (202), B-klas (195), CLA (162) en A-klas (185).

Benewens BMW se 3-reeks, het die 1-reeks (452), 4-reeks (243) en X3 (169) ook goed vertoon, maar in MINI geledere is dit net die Hatch (135) wat beïndruk. Die Clubman (1), Convertible (2) en Roadster, ook 2, laat nou nie juis die verkoopsmense jubel nie.

Ondanks ʼn verswakking in verkope van bykans 200 eenhede teenoor Julie, is Renault steeds in ʼn gunstige posisie danksy Clio (394), Duster (334) en Sandero II (411).

Na ʼn aantal sukkelmaande waartydens verkope soms tot onder 700 eenhede gedaal het, het Honda weer mooi herstel danksy Jazz (256), Brio (300) en CR-V (195).

Onder die vervaardigers wat nie die Top Tien-klassifikasie gehaal het nie, was daar verskeie uitblinkers soos Jaguar/Land Rover se Range Rover Sport (142), Mitsubishi ASX (109), nuweling Mitsubishi Mirage (179), en Porsche Macan (68).

Chrysler SA doen ook heel goed met sy Grand Cherokee (214), terwyl Subaru se betroubare Forester (47) darem steeds beursies oopmaak. Die Swift (192) verbly steeds harte by Suzuki SA, terwyl Volvo se beskeie 232 vir Augustus aangehelp word deur V40 (87).

Onder die voertuie wat, na my mening, onderpresteer ten opsigte van verkope is dit veral Citroën se puik C4 Picasso (8) en Volkswagen se Amarok-bakkies (262) wat veel beter verdien.

Opsommend
Daar word verwag dat nuwe voertuig-verkope steeds maandeliks geringe dalings sal ervaar, veral in die lig van gerugte van verdere rentekoersverhogings. Suid-Afrika bly nou eenmaal bakkiewêreld en hierdie marksegment sal steeds geringe groei toon – al is dit ten koste van passasiersmotors.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johnnie ·

Ek wil net graag weet waar op die ranglys le hyundai en kia motors en bakkies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.