Voertuigverkope staan steeds stewig

Die Volkswagen Polo Vivo (Foto: Volkswagen)

Ondanks voorspellings deur doemprofete het Julie se voertuigverkope ʼn geringe verbetering getoon teenoor die Junie-syfers. Die plaaslike totaal van 46 077 bestaan uit 29 477 passasiersvoertuie en 13 852 ligte handelsvoertuie.

Onder die toptienpresteerders staan Toyota (9 747) oudergewoonte in die eerste plek, ondanks ʼn afname van meer as 2 000 eenhede. Toyota se presteerders is Hilux met 2 996 verkope (teenoor Junie se 4 770). Daarbenewens het Fortuner (810) en Etios met 762 verkope ook goed gevaar.

Hilux is steeds die algehele topverkoper in Suid-Afrika.

In die gebruiklike tweede plek word Volkswagen (7 549) sterk gesteun deur Polo Vivo (2 621) en Polo (2 076), terwyl Tiguan ook goed presteer het met 595 verkope. Die maatskappy se 252 Amarok-verkope bly egter ʼn bron van kommer.

Ondanks ʼn verbete aanslag deur Ford (4 289), bly Nissan (4 820) steeds in die derde plek danksy sy ligte handelsvoertuie soos NP200 (1 730) en NP300 (982). Nissan se passasiersmotors soos Datsun GO (548) en Almera (466) het ook die maatskappy se derde plek beskerm.

Die reeds vermelde Ford bly in die vierde plek en vestig, soos altyd, sy aanslag op Ranger-verkope (2 217). EcoSport (839) en Figo se 523 verkope het ook ʼn bydrae gelewer, terwyl 36 kopers vir Mustang gestem het.

Hyundai (2 787) bly in die vyfde plek algeheel danksy Grand i10 se 654 verkope en 356 kopers wat vir die Tucson gestem het.

Ondanks ʼn agterstand van meer as 700 verkope teenoor Hyundai nadat hy in Junie in die Koreaan se nek geblaas het, het Renault steeds die sesde plek behou met ʼn 2 048 totaal.

Renault se sterre was Kwid (768) en Sandero II met 581 verkope.

Met ʼn beperkte aantal modelle, klou Isuzu (1 723) steeds aan die sewende plek, danksy D-MAX (1 692), terwyl KIA – wat in Junie buite die toptien-gradering beland het – goed teruggeveg het met ʼn totaal van 1 599 verkope. KIA (agtste en 1 599 verkope) se sterre was Picanto (800), Rio op 300 verkope en Sportage (250).

ʼn Invoerder om dop te hou, Suzuki, beklee gemaklik die negende plek – een swakker as in Junie, maar met ʼn indrukwekkende totaal van 1 577 verkope. Die aanslag is gelei deur Swift (635), Celerio (255) en 127 Ertiga-verkope. Die ikoniese Jimny se verkope word grootlik deur voorraadbeskikbaarheid bepaal, maar het darem op 81 eenhede te staan gekom.

In die laaste plek, een posisie swakker as in Junie, was BMW se 1 284 verkope goed genoeg om sy tradisionele mededinger – Mercedes-Benz (1 058) – uit die toptien te hou.

BMW het, soos altyd, gesteun op 3-reeks (456), X3 (128) en X5 op 140 verkope.

En dan is daar die invoerders wat buite die toptien staan, maar wat desondanks as nisprodukte presteer.

Hier is dit veral Porsche (164), Haval (993) en Mazda wie se 1 065 verkope hulle vasbeslote maak om die terrein te herwin wat hulle aan Suzuki afgestaan het.

In die eksklusiewe mark waar motorpryse in veelvoude van miljoene aangedui word, het Ferrari (9), Bentley (7), Maserati (6) en Lamborghini (1) die pas aangegee.

Daar is egter invoerders wat sal moet sokkies optrek, en hier geld dit veral vir Jaguar/Land Rover (343), Subaru met 84 verkope en Volvo (186) wie se topverkoper die XC60 81 nuwe eienaars gekry het.

Intussen sukkel binnelandse verkope, terwyl uitvoere volstoom vorder – soos bewys deur die 34 297 voertuie wat in Julie uitgevoer is – ʼn aansienlike verbetering teenoor Junie se 30 604 uitvoere.

TOPTIENPASSASIERSMOTORS

Volkswagen Polo Vivo  2 621

Volkswagen Polo   2 076

Hyundai i20  863

Ford EcoSport  839

Toyota Fortuner  810

KIA Picanto  800

Renault Kwid  768

Hyundai Grand i10  654

Suzuki Swift  635

Toyota Corolla Quest  608

TOPTIEN LIGTE HANDELSVOERTUIE

Toyota Hilux  2 996

Ford Ranger  2 217

Nissan NP200  1 730

Isuzu D-MAX  1 692

Toyota Hi-Ace  1 560

Nissan NP300  982

Toyota Land Cruiser PU  263

Volkswagen Amarok  252

Hyundai H100  216

GWM Steed  188

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Alfred ·

Hou in gedagte die Amarok is ‘n duur luukse lewenstylbakkie wat net in dubbelkajuit beskikbaar is en nie 40 of 50 enkelkajuitmodelle insluit nie. Met dit in gedagte is die verkope goed.

Dries du Toit ·

Skies,word Amarok enkel kajuite nie meer gemaak nie?

Wielspore ·

Stem saam met Albert se kommentaar oor die tipe mark van die Amarok, en ja, die enkelkajuit word nie meer in SA verkoop.
Eendag is ek groot is, gaan ek ook ‘n Amarok koop want hy is lig op brandstof en hy ry baie lekker. Geen probleem met die Toyota en Ford, hulle bedien hulle mark, my keuse is die Amarok.

koos ·

Dis die Quantum soos ons hom nou ken. Die nuwe is vrygestel maar die ou een word onder die Hi Ace naam voort gebou. Dink VW Polo Vivo.

Boer ·

Waar kry mense al die geld om nuwe voertuie te koop?

En ons kla.

Wanneer ek die kinders by die skool oplaai parkeer ek eenkant. Die hoë 4×4’s kyk af na my ou Tazz wanneer hulle maak of hulle my nie sien nie. Totdat ek hulle met iets moet kom help.

Chris Ws ·

Wat insiggewend vir my is is dat die Toyota Fortuner sy effe goedkoper kleinboet die RAV 4 ver oortref met verkope!
Die Nissan NP 200 doen baie goed maar dis net ‘n karretjie met ‘n bak agter wat geskik is vir die dorp.Kan nie die werk doen wat Hilux ‘e , Rangers ,Isuzus, NP 300 ‘s doen nie maar nou ja hy kos ook baie minder.Feit is hy staan sy ouboet die ou Nissan 1400 se skoene vol.

Cherokee ·

Ek sien elke dag hoe duisende voertuie van skepe afgelaai word, en wonder dikwels waar al daardie karre heen gaan. Hierdie artikel gee egter die antwoord daarvoor. Benewens wat hier verkoop word, word vragte daarvan oor die grense geneem na die buurstate.

zoom zoom ·

Hoeveel van die voertuie is deur die SA Weermag aangekoop. Want as jy sien geen ou tipe voertuig wat deur weermag lede bestuur word. Dit wil voorkom dat as ‘n weermag voertuig vuil is, word ‘n nuwe voertuig gekoop inplaas om iemand te kry om die vuil kar te was. Weermag karre en laws word net vir privaat doeleindes gebruik

Poot ·

@Chris Ws
Die NP200 kan GLAD NIE met die ou 1400 vergelyk word nie. Was en is nogsteeds ‘n ikoon. Die NP200 het ‘n Renault enjin in. Dis glad nie n Nissan nie.

Chris Ws ·

Poot jys heeltemal korek.Die NP 200 is ‘n Renault en dra NET die Nissan “badge”.Ek persoonlik sal die NP 200 NIE koop nie.

Wielspore ·

Puik berig, Bernard is die enigste verslaggewer oor motors wat opgemerk dat Toyota omtrent 2000 minder voertuie in Julie verkoop het. In die motor handel is soveel minder verkope in een maand ‘n groot verlies vir die maatskappy. Die rede daarvoor is onbekend want die wat weet is doodstil.
Ons is van voorneme om ‘n T Cross te koop as dit op 21 September bekend gestel word en het gister ‘n kwotasie van die handelaar gekry. Omdat die eerste groep beperkte getalle is wat ingevoer word kry die VW handelaars min vooraad wat beteken dat wat jy moet vat wat jy kry.
Ek dink ook die T Cross gaan sy markaandeel by ander vervaardigers afneem, sy prysklas plaas hom net bokant die nuwe Polo wat ‘n strategiese belsluit van VW was om te verhoed dat hy Polo vekope aan die T Cross afstaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.