Volkswagen dink strategies met dié plan

(Foto: Verskaf)

Volkswagen se kommersiële voertuigafdeling is die toesighouer van al die kommersiële voertuie in sy stal. Dit sluit in die Amarok, die T-reeks (Kombi & Caravelle) en die Caddy.

Een van die vervaardiger se strategiese planne vir die handelsmerk is nou om ʼn gesiene rolspeler in die R10 miljard-begrafnisbedryf te word.

Volkswagen het tans drie kommersiële voertuie wat deur gekose verskaffers vir enige doel pasgemaak kan word. Die basisvoertuie is sy Caddy, Transporter en Crafter.

Aan die einde van die jaar sal die nuwe Amarok bekend gestel word en by die ander drie in die portefeulje gevoeg word.

Volkswagen geniet tans enorme markaandeel wanneer dit kom by ambulanse. Die jongste plan word op dieselfde model gegrond, aangesien Volkswagen se kommersiële voertuie vir praktiese doeleindes eintlik ʼn skoon lei is. Die aangewese ombouers weet presies hoe die voertuie aangepas kan word, sonder om die waarborg te beïnvloed.

In die begrafnisbedryf is daar verskeie voertuie wat benodig word. Twee voorbeelde hiervan is die voertuig wat gebruik word om oorskot by die plek van afsterwe te gaan afhaal, en die ander is die lykswa. Sommige gebiede benodig 4×4-voertuie sodat daar by ʼn bestemming aangekom kan word.

(Foto: Verskaf)

Spesifieke voertuie kan ook omgebou word vir die repatriasie van oorskot uit die buiteland, indien nodig.

Volkswagen beskou die model soos volg: Pleks van eers die voertuig by ʼn handelaar aanskaf en dan aan ʼn ombouer besorg, kan jy nou regstreeks by een van die 109 Volkswagen-handelaars landwyd aanklop en jou behoeftes met die verkoopsagent bespreek.

Hulle sit dan die wiel aan die rol met die regte diensverskaffers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.