Volkswagen voltooi hul sportnutsaanbieding met die T-Roc

(Foto: Verskaf)

Die sportnutsvoertuigsegment in Suid-Afrika het vanaf 2015 tot 2019 met 44% gestyg. Suid-Afrika was nog altyd lief vir hul vierwielaangedrewe sportnutse, maar dié segment begin nou ontplof. Soos mense minder en minder sedanmotors koop, skuif hulle oor na sportnutse toe.

Volkswagen het hul eerste sportnutsvoertuig die Touareg genoem – en só het elke sportnuts daarna ʼn T-naam gekry. Ons het al ʼn geruime tyd die Touareg, toe kom die Tiguan, gevolg deur die Tiguan Allspace met sy sewe sitplekke, toe die T-Cross en aan die einde van die jaar sal ons die vyfde en finale sportnuts van VW sien – die T-Roc.

Daar is reeds ʼn T-Cross in SA beskikbaar, en Volkswagen spook al maande lank om die 1.0 TSI Trendline-handratmodel in te bring, want hulle wil hom onder R300 000 aan die mark beskikbaar stel. Ongelukkig het Covid en die euro ander planne. Dié modelletjie sal in Oktober te koop wees. In Augustus sal ʼn mens die reeksleidende T-Cross kan koop met sy 1.5 TSI-enjin en 110 kW. Ek is opgewonde oor dié model, want die 1.0 voel vir my effe pap hier op die platorand.

Die T-Roc sal in November te koop wees, en ons sal twee enjins in Suid-Afrika kry: ʼn 1.4 TSI met 110 kW en ʼn 2.0 TSI met 140 kW. Die 2.0 TSI is ʼn 4MOTION-model met vierwielaandrywing. Vreemd genoeg loop net die 2.0 TSI met VW se gewilde DSG-dubbelkoppelaarratkas, en die 1.4 kry ʼn 8-spoed outomatiese ratkas met ʼn wringkragomsitter.

Kliek hier om jou eie T-Roc te bou en om meer te lees oor die toekomstige model. Volkswagen kan ongelukkig nie vir my enige pryse van die toekomstige modelle bevestig nie weens die uiters wispelturige wisselkoers.

Die twee reekse sal só lyk:

Volkswagen T-Cross 1.0TSI 70 kW Trendline-handrat
Volkswagen T-Cross 1.0TSI 85 kW Comfortline
Volkswagen T-Cross 1.0TSI 85 kW Highline
Volkswagen T-Cross 1.5TSI 110 kW R-Line

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/120 000 km-waarborg en 3 jaar/45 000 km-diensplan.

Volkswagen T-Roc 1.4TSI 110 kW Design
Volkswagen T-Roc 2.0TSI 140 kW 4MOTION DSG DESIGN
Volkswagen T-Roc 2.0TSI 140 kW 4MOTION DSG R-Line

Die T-Roc word gedek deur ʼn 3 jaar/120 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.