Volvo C40: Indrukwekkend, maar hoekom?

Volvo is bekend vir sy uiters veilige motors. Die 850-stasiewa wat in die negentigerjare die Europese renbane aan die brand gejaag het, was my gunsteling! Die afgelope dekade het Volvo se rigting tog vir my effens duister geraak. Terwyl die XC90 een van die pragtigste sportnutsvoertuie is, was hul enjins kwaai op brandstof – teenstrydig met die groen rigting wat Volvo ingeslaan het.

Nou sit ons met die jongste C40 – basies ʼn vierdeurkoepeeweergawe van die XC40. Tog ʼn mooi ontwerp, maar ek dink die gewone XC-bakstyle met beter kopruimte in die agtersitplek is meer prakties. Verder is die binneruim pragtig gemaak met luukse materiale, en uiters prakties uitgedink met enorme stoorplek in die deurkaarte en dies meer.

Ek is egter nie die grootste liefhebber van die nuwe Google-sagteware wat die inligtingstelsel gebruik nie. Verder is die binneruim met verskeie luukshede toegerus wat die Volvo C40 uiters gemaklik maak om mee saam te leef.

Die C40 is toegerus met Volvo se Twin-dryfstelselkonfigurasie. Dit is twee elektriese motors wat ʼn asemrowende 300 kW en 660 Nm bied. Dit slaan letterlik mens se asem weg. Maar nou moet ek vra: hoekom!? Is elektriese voertuie nie juis vir diegene wat die omgewing wil bewaar nie? ʼn C40 met ʼn enkelmotor, ongeveer 120 kW en 300 Nm, sou ligter wees in terme van massa, asook ligter op kragverbruik. Die C40 kan 100 km/h haal in ʼn blitsige 4,7 sekondes en is, soos alle Volvo’s, beperk tot ʼn topspoed van 180 km/h.

Volvo beweer ʼn reikafstand van tussen 285 en 585 km. Daai gaping is verskriklik wyd. Met klomp langafstandritte teen hoë snelheid is die laagste afstand waarskynlik. Ek dink in Suid-Afrika is ʼn reikafstand van 350 km billik, maar ʼn enkelmotorweergawe met die groot battery sou beter vaar.

Ek het tydens my week met die Volvo een keer by ʼn vinnige laaier ingeprop, maar die res van die tyd by die huis in die motorhuis direk in die muurprop en ek het hom die Maandag ná ons toetstydperk op 100% vir Volvo teruggegee.

Op die pad toer die C40 soos ʼn droom, en die ritgehalte is goed genoeg op die enorme 20″-wiele. Die padhouvermoë is puik, en in pure Volvo-styl is die C40 met elke denkbare veiligheidstelsel toegerus.

Dit laat my bietjie besluiteloos. Ek hou van die voertuig, maar dink die enorme krag is onnodig, en ek weet dat die enkelmotormodel heelwat goedkoper is en moontlik net-net onder die R1 miljoen-kerf sou inkom. Dit sou ʼn meer aanloklike opsie wees.

Die C40 lyk só:

Volvo C40 Recharge Twin Motor UltimateR1 324 000

Die reeks word gedek deur ʼn vyfjaar/100 000 km-voertuigwaarborg en ʼn agtjaar/160 000 km-batterywaarborg, asook ʼn vyfjaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Mercedes-Benz EQA250 Progressive140 kW/385 Nm429 km-reikafstand2 jaar/onbeperkte km-voertuigwaarborg

8 jaar/160 000 km-batterywaarborg

5 jaar/100 000 km-omvattende instandhoudingsplan

R1 176 350
BMW iX1 xDrive30 xLine230 kW/494 Nm440 km-reikafstand2 jaar/onbeperkte km-voertuigwaarborg

8 jaar/160 000 km-batterywaarborg

5 jaar/100 000 km-omvattende instandhoudingsplan

R1 205 000

Die Mercedes-Benz EQA het na my mening die regte hoeveelheid krag vir ʼn elektriese stadsbuks. Die iX1 is weer bitter mooi, en goedkoper as die Volvo met middelslagkrag. Indien jy die mark verken vir ʼn elektriese voertuig, toetsbestuur beslis almal; jy sal een bó die res verkies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Vonkprop ·

So baie geld vir so klein karretjie? Waar was die dae toe gesogte rooi sportmotors R1 miljoen gekos het en ons almal hulle begeer het op ons plakkate teen die muur en hoe baie R1 miljoen geklink het. Nou kos ‘n nuwe warmgemaakte Golf al amper R1 miljoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.