Daar is wêreldwyd ʼn beweging om oor te skakel na “skoner energie” en die vrystelling van koolstofdioksied te beperk. Dit sluit in wetgewing wat die gebruik van elektriese en hibriede motorenjins bo dié van binnebrandenjins bevorder.
Europese lande het selfs so ver gegaan om die gebruik van binnebrandenjins in sekere stede vanaf 2025 te verbied en motorvervaardigers skarrel nou om hibriede en elektroniese modelle op die mark te kry. Volvo is een só ʼn vervaardiger en beplan om teen 2030 slegs elektriese voertuie te vervaardig.
Dié wetgewing word egter deurgevoer sonder om in ag te neem wat die gevolg vir motorvervaardigers kan wees en die uitkring-effek op ontwikkelende lande, wie se paaie nie ideaal is vir elektriese voertuie nie, is enorm.
Die wedren teen tyd het ook dikwels die onvoorsiene gevolg dat gehalte in die slag bly en in sommige gevalle selfs meer nadelig is vir die omgewing as binnebrandenjins.
Volvo het onlangs die XC90 B6 bekendgestel. Dis ʼn pragtige motor met ʼn elegante ontwerp, sewe sitplekke en ʼn fantastiese, luukse binneruim en afwerking, maar hy is bitter swaar op petrol.
- (Foto: Verskaf)
- (Foto: Verskaf)
Die XC90 B6 het ʼn 2.0 viersilinder-turbopetrol-enjin, ʼn paar batterye en ʼn elektriese motor. Die motor sukkel egter om teen ʼn normale spoed 13 ℓ/ 100 km te handhaaf. Die enjin bied nou wel 220 kW en 420 Nm, maar maak gebruik van ʼn turbo- én superaanjaer. Dit beteken die oomblik wat jy enigsins van die krag gebruik maak word die motor buitensporig swaar op brandstof.
Ek het ʼn wyle gelede ʼn BMW X7 M50d op die pad getoets. ʼn Lang, slap, sewe sitplek sportmotor – mét ʼn dieselenjin. 294 kW en 760 Nm en 0 – 100 km in 5,4 sekondes. Dit is 1,3 sekondes vinniger as die Volvo – en 70 km/h vinniger op topsnelheid. Die motor is boonop aansienlik ligter op brandstof.
Op ʼn 60 km rit lughawe toe in die Volvo kon ons net-net 12 ℓ/ 100 km handhaaf. Die BMW kon op dieselfde pad 6 ℓ/ 100 km haal. Die BMW produseer 192 g/km Co2, en die Volvo 170, maar die Volvo gebruik twee keer soveel brandstof, al is die BMW sterker.
Ek stry nie dat die Volvo ʼn pragtige motor is nie, mooi aanmekaar gesit, gemaklike sitplekke, lieflike ritgehalte en uiters veilig. Die Volvo sal egter vinniger moet oorskakel na ʼn volle elektriese handelsmerk, want hul binnebrandenjins is ver agter die kompetisie in terme van brandstofverbruik, al is hul koolstofvoetspoor minder. Ek is ook oortuig indien die vervaardiging van die battery én die kwaai brandstofverbruik van die Volvo in ag geneem word, dit eenvoudig skoner en goedkoper is om een van die Duitse diesels te oorweeg.
Dit is maklik om die XC90 op te som. Dit is ʼn pragtige ontwerp en uiters luuks en praktiese binneruim – maar die brandstofverbruik is onaanvaarbaar. Hibriede voertuie is veronderstel om werklik lig te wees op brandstof. Die WLTP toetssiklus laat die voertuie nou wel in ʼn laboratorium goed lyk, maar in die werklikheid is die teenoorgestelde waar.

Die reeks lyk só:
Volvo XC90 B5 AWD Momentum | 183 kW/ 350 Nm | 7,1 ℓ/ 100 km | R1 237 084 |
Volvo XC90 B5 AWD R-Design | 183 kW/ 350 Nm | 7,1 ℓ/ 100 km | R1308 494 |
Volvo XC90 B5 AWD Inscription | 183 kW/ 350 Nm | 7,1 ℓ/ 100 km | R1 308 984 |
Volvo XC90 B6 AWD R-Design | 220 kW/ 420 Nm | 7,4 ℓ/ 100 km | R1 365 050 |
Volvo XC90 B6 AWD Inscription | 220 kW/ 420 Nm | 7,4 ℓ/ 100 km | R1 365 550 |
Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/ 100 000 km waarborg en omvattende instandhoudinsplan.
Die kompetisie lyk só:
Land Rover Discovery Sport P300e R-Dynamic HSE | 227e kW/ 540 Nm | 2,1 ℓ/ 100 km | 48 g/km | 5 jaar/ 100 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplan | R1 449 900 |
Lexus RX450h SE | 230e kW/ 335+e Nm | 5,7 ℓ/ 100 km | 131 g/km | 7 jaar/ 105 000 km voertuig waarborg en omvattende instandhoudingsplan 8 jaar/ 195 000 km batterywaarborg | R1 492 300 |
BMW X5 xDrive45e xLine | 290e kW/ 600 Nm | 2,5 ℓ/ 100 km | 56 g/km | 2 jaar/ onbeperkte km waarborg 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan | R1 581 000 |
Hier is slegs hibriede mededingers gelys. Die Volvo en Lexus gee nie reikafstand slegs op battery nie – maar die BMW kan 86 km en Land Rover 61 km loop slegs op batterykrag sonder die binnebrandenjin. Tussen dié mededingers, is die BMW X5 en die Land Rover beslis nie ʼn slegte opsie nie. Die Lexus bied egter die gehalte van die Volvo, en het daai lieflike, romerige V6-petrolenjin.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
5 Kommentare
Wat van mense soos ek wat nie kan of wil nuwe motors koop nie? Elektriese motors se batterye hou nie lank nie. Ek kannie dink dat my 15 jaar oue motor nog oraait sou wees as hy batterye gehad het nie. En daai batterye is peperduur.
Batterye? En met watse elektrisiteit gaan jy hulle laai? Eskom se steenkoolkrag, wat in elk geval net af en aan beskikbaar is. En jy ry miskien 150km, dan is die batterye papperye. Stop vir 12 ure om die spul te laai. Jy gaan vir 10 dae lank Kaap toe ry.
ek kan nie sien dat die hibriede Discovery en x5 2.5l n 100 km kry nie