VW het diep wortels in SA geskiedenis

Op 31 Augustus 1951 het Mel Brooks, die besturende direkteur van die nuutgestigte SAMAD (South African Motor Assemblers and Distributors) nie die vaagste benul gehad van die invloed wat sy maatskappy op Suid-Afrika en sy mense sou hê toe die eerste Volla van die produksielyn afgerol het nie.

Die oorspronklike aanleg is in 1946 op 20,2 ha gebou wat vir R2 500 op die buitewyke van Uitenhage gekoop is. Altesaam 320 mense is in diens geneem, en die Studebakers is uitgeryg. Die vyftigerjare sien ook voertuie soos Austins, Vollas en Kombi’s. In 1956 is R1 miljoen belê in ʼn nuwe verfwinkel en onderdelestoor. Op 21 Januarie 1959 ry die 25 000ste Volkswagen van die produksielyn af in Uitenhage.

In die sestigerjare kom die Volla, Tipe 2-Kombi, paneelwa en bakkie, Tipe 3-sedan, Variant en Fastback, Audi Super 90 en Volkswagen se 411 en 412. Die Volla is die topverkoper in Suid-Afrika vir die derde agtereenvolgende jaar en in ’63 weer vir die sesde agtereenvolgende jaar.

Die jaar 1963 sien ook die verskyning van die 100 000ste Volkswagen, ʼn Kewer. In 1964 besluit SAMAD om R8 miljoen te belê om ʼn enjin-en-drukaanleg op die been te bring. In 1965 sluit Studebaker sy deure en die Uitenhage-aanleg staak alle produksie van Studebaker-voertuie. In 1966 besluit die aandeelhouers om SAMAD se naam te verander na VWSA, Volkswagen of South Africa Limited. In 1967 kondig VWSA se raad aan dat ʼn ooreenkoms met Auto Union GmbH gesluit is om Audi-voertuie vanaf 1 Januarie 1968 in Suid-Afrika te bou en te versprei.

Deur die sewentigerjare bly die Vollas van die lyn afrol … tot in 1979. Onder meer word die Kombi, paneelwa, bakkie, Audi Super 90, Tipe 4, Audi 100 en Coupé S, verskeie Jeep- en Volvo-voertuie en uiteindelik die gewilde Passat-sedan, luikrug en stasiewa vanaf 1974 vervaardig. Vanaf 1975 kom Audi 80’s by. In 1978 is ʼn reusedraaipunt vir Volkswagen bereik met die bekendstelling van die heel eerste Golf, die Mk1!

In 1973 vier Volkswagen ʼn rekordjaar en word Suid-Afrika se topverkoper met 36 315 verkope, waarvan 21 034 Kewers is. Op 24 Oktober 1974 ry die 250 000ste Volla van die produksielyn af. Dit is ʼn Lux Bug. In Februarie 1975 is die 500 000ste voertuig in Uitenhage, naamlik ʼn Audi 100 Coupé S, gebou én die 10 000ste Passat word vervaardig. In September is die 100 000ste Transporter vervaardig, 20 jaar ná sy bekendstelling in Suid-Afrika. In Mei 1978 stel Volkswagen die eerste Golfie bekend, en dis onmiddellik ʼn reusesukses. 18 Januarie 1979 is die einde van ʼn era. Die laaste Kewer ry van die lyn af in Uitenhage. In April rol die 20 000ste Golf van die lyn af. In Augustus 1979 maak die 60 000ste Passat en 30 000ste Golf hul verskyning. Dit is vyf jaar ná die bekendstelling van die Passat, en slegs 15 maande ná die bekendstelling van die Golf.

Peter Searle bly aan die stuur van sake by VWSA deur die tagtigerjare. Volkswagen belê ʼn verdere R46 miljoen in uitbreiding. In 1981 lewer Uitenhage die 50 000ste Golf en 25 000ste Audi. In dieselfde jaar vlieg dr. Otto Hohne van Duitsland na Suid-Afrika om die 750 000ste Volkswagen van die lyn af te ry. In 1984 stel VW die gewilde rooi, blou en geel Citi Golf bekend. In dieselfde jaar begin VWSA die Golf II verkoop. In 1985 is die Jetta II bekendgestel en laat in die jaar sluit die uiters gewilde Jetta CLi en Passat CLi by die reeks aan. In November 1986 word ʼn Golf II die miljoenste voertuig wat in Uitenhage vervaardig word.

In VW-terme is die negentigerjare glad nie só lank terug nie. In 1991 maak VWSA ʼn moderne motorsport-werkswinkel in Uitenhage oop. In 1992 stel Volkswagen drie begrotingsbuksies bekend, die Citi Golf Shuttle, Fox Trippa en die Caddy-bakkie.

In Augustus 1992 is die eerste vierwielaangedrewe model in Uitenhage vervaardig, ʼn Audi S4 Quattro. In November 1992 word die Golf en Jetta III bekendgestel. In 1995 stel VW die Citi Chico, Citi Blues en 2.6i Microbus bekend. In 1995 stel Audi die lankverwagte A4 bekend. In Mei 1996 stel die aanleg in Uitenhage ʼn rekord op met 7 313 voertuie in een maand. VWSA stel die uiters gewilde Polo Classic in 1996 bekend en sy luikrug-boetie, die Playa, in 1998. In September 1999 begin VWSA die Jetta IV vervaardig.

In Februarie 2001 word die 75 000ste uitvoer-Golf IV vervaardig. In April 2001 word die laaste A4 in Uitenhage vervaardig. Sedertdien word alle Audi-voertuie ingevoer. In Junie 2002 word die laaste T3 Microbus vervaardig – ná 47 jaar. In Maart 2003 word ʼn silwer Jetta IV die twee miljoenste voertuig wat by Uitenhage vervaardig word. Die jaar 2004 lewer ʼn rekordtal van 88 488 voertuie. In Augustus 2009 verlaat die laaste Citi Golf die lyn. Daar is altesaam 517 384 Mk1 Golfies gebou. Oktober 2009 was ʼn nuwe rekordmaand met 15 131 voertuie.

In Februarie 2010 begin Uitenhage die Polo Vivo vervaardig. In Januarie 2010 word die nuwe Polo-luikrug bekendgestel en Uitenhage word die enigste vervaardiger en uitvoerder van regterhandstuur-Polo’s ter wêreld. In Junie maak VWSA die R230 miljoen-onderdeleverspreidingsentrum in Centurion, Gauteng, oop. In Mei 2014 word die 500 000ste EA111-enjin vervaardig en die twee miljoenste enjin by Uitenhage. In Oktober 2015 is die 500 000ste Polo Cross, vir ʼn kliënt in Oostenryk, vervaardig en uitgevoer. In 2018 word ʼn verdere R6,1 miljard belê in die aanleg. In Junie 2018 vervaardig die fabriek die miljoenste EA111-enjin – ʼn reusemylpaal. In Oktober 2019 is ʼn nuwe rekord opgestel met 16 453 eenhede en ʼn rekordjaar eindig met 161 954 voertuie.

In November 2020 vervaardig Uitenhage die vier miljoenste voertuig!

Ek het verskeie van dié voertuie op Volkswagen se toetsbaan onder hande gehad. Ons moes ons name uit ʼn hoed trek om te sien wie kry watse sleutels. Daar was verskeie Vollas, ʼn Mk1 Golf en Jetta, ʼn Audi-koepee, ʼn 2.6i Microbus om net ʼn paar te noem … maar die een voertuig wat vir my gewink het in die parkeerterrein is die Mk1 Golf Gti … en sal jy nou glo dat my bestuurmaat daai sleutel trek. Dit was ʼn fantastiese ervaring. Ek’t my eie Chico 1.4i besit, en ʼn Polo Classic 1.4i, en ʼn Golf IV … en my vrou ʼn Jetta II CSX … en dis die punt. Volkswagen is ʼn reusedeel van dié land se erfenis. Ek sal nooit seevakansies in my pa se Kombi vergeet nie. Of my stiefma se Mk1 Golf CTi. Ai … ek word oud!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.