VW kikker sy gewilde Polo op

Volkswagen se Polo en Polo Vivo is van Suid-Afrika se gewildste motors.

Volkswagen het in Januarie 2022 meer as 2 700 van die twee modelle verkoop. Nóg ʼn pluimpie vir Volkswagen is die feit dat die Polo plaaslik by sy Kariega-aanleg vervaardig word.

Die Polo spog nou met ʼn paar visuele opknappings, nuwe intelligente stelsels, ligte en bekleedsel. Dit is geen geheim dat ek meer van die vorige Polo se ontwerp hou as die huidige een nie, maar dié opknapping verfris die ontwerp vir my. Dit is beslis nou ʼn oulike tjor van agter. Die nuwe LED-strooklig wat dwars van links na regs strek nét onder die kap is werklik mooi.

Ons het twee modelle tydens die bekendstelling op die proef gestel. Die 1.0-TSI-handrat in die Life-spesifikasie, en die GTI met sy 2.0-TSI en DSG-ratkas. Die VW Polo Life 1.0 TSI 70 kW-handrat is waarskynlik my gekose model in die reeks.

Die sinergie tussen die turboaangejaagde driesilinder en die handratkas is puik. Volkswagen se handratmodelle se ratwisselingsaksie is seepglad én die koppelaar lig – so ek sien nie die punt van ʼn outo in dié model nie. Dit kom ook van die DSG met 85 kW se programmering wat gestel is vir brandstofverbruik en om koolstofuitlaatgasse so laag moontlik te hou – en ek hou nie van hoe hy die omwentelinge aanhoudend so laag moontlik probeer hou nie. Dan voel die voertuig pap en traag om op insette te reageer. Die 1.0 spog met 70 kW en 175 Nm en VW beweer ʼn indrukwekkende brandstofverbruiksyfer van 5,3 ℓ/100 km.

Aan die ander kant van die reeks sit die GTI. Hy spog met ʼn 2.0-viersilinderturbopetrolenjin met 147 kW en 320 Nm. Dít gepaard met Volkswagen se 6-spoed-DSG-dubbelkoppelaarratkas is indrukwekkend. Die blitsbuksie maak lekker geluide en bied oorgenoeg sportiewe verrigting vir die meeste eienaars. Die GTI blink uit op die pad waar mens die groot golf wringkrag ervaar. Die GTI voel baie sterker as die 320 Nm.

Op die pad toer die Life lieflik. ʼn Soepel rit met uiters gemaklike sitplekke en ʼn ruim kajuit bied ʼn puik ervaring. Dié Polo is egter net so groot aan sy binneruim as wat ʼn Golf IV ʼn paar jaar terug was. Die sportsitplekke in die GTI is net só gemaklik, maar bied baie meer steun vir as mens al die perde inspan en jou wangedra om draaie en op bergpasse.

Dit is bitter maklik om die Polo op te som. Dit is ʼn fantastiese produk, veral as mens kyk na die hoeveelhede wat maandeliks verkoop word. Die feit dat Kariega nou die enigste aanleg ter wêreld is wat die GTI bou, is ʼn pluimpie vir Suid-Afrika en ʼn fantastiese geloofsbrief van Duitsland dat hulle ons gekies het om dié model te bou.

Die reeks lyk só:

Volkswagen Polo 1.0 TSI 70 kW handrat70 kW/175 Nm5,3 ℓ/100 kmR311 800
Volkswagen Polo Life 1.0 TSI 70 kW handrat70 kW/175 Nm5,3 ℓ/100 kmR350 000
Volkswagen Polo Life 1.0 TSI 85 kW DSG85 kW/200 Nm5,4 ℓ/100 kmR370 700
Volkswagen Polo R-Line 1.0 TSI 85 kW DSG85 kW/200 Nm5,4 ℓ/100 kmR421 900
Volkswagen Polo GTI 2.0 TSI 147 kW DSG147 kW/320 Nm6,4 ℓ/100 kmR489 400

Die reeks word gedek deur ʼn driejaar/120 000 km-waarborg en ʼn driejaar/45 000 km-diensplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wielspore

Brendon Staniforth, hou in gedagte dat daardie DGS ratkas drie opsies het, D vir normale rit en dan Sport om die toere op te jaag en dan laastens shift waar jy self kies teen watter toere jy ratte wil wissel. Ons besit die T Cross 85kw met dieselfde DSG ratkas en uit ervaring is dit ‘n ratse model met baie wringkrag teen lae toere.
Lekker ry!

Vonkprop

Belaglik duur vir so klein karretjie.