VW se jongste veeldoelvoertuig

(Foto: Verskaf)

Volkswagen se Caddy is nie vir ons Suid-Afrikaners vreemd nie. Ek praat nou nie van die Citi Golf-gebaseerde bakkie nie, maar van die klein bussie. Die Caddy het uiters gewild geraak onder kleinsakeondernemings en vervoermaatskappye aan die handelsvoertuigkant, en by groot gesinne met die passasierweergawes.

Hierdie is nou die vyfde generasie van die buksie. Daar is sedert 1979 meer as drie miljoen Caddys wêreldwyd gebou. Die nuutste generasie se name verander effe. Daar is die Caddy, Caddy Maxi, Caddy Kombi, Caddy Maxi Kombi, Caddy Cargo en Caddy Maxi Cargo.

Daar is twee enjins beskikbaar – ʼn 1.6‑viersilinderpetrolenjin met 81 kW en 152 Nm en ʼn 2.0‑turbodiesel, ook met 81 kW, maar ʼn indrukwekkende 300 Nm. Die diesel bied fantastiese brandstofverbruik – in die omgewing van 5,5 ℓ/100 km. Albei enjins maak gebruik van slegs een ratkas – ʼn 6-spoed‑handrat.

Die Cargo-weergawe se deure is slim aangepas en kan groter oopmaak. Die Caddy Maxi Cargo kan nou twee Euro-palette pas. Die passasierweergawes werk fantasties te danke aan die skuifdeure aan albei kante van die voertuig.

Dit is op die pad agter die stuur waar die Caddy eers beïndruk. Dit is dalk ʼn voertuig wat op ʼn handelsvoertuig geskoei is, maar dit ry lieflik, nes ʼn spiksplinternuwe Polo se ouboet. Die Caddy spog met ʼn sterk veiligheidspesifikasievlak wat ses lugsakke insluit, sowel as sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding. Te danke aan die Caddy se lang asafstand, ry hy voorwaar gemaklik. Die 16”‑wiele met ʼn lekker 60‑profiel‑band bied ʼn uiters goeie ritgehalte.

Ek sal die Caddy só opsom: Dit is ʼn lieflike voertuig om te ry, bied puik gehalte en meer as genoeg spasie vir ʼn groot gesin. Die enigste struikelblok wat ek voorsien, is die skrikwekkende prys vir passasierweergawes.

Ons sal weer tyd met die Caddy deurbring en hom dán met sy mededingers vergelyk.

Die reeks lyk só:

Caddy:

Volkswagen Caddy 1.6i81 kW/152 Nm7,3 ℓ/100 kmR484 200
Volkswagen Caddy 2.0TDI81 kW/300 Nm5,5 ℓ/100 kmR573 800
Volkswagen Caddy Maxi 2.0TDI81 kW/300 Nm5,5 ℓ/100 kmR600 400

Caddy Kombi:

Volkswagen Caddy Kombi 1.6i81 kW/152 Nm7,3 ℓ/100kmR412 100
Volkswagen Caddy Kombi 2.0TDI81 kW/300 Nm5,5 ℓ/100 kmR476 100
 Volkswagen Caddy Maxi Kombi 2.0TDI81 kW/300 Nm5,5 ℓ/100 kmR502 700

Caddy Cargo:

Volkswagen Caddy Cargo 1.6i81 kW/152 Nm7,2 ℓ/100 kmR404 000
Volkswagen Caddy Cargo 2.0TDI81 kW/300 Nm5,5 ℓ/100 kmR460 600
Volkswagen Caddy Maxi Cargo 2.0 TDI81 kW/300 Nm5,5 ℓ/100 kmR487 200

Die passasierweergawes kom met ʼn 3 jaar/120 000 km‑waarborg en 3 jaar/60 000 km‑diensplan. Kommersiële weergawes geniet ʼn 2 jaar/onbeperkte km‑waarborg.

Ons sal weer tyd met die Caddy deurbring en sien hoe hy hom in die daaglikse roetine gedra. Ons sal hom dan teen sy mededingers opweeg.

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.