VW se nuwe sportnutsbuksie gaan nog baie vriende maak

Deur Liana Reiners

Jonger lesers en dié wat hulle vingers op die pols van sosiale media het sal weet dat T-Series ʼn YouTube-kanaal is met die grootste getal intekenaars in die geskiedenis: meer as 140 miljoen. Dis ook dan dié platform se kanaal wat die vinnigste groei. Wat het dit met motors te doen? Daar is nóg ʼn T-reeks wat besig is om opslae te maak, nie op YouTube nie, maar in die motormark. Dis natuurlik Volkswagen (VW) se T-reeks van sportnutsvoertuie, wat tot onlangs uit die T-Cross, Tiguan, Tiguan Allspace en die Touareg bestaan het. Die T-Roc, wat aan die einde van November aan plaaslike motorjoernaliste bekendgestel is, is die jongste toevoeging tot hierdie familie.

Waarom sou Volkswagen die T-Roc nou bekendstel, minder as 12 maande nadat die T-Cross sy plaaslike verskyning gemaak het? Die rede is heel eenvoudig. Die Suid-Afrikaanse mark vir sportnutsvoertuie het tussen 2015 en 2019 met 44% gegroei en kenners voorspel dat verkope in dié segment oor die volgende dekade gaan verdubbel. VW wil seker wees dat hy gereed is om te skep wanneer dit begin pap reën en het daarom besluit om ʼn kompakte kruismodel by sy arsenaal te voeg.

Maar waar presies pas die T-Roc in VW se T-reeks in? Bo die T-Cross, maar onder die Tiguan, om presies te wees. En met sy aantreklike stilering, hoë spesifikasievlak, tegnologiese nuutjies, dinamiese hantering en sportiewe persoonlikheid gaan dié nuweling nog baie plaaslike harte wen. Boonop bied die T-Roc ʼn paar opsies wat dit moontlik maak om jou ryding by jou smaak en persoonlikheid te laat aanpas.

Plaaslik is daar is drie modelle van die T-Roc beskikbaar: die 1.4 TSI 110 kW Design, die 2.0 TSI 140 kW 4MOTION DSG Design en die 2.0 TSI 140 kW 4MOTION DSG R-Line.

Die 1,4-liter petrolenjin is gekoppel aan ʼn agtspoed Tiptronic-ratkas en spog met verrigtingsyfers van 110 kW tussen 5 000 en 6 000 r/min en maksimum wringkrag van 250 Nm. Hierdie intreevlak-enjin se brandstofverbruik is 6,9 liter/100 km en hy kan ʼn topspoed van 205 km/h haal.

Die 2,0-liter enjin – ook petrol – is gekoppel aan ʼn sewespoed DSG-ratkas en spog ook met 4MOTION. Dié eenheid se maksimum kraglewering is 140 kW en maksimum wringkrag is 320 Nm. Modelle wat met hierdie enjin toegerus is neem 7, sekondes om van 0 – 100 km/h te versnel en het ʼn topsnelheid van 216 km/h. Brandstofverbruik is 8,3 liter/100 km.

Die T-Roc 1.4TSI 110kW Tiptronic Design en die 2.0TSI 140kW 4MOTION  DSG R-Line is reeds hier te koop en die 2.0TSI 140kW 4MOTION DSG Design sal vanaf Januarie beskikbaar wees. Die Design spesifikasievlak is gemik op kopers vir wie styl belangrik is, terwyl die R-Line by diegene wat ʼn meer sportiewe bestuursondervinding hou sal aanklank vind.

Wat ontwerp betref lyk die vyfsitplek T-Roc heel treffend. Daar is ʼn definitiewe sportiewe en avontuurlustige persoonlikheid te bespeur. Die T-Roc is dan ook die eerste plaaslike model wat met VW se splinternuwe logo spog. Boonop kan hy met twee-kleur afwerking bestel word, wat beteken dat die dak ʼn ander kleur as die res van die bakwerk is.

Design-modelle is beskikbaar met ʼn keuse tussen wit, rooi of swart vir die dak en kantspieëls. Tesame met ʼn verskeidenheid van bakkleure beteken dit dat daar 26 verskillende bakkleur-kombinasies is om van te kies. Die R-Line bied 21 verskillende kleuropsies.

Design-modelle het 17-duim Mayfield-sierwiele as standaard, met 18-duim Montego of Grange Hill weergawes opsioneel beskikbaar. Die R-Line spog met 19-duim Suzuka-sierwiele.

Die binneruim van die T-Roc is heel gemaklik en prakties uitgelê. Die bagasieruim het ʼn kapasiteit van 445 liter wat tot 1 290 liter vergroot kan word aangesien die rugleunings van die agtersitplekke in ʼn 60/40 konfigurasie platgeslaan kan word. Dit is heel indrukwekkend vir ʼn voertuig in hierdie segment.

Al kritiek wat ek het, is dat daar nie juis ʼn oorvloed van beenspasie vir die agterste passasiers is nie en drie mense sal hulle sit moet ken om in te pas. Dit behoort egter nie ʼn probleem vir kinders te wees nie.

Uit die aard van die saak is die T-Roc se lys van standaardtoerusting lank en indrukwekkend. Dit sluit sogenaamde App-Connect in wat dit moontlik maak om ʼn slimfoon aan die vermaakstelsel te koppel en dan via die drukskerm toegang tot sekere apps te hê. Dit sluit die We Connect Go-toep in, wat gebruikers toegang tot voertuigdata en -rekords, sowel as die naaste VW-handelaar gee

Die T-Roc is propvol veiligheidstelsels wat elektroniese stabiliteitsbeheer (ESC), LED kopligte, blindekol- en voetganger monitering, parkeerbeheer en ʼn stelsel wat kan bespeur wanneer die bestuurder moeg word of konsentrasie verloor. Natuurlik is intelligente spoedbeheer ook deel van die pakket.

Uit die twee enjinopsies wat beskikbaar is was my gunsteling tydens ons toetsrit in die Weskaap die 1,4-liter weergawe. Hy is verbasend rats en danksy die gevorderde outomatiese ratkas vind oorskakelings amper ongesiens plaas. Hantering is ook uit die boonste rakke en die T-Roc klou soos ʼn neet om draaie.

Alle VW T-Roc modelle het ʼn drie-jaar /120 000 km waarborg, ʼn vyf-jaar / 90 000 km Volkswagen-diensplan en ʼn 12-jaar-waarborg teen roes.

Die reeks lyk so:

T-Roc 1.4 110 kW Tiptronic DesignR489 400
T-Roc 2.0 140 kW 4MOTION DSG DesignR548 300
T-Roc 2.0 140 kW 4MOTION DSG R-LineR593 600

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

R489400 met se soe 10% afslag as jy die kan kry. Soe dit is R440460. Jy het soe bietjie putte soe jy sit R50000 af as deposito soe dit is R390460 oor R60 maande = R6507 elke maand. Ry liewer my skedonk, en sit daai R6507 in my droom huis by die see in.

Wielspore

Ons besit ons TCross al nou amper ‘n jaar en dit is na my mening die bes gebalanseerde motor uit die VW kamp. Nie dat enige ander VW produk of vervaardiger nie goed is, mense maak keuses en SA burgers is baie “brand” bewus. Die TCross is ‘n yster, lekker hoog vir die wildtuin, bied goeie grondvrye hoogte, ekonomies en as jy daardie lepel trap dan laat waai hy.
Lekker ry!