VW se warm sportnuts is hier

Wanneer jy “Vrrr Pha” lees of hoor, dan weet jy daar word na Volkswagen se ikoniese Golf GTI verwys.

Dit is die geluid wat die uitlaatpyp maak as hy ratte wissel. Ek is seker daar is party mense wat nie daarvan hou nie, maar in die ouderdomsgroep vir wie daai tipe motors droomkarre is, is daar net niks anders nie.

Volkswagen het egter met ʼn klein probleempie gesit. Daardie selfde ouens word groot, trou en kry kinders. Wat ry hulle dan? Die meeste van hulle het na uiters vervelige gesinsmotors wegbeweeg.

Volkswagen het egter die antwoord – ʼn pragtige C-segment-sportnutsvoertuig. Die Tiguan. Hy het ʼn lieflike kattebak, sitplek vir vyf, verstommende bougehalte en pragtige materiale. Maar hy bestaan al ʼn rukkie. Hoekom is hy spesiaal? Die klein R-embleem op die kattebakdeur. Dis hoekom. Dié Tiguan het ʼn vaatjie vol rissies in sy ProNutro gegooi en stoot nou 235 kW en 400 Nm uit ʼn 2.0‑viersilinderturbopetrolenjin.

Daai perde word deur ʼn 7-spoed‑dubbelkoppelaarratkas aan al vier wiele gestoot. Vierwielaandrywing, en daai krag beteken dat dié Tiguan nie hier is om te speel nie. Die Tiguan R is werklik blitsig. Van 0‑100 km/h neem ʼn ratse 5,1 sekondes, en hy sal aanhou snol tot ʼn indrukwekkende, dog elektronies beperkte 250 km/h.

Om seker te maak dat daar goeie balans is, kom die Tiguan met ʼn magdom aktiewe veiligheidstelsels soos baanhulp, botsingwaarskuwing met noodremhulp, agterkruisverkeerwaarskuwing, aanpasbare spoedkontrole… die lot. Aan die passiewe kant is daar sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding, vastrap- en stabiliteitsbeheer wat verskillende stellings het en ʼn magdom lugsakke.

Om dinge gemaklik te hou, is die Tiguan vol luukshede geprop. Verhitte leersitplekke met geheuefunksie vir die bestuurder se sitplek, klimaatbeheer, digitale instrumente, Apple CarPlay en Android Auto, ’n koordlose laaimatjie vir jou selfoon en vele meer. Om nie eens te praat van die lieflike klankstelsel, selfverduisterende truspieëltjie en verhitte stuurwiel nie.

Die Tiguan is een van daai blitsbuksies wat gelyk is aan meer as die som van sy onderdele. Die ontwerp is wragtig sportief en mooi, hy kan ʼn grondpad aandurf (al is daar ʼn 21”‑wiel as opsie) en sal ʼn karavaan kan trek met sy 2,2 ton‑sleepkapasiteit! Hy het plek vir die hele gesin, en as jy hulle uitlaai, kan jy kerk toe ry asof jou broek aan die brand is. Dit is wragtig ʼn fantastiese ryding en skep ʼn nuwe nismark.

Die reeks lyk só:

Volkswagen Tiguan 1.4TSI 110 kW110 kW/250 Nm7,7 ℓ/100 kmR580 300
Volkswagen Tiguan 1.4TSI 110 kW Life110 kW/250 Nm7,7 ℓ/100 kmR648 500
Volkswagen Tiguan 1.4TSI 110 kW R-Line110 kW/250 Nm7,7 ℓ/100 kmR711 600
Volkswagen Tiguan 2.0 TDI 130 kW 4Motion R-Line130 kW/380 Nm6,6 ℓ/100 kmR783 100
Volkswagen Tiguan 2.0TSI 162 kW 4Motion R-Line162 kW/350 Nm8,3 ℓ/100 kmR784 100
Volkswagen Tiguan R235 kW/400 Nm8,8 ℓ/100 kmR999 900

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/120 000 km‑waarborg. Almal behalwe die R is gedek deur ʼn 5 jaar/90 000 km‑diensplan, en die R deur ʼn omvattende 5 jaar/100 000 km‑instandhoudingsplan.

Ons sal binnekort weer tyd met die Tiguan R deurbring en hom dán met sy mededingers vergelyk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.