Wat is ʼn nuwe 4×4 sonder ʼn kursus?

Nuwe Ford-eienaars kry die geleentheid om hul voertuie se funksies baas te raak. (Foto: Du Preez de Villiers)

Ford Suid-Afrika glo dat die kopers van sy 4×4-voertuie minstens touwys gemaak moet word oor hoe om al die spoggerige funksies van die voertuig te verstaan en baas te raak.

Soos Dean Barthorpe, die aanbieder van Ford se 4×4-kursusse, sê: “Jy het daarvoor betaal, gebruik dit.”

Maroela Media het die naweek, saam met die nuwe eienaars, by Leeuwenkloof, net suid van Hartbeespoort, bymekaargekom om ʼn vlak een-kursus te doen.

Die weer was maar triestig en die kursusgangers het heel senuweeagtig gelyk toe Dawid Lottering, wat die teoretiese sy van die kursus aangebied het, hulle gevra het of hulle enige 4×4-kennis of ‑ondervinding het. Die antwoord was oorwegend ʼn “nee”.

Dawid Lottering, aanbieder van die teoretiese gedeelte, het die vrees om knoppies in ʼn 4×4 se kajuit te druk, weggevat. (Foto: Du Preez de Villiers)

Met ʼn beker warm koffie in die hand is daar met die teoretiese deel afgeskop en al die tegniese beginsels van hierdie ingewikkelde, maar nuttige stelsel is in leketaal verduidelik. Die toepassing van ʼn differensiaal en die verskil tussen 4×2, 4×4 en vierwielaandrywing was van die belangrikste punte wat uitgelig is.

Kursusgangers luister aandagtig na die waardevolle kennis wat die aanbieders met hulle deel. (Foto: Du Preez de Villiers)

Daarna het die eienaars in hul groot Everest- en Ranger-modelle geklim en stadig in gelid die roete aangedurf. Daar is berg op en berg af gery en die papnat pad het bykomende uitdagings gebied.

Die modderige pad het tot die opwinding bygedra. (Foto: Du Preez de Villiers)

Dit was ʼn aanskoulike gesig om te sien hoe die 4×4’s mooi agter mekaar, op die tweespoor-roete gery het. (Foto: Du Preez de Villiers)

Die pragtige uitsig oor die omgewing, saam met die kosbare kennis wat uitgedeel is en natuurlik ʼn gesamentlike Ford-eienaarsgevoel, het  ʼn besondere gevoelsatmosfeer geskep.

Die tweede been van die kursus het op ‘n 4×4-baan plaasgevind waar die instrukteurs persoonlike aandag aan elkeen kon gee.

Op die 4×4-baan kon daar foute gemaak word en al die funksies en vermoëns van die voertuig getoets word. (Foto: Du Preez de Villiers)

Vasval is een van die minder genotvolle ervarings tydens ʼn 4×4-toer waarvoor heelwat voorsorg getref moet word, maar dit kan in ʼn nagmerrie ontaard as die verkeerde prosedures gebruik word om ʼn voertuig weer op sy roete te kry.

“Ons noem dit nie vasval nie, dit is eintlik net ʼn tydelike vertraging,” sê Barthorpe.

Hoewel ʼn vasgevalde voertuig ʼn ongerieflike tydsvertraging beteken, is dit tog opwindend om jou opleiding en ervaring toe te pas om dit vinnig en korrek uit te trek. (Foto: Du Preez de Villiers)

Een lewensbelangrike beginsel wat bygebly het, is dat jy glad nie ʼn voertuig aan sy tou-haak moet uitsleep nie, want die ronde kop kan slegs afwaartse druk hanteer. Dit is ontwerp om maklik af te breek en kan dus in ʼn dodelike projektiel verander as dit sywaarts getrek word. Die rede is dat die kop moet afbreek wanneer ʼn swaar sleepwa of karavaan buite beheer raak en van agter af verby die voertuig wil swaai. Derhalwe sal die voertuig nie saam omgetrek word nie.

Dean Barthorpe, die 4×4-kursusaanbieder, wys hoe elke sleepband lyk en verduidelik wat sy funksie is. (Du Preez de Villiers)

Met ʼn sertifikaat in die hand kon die kursusgangers tevrede huiswaarts keer en met selfvertroue gereed maak vir die 4×4-uitstappies wat voorlê.

Die nuwe 4×4 Ford-eienaars is nou gerat om ruwe terrein met hul voertuie aan te durf. (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ilena

Baie goeie beskrywing, voel of ek self daar was. Dankie vir mooi Afrikaans.

casper

Met die prys van ‘n nuwe 4×4 vat jy die ding nie naby ‘n grondpad nie — Koop eerder ‘n ou Isuzu bakkie vir dit !!