Welkom terug, Audi

Die Audi R8. (Foto: Verskaf)

Verskeie faktore het sake vir Audi die afgelope paar jaar ietwat omgekrap. Nét toe Audi dink hy kan Dieselgate agter hom plaas, tref Covid-19. Sjoe.

In wêreldwye terme is Audi Suid-Afrika dalk ʼn klein rolspeler, maar hy is tóg ʼn rolspeler.

Ek het nog altyd gesê in die sportsegment is daar BMW M-liefhebbers, diegene wat AMG’s verkies – en dan Audi RS-mense. Ek het goeie nuus vir laasgenoemde. Audi het pas 15 opgeknapte voertuie gewys en almal sal teen 1 April in vertoonlokale beskikbaar wees.

Kom ons begin by die goedkoopste, die Audi TT RS-koepee en -afslaandak.

Dit word steeds deur Audi se fantastiese vyfsilinderturbopetrolenjin aangedryf. Dit bied 294 kW en 480 Nm. Let wel, 0–100 km/h duik op in ʼn ratse 3,7 sekondes vir die koepee (R1 062 000) en 3,9 sekondes vir die afslaandakmodel (R1 113 500).

Die Audi TT RS-koepee. (Foto: Verskaf)

Daarop volg ʼn splinternuwe buksie: Audi se RS Q3 vuurpyl-sportnuts. Dié word ook deur die vyfsilinderenjin van die TT RS aangedryf en bied steeds 294 kW en 480 Nm. Daar is twee bakstyle beskikbaar: gewoon (R1 094 000) en Sportback (R1 128 000).

Albei neem 4,5 sekondes van stilstand tot 100 km/h.

Een van my gunstelinge is die fantastiese RS4 Avant. Dit is ʼn uber-stasiewa met ʼn 2.9-V6-turbopetrolenjin wat 331 kW en 600 Nm bied. O ja, 0–100 km/h neem ʼn blitsige 4,1 sekondes. Die RS4 Avant is beskikbaar teen R1 296 000 – ʼn ware winskoop teen die M3 en C63S.

Die Audi RS4 Avant. (Foto: Verskaf)

Daar is twee RS5’e beskikbaar: koepee (R1 394 500) en Sportback (R1 409 500). Die RS5 deel die RS4 se V6-enjin met 331 kW en 600 Nm; 3,9 sekondes is al wat dit neem om van stilstand tot 100 km/h te snel.

Nog een van my gunstelinge is die fantastiese Audi SQ7. Dit is ʼn reuse-sewesitplek- Audi Q7 met ʼn briljante V6-turbodieselenjin wat 310 kW en ʼn fantasmagoriese 900 Nm bied. In die tenk neem stilstand tot 100 km/h ʼn ratse 4,8 sekondes en die SQ7 is joune vir R1 679 500.

Die Audi SQ7. (Foto: Verskaf)

Audi se SQ8 is ʼn groot sportnutsvoertuig met ʼn koepeepak aan. Hy geniet dieselfde enjin as die SQ7 en snel ook tot 100 km/h in 4,8 sekondes. Dié voertuig kos R1 848 500.

Die Audi SQ8. (Foto: Verskaf)

Die Audi RS6 is moontlik een van die vinnigste stasiewaens ter wêreld. ʼn Dubbelturbo-V8 bied 441 kW en 800 Nm; 0–100 km/h neem ʼn piepklein 3,6 sekondes en die RS6 is joune vir R2 070 000. Sy koepeepak-boetie is die RS7. Hy het dieselfde enjin en neem óók 3,6 sekondes om 100 km/h te haal.

Dié ene kos R2 173 500.

In sportnutsstyl is die RS Q8 ook deur die V8 aangedryf. Hy neem 3,8 sekondes tot 100 km/h en is die vinnigste sportnutsvoertuig op aarde om die Nürburgring. Hy kos R2 354 500.

Die Audi RS Q8. (Foto: Verskaf)

ʼn Pragtige luukse sedanmotor is Audi se S8. Hy geniet ook ʼn V8-turbo-enjin en bied 420 kW en 800 Nm; 0–100 km/h neem 3,8 sekondes en hy kos R2 484 000. Dis ʼn pragtige langafstand-sedanmotor waarin ʼn mens waarskynlik rondgery word.

Heel boaan die Audi-troon is die R8.

Daar is ʼn koepee (R3 336 000) en ʼn afslaandakmodel (R3 592 500). Die R8 word aangedryf deur ʼn asemrowende 5.0- atmosferiese V10-enjin wat 449 kW en 560 Nm bied; 0–100 km/h neem 3,2 sekondes in die koepee en 3,3 sekondes in die afslaandakmodel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos ·

Nee wat, daai pryse is al amper langer as my kredietkaatnommer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.