Wiele gaan rol by Killarney

Toyota het ʼn magdom renmotors wat dié naweek in Kaapstad gaan jaag.

Die South African National Extreme Festival vind Saterdag by die Killarney-wedrenbaan plaas.

Die Toyota Gazoo Racing-beker bestaan vanjaar uit twee klasse: Die GR Yaris-liga vir jongmense wat die motorsportleer begin klim en die GR86-uitdaging vir motorjoernaliste.

Die drie GTC Toyota Corollas word deur Michael van Rooyen, Saood Variawa en nuweling Nathia Msimanga gejaag. Michael is ʼn ou hand wanneer dit by GTC kom en Saood, ʼn blitsige 17-jarige, het verlede jaar tweede in die kampioenskap geëindig en die eerste wedren van 2023 gewen.

Die ses Toyota GR86-renmotors word deur lede van die media gejaag en hulle kan nie wag om hul tande by die Killarney-wedrenbaan te slyp nie. Die blitsige Thomas Falkiner wat die eerste wedrenne by Zwartkops met ʼn stormloop gewen het, sal nie die naweek jaag nie. Hy’t net vir die eerste wedren vir Denis Droppa (TimesLIVE) ingestaan.

Setshaba Mashigo (ASAMM) sal vir die eerste keer in lewende lywe rondes van Killarney voltooi en nie in die kuberwêreld jaag in sy sitkamer nie. Die manne weet egter dat die PlayStation-koning werklike spoed het en met ʼn tweede plek weggestap het in albei resies by Zwartkops.

Maroela Media se eie Brendon Staniforth en Mark Jones (The Citizen) sien daarna uit om weer by Killarney kragte te meet. Dié twee moet egter nie vir Chad Lückhoff (AutoTrader) en Reuben van Niekerk (Jumping Kids/Wheels24) onderskat nie.

Een ding is vir seker, die 17% meer krag sal by seevlak welkom wees en die podium sal moontlik heel anders daaraan uitsien Saterdagmiddag.

Die publiek kan gerus ʼn draai by die Killarney-wedrenbaan maak. Volwassenes betaal R50 per kaartjie by die hek en kinders onder 12 jaar R20.

Indien jy nie by die baan kan uitkom nie, kan jy dit aanlyn op YouTube of Facebook volg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.