Woestynren in Upington ’n kaartjie Dakar toe

Toyota maak tans groot naam vir homself in verskeie motorsportarenas.

Toyota het onlangs vir die sesde agtereenvolgende keer met die louere by Le Mans weggery en het ook sy eie plaaslike reeks waar ʼn paar joernaliste met ʼn GR Yaris aan die Extreme Festival deelneem. By die Dakar het Toyota se Nasser Al-Attiyah ook al verskeie kere die kitaar geslaan en dit is waar die Toyota Gazoo Racing SA 1000-Woestynren nou inkom.

Toyota is die titelborg van die Woestynren waartydens renjaers mekaar oor 1 000 km die stryd aansê. Die ren het altyd in Botswana plaasgevind, maar weens Covid-19-regulasies is die resies verlede jaar vir die eerste keer in Upington aangebied.

Die Woestynren is nie net die uitdagendste tydren in die plaaslike Suid-Afrikaanse Rally-Raid-kampioenskap nie, maar in Afrika. Die Woestynren bied renjaers die geleentheid om ʼn gratis inskrywing tot die Dakar te kry.

Dié geleentheid is ook beskikbaar vir private renjaers wat nog nooit aan die Dakar deelgeneem het nie. Toyota noem die inisiatief The Road to Dakar. Die wenner kan kies om aan die volgende Dakar deel te neem, óf die een daarna. Dit gee die private span 18 maande geleentheid om gereed te maak vir een van die wêreld se uitdagendste tydrenne.

Vanjaar se Road to Dakar sal nie nét die gratis inskrywing insluit nie, maar ook ʼn kontantprys van €8 000. “Toyota Suid-Afrika het ʼn lang en trotse geskiedenis in die wêreld van veldrenne op die plaaslike en internasionale verhoog,” sê Glenn Crompton, Toyota Suid-Afrika se adjunkpresident vir bemarking. “Ons Dakar-wennende Hilux is bewys van ons toewyding en ons is opgewonde om weereens vanjaar die Road to Dakar te ondersteun en daardeur die deur oop te maak vir nuweling private renjaers om aan die Dakar deel te neem deur aan die Woestynren, die vlagskipbyeenkoms op die veldrenkalender, deel te neem.”

Toyota Gazoo Racing het vanjaar vier klas T1+ Hilux-renbakkies wat aan die Woestynren deelneem. Die eerste bakkie word deur nasionale kampioene Henk Lategan en navigator Brett Cummings gejaag. Voormalige kampioene Giniel de Villiers en navigator Dennis Murphy is aan die stuur van die tweede bakkie. Shameer Variawa en Danie Stassen neem deel in die derde bakkie en die finale bakkie is in die hande van Guy Botterill en navigator Simon Vacy-Lyle. Dié span het pas die nasionale tydrenkampioenskap in hul plaaslik vervaardigde Toyota Starlet-tydrenmotor gewen.

Toeskouers is welkom vir die ren en die hoofkwartiere vir dié tydren is by die Upington Expo Centre. Vir die toeskouers wat dit nie tot in Upington kan maak nie, kan die aksie op die Rally Safe-app gevolg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.