Wrangler eers tuis wanneer die teer eindig

(Foto: Justin Jacobs)

Dit vat die gewone mens ʼn tydjie om gewoond te raak aan ʼn voertuig. Om uit te pluis waar alles is, hoe dié en dáái werk. Dit is my werk om dit vinniger te doen.

Ek het so twee jaar terug ʼn week met ʼn Jeep Wrangler Unlimited deurgebring. Ek’t nie van die voertuig gehou nie.

Ek was dus skepties toe ek onlangs ʼn Wrangler ontvang het om te toetsbestuur. Dis die nuwe model, en is nou slegs met die 3.6-V6-enjin in Suid-Afrika beskikbaar. Ek het wel ervaring met die Pentastar-enjin gehad in ʼn Cadillac CTS meer as ʼn dekade terug, en die enjin was puik.

Die Wrangler het by die huis opgedaag. Goudgeel, en dis die weergawe met ʼn kort asafstand en twee deure. Ek is gek na die ontwerp. Dit lyk nou nóg mooier met die nuwe LED-kopligte. Ek is aanvanklik toe sommer opgewonde oor die ou Jeepie.

(Foto: Justin Jacobs)

Ek ry toe gou winkel toe, nie eens twee kilometer van my huis af nie. Die ervaring was nie aangenaam nie. Ek’t gesukkel om gemaklik te raak, en die kar het lomp gevoel. Die remme was nie skerp genoeg nie. Die stuur is eers traag, dán oorywerig. Ai. Aanvanklik wil ek van die Jeep hou, maar hy stel my teleur.

Ek kom sit toe by die huis en probeer redeneer oor die Jeep. Dit is eenvoudig onmoontlik dat die kar só sleg voel. Die volgende dag besluit ek dat ek effens verder gaan ry, maar van voor af probeer om gemaklik te raak. Ek stel my sitplek en besluit ek gaan vir eers net doodrustig ry. Skielik begin die Wrangler tuis voel. Mens moet net ʼn bietjie sagter met hom werk. Ja, hy voel soos ʼn eendjie wat waggel – maar ʼn voertuig met dié 4×4-vermoë kan ongelukkig nie perfek op die teerpad wees nie.

Ek moes Sondag ʼn ander voertuig terugvat, en gee daai sleutels vir vroulief. Ek wil self die Jeep op die snelweg opsaal en kyk wat gaan vir wat. Noudat ek gemaklik is in die Jeep, begin ek hom geniet. Vroulief is langs my in ʼn AMG.

(Foto: Justin Jacobs)

Ek is só gemaklik dat ek besluit ons moet ʼn pylvakren hou – net om te sien wie’s vinniger. Hie-hie. Die lig slaan groen en ek trap die Jeep se versneller weg in die mat. Die 3.6 trek sy sokkies op, en tot my vrou se verbasing jaag ons weg asof die Jeep se broek aan die brand is.

Op die snelweg is daar heelwat windgeraas, maar dit is heeltemal te verstane as mens na die ontwerp kyk. Die dak en deure kan ook afhaal, so daar is nie lae en lae se klankdoding nie. Die Jeep toer heel lekker teen 120 km/h. Ja, die kenmerkende waggel is steeds daar, jy moet net gewoond raak aan hoe om met die stuur te werk.

Nog ʼn verrassing kom in die vorm van die V6-petrol se brandstofverbruik. Die ou 2.8-diesel waarmee ek gery het, kon slegs 12 ℓ/100 km bied. Die 3.6-V6-petrol met sy spoggerige nuwe agtspoedratkas bied ʼn indrukwekkende 10 ℓ/100 km. Dis fantasties.

(Foto: Justin Jacobs)

Die V6 bied 209 kW en 247 Nm. Jeep beweer ʼn topspoed van 177 km/h en ek’s oortuig hy sal dalk nóg vinniger gaan indien hy nie elektronies beperk is nie, maar sjoe – 160 km/h voel soos ʼn miljoen km/h in die Jeep.

Die binneruim is ook mooi opgeknap. Die nuwe rathefboom werk soos ʼn droom en lyk puik met die klein Jeepie wat daarop ry, nes die een op die venster. Die nuwe Uconnect-raakskerm-inligtingstelsel van 8,4 duim werk puik en bied CarPlay en Android Auto.

Dit bring ons by die kern van die Jeep. Op die teerpad is hy nie perfek nie, maar waar die teer ophou, is waar die Jeep begin uitblink. Die Wrangler is Trail Rated soos Jeep sê. Dit beteken dat mens ʼn Wrangler net so van die rak af kan vat en die Rubicon Trail in Amerika met hom kan gaan ry. Dis ʼn droom van my om eendag daai einste roete met ʼn Wrangler te ry.

Die Wrangler is maklik om op te som. Dit lyk bitter cool. Die nuwe ratkas-en-enjinkombinasie is fantasties. Sy 4×4-vernuf is onweerlegbaar. Ja, hy’s nie perfek op die teerpad nie, maar dis nie sy eerste tuiste nie. In Suid-Afrika met ons invoerbelasting en huidige wisselkoerse is die Jeep ongelukkig ontsettend duur … maar so ook is al die ander voertuie in sy klas.

Die reeks lyk só:

Jeep Wrangler 3.6 Sahara209 kW/347 Nm9.6 ℓ/100 kmR868 607
Jeep Wrangler Unlimited 3.6 Sahara209 kW/347 Nm9.7 ℓ/100 kmR893 293
Jeep Wrangler 3.6 Rubicon209 kW/347 Nm10.1 ℓ/100 kmR908 365
Jeep Wrangler Unlimited 3.6 Rubicon209 kW/347 Nm10.3 ℓ/100 kmR919 719

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Mahindra Thar 2.5CRDe 4×4 Adventure79 kW/247 Nm7.5 ℓ/100 km2 jaar/50 000 km- waarborg

Diensplan opsioneel

R305 999
Suzuki Jimny 1.5 GLX AllGrip outo75 kW/130 Nm6.8 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km- waarborg

4 jaar/60 000 km- diensplan

R356 900
Mitsubishi Pajero 3.2DI-D GLS driedeur140 kW/441 Nm10.1 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R729 995

Dít is die enigste kortasafstand-mededingers in die mark. Ons sal vroeg in 2021 die nuwe Land Rover Defender 90 sien, en ek dink dit sal die Wrangler se naaste mededinger wees in terme van prys en vernuf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Amee ·

Ek het ‘n Jeep Wrangler Sahara en sal haar vir geen fensie voertuig verruil nie, absoluut gek na my “Gorgeous” Jeepie….teerpad of grondpad :)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.