X3 se mondigwording

Deur Bernie Hellberg Jr.

My eerste ontmoeting met BMW se X3 was tydens die bekendstelling van dié vervaardiger se eerste opgradering van hul middelslag sport-aktiwiteits-voertuig (SAV soos BMW hom noem) bykans 14 jaar gelede. Hoewel ek dus die heel eerste generasie X3 se buiging hier misgeloop het, sou ek verder elke nuwe weergawe en opgradering as motorjoernalis bestuur. ʼn Mens sou kon sê dat ek saam die X3 ʼn paadjie gestap het wat oor drie generasies heen dié SAV sien ontwikkel het van ʼn onseker peuter tot ʼn volwasse keuse vir ernstige motorkopers. En een van BMW se mees suksesvolle motors nóg.

Dat Suid-Afrika deel in daardie sukses is ook ʼn riem onder die hart. Nie net het BMW se aanleg in Rosslyn (buite Pretoria) in 1973 die heel eerste BMW-aanleg buite Duitsland ter wêreld geword nie, maar is dit ook sedert 2018 die sleutelaanleg vir X3-produksie wêreldwyd. Ons voer tans hiervandaan na méér as 30 lande uit – ʼn ware prestasie!

Ek kan amper nie glo dat daar reeds vier jaar verbygegaan het sedert die derde generasie X3 hier geland het nie. Inteendeel, sy stilering veral is steeds so vars soos die dag wat hy bekendgestel is.

Om daardie rede lyk die nuwe X3 se voorste buffer nou oorontwerp, asof BMW verandering vir die onthalwe daarvan aangebring het waar dit nie regtig nodig was nie. Ontwerplyne van die nuwe luginlate en kolligte is ʼn goeie voorbeeld hiervan, en loop bykans teenstrydig met mekaar, wat die ontwerp baie “besig” laat lyk. Dit gesê, ek hou van die effens skerper sierrooster, en van die nuwe, platter, hoofligte wat nou in alle modelle as standaard LED’s is. Agter kry die X3 bonkige nuwe ligte wat met ʼn driedimensionele ontwerp spog, en die dubbeluitlaatpype sit netjieser in die buffer as voorheen, en rond die agterkant mooi af.

In die kajuit het BMW nie te veel aan die ontwerp gekarring nie, maar eerder gesorg vir meer standaardisering regdeur die modelreeks. Alle weergawes – van die intreevlak X3 sDrive 18d, tot die vuurvreter X3 M40i – kry nou BMW se Live Cockpit Professional by, met die meegaande digitale instrumentasie en ʼn 12,3” raakskerm. Soos dit ʼn BMW betaam is die ervaring in die kajuit luuks en alomvattend. Die massiewe raakskerm werk goed, hoewel ek dankbaar is dat BMW nog nie van alle knoppies in die kajuit ontslae geraak het nie. Dit is hoeka tog net eenvoudiger om ʼn knoppie te druk, as om ʼn funksie te gaan soek wat iewers diep in ʼn digitale stelsel weggesteek is!

Ons het tydens die bekendstelling tussen Johannesburg en Noordwes kans gehad om met die 20d M Sport en M40i weergawes van die X3 te ry, en behalwe vir die M-sportsitplekke in die M40i, is dit moeilik om tussen die modelle te onderskei, gebaseer op wat in die binneruim ingesluit is. Ja, ek sou waarskynlik ʼn ander deuntjie gesing het in die intreevlak sDrive 18d of sDrive 18i, maar uit ondervinding weet ons dat meeste kopers nie eers sal bodder met laer spesifikasie modelle nie, en behoort die vier M Sport-motors in die lynstaan die gewildste te wees van die lot.

Die twee modelle wat ons tydens die bekendstelling bestuur het, kan nie méér van mekaar verskil in terme van werkverrigting nie. Die M40i is gebou met spoed in gedagte, en in daardie opsig kwyt hy hom goed van sy taak. Hierdie weergawe lyk ook effe anders as die normale X3. Hy kry M Sport kantspieëls by, sowel as swart afwerking aan die uitlaatpype en sierrooster, ʼn fris drukvlerk, en 21” ligte-allooiwiele.

Met sy kombinasie van laeprofielbande en harde vering trap die X3 egter in ʼn strik wat rygenot betref. Ek verstaan dié is ʼn nodige euwel om die 3.0-liter monster se 285 kW en 500 Nm wringkrag in toom te help hou om ʼn draai, maar sal jy oor die langtermyn elke dag daarmee kan saamleef? Nie ek nie.

Vir my was die xDrive 20d ʼn beter keuse wat rygenot betref, alhoewel ek nie die opsionele 20” M Sport wiele (19” is standaard) sou gekies het nie. Ek was ook heeltemal tevrede met die turbodiesel se 140 kW en 400 Nm wringkrag, synde ook dat laasgenoemde reeds by 1,750 rpm sy piek begin sien, wat dié model meer kragtig laat voel as wat hy werklik is.

Die BMW X3 het in ʼn relatiewe kort tyd ʼn ikoniese model in BMW se moderne reeks geword, en al het hy prysgewys dienooreenkomstig duurder geword, is daar geen twyfel dat hy waarde bied in die marksegment waar hy meeding nie. Ja, gemeet teen motors soos die triomfantlike nuwe Porsche Macan staan die X3 dalk nie meer aan die toppunt van sy segment nie, maar hy verdien sy tweede plek met lof, en sal hy waarskynlik wêreldwyd die verkope rekords weer laat spat.

Die reeks lyk só:

BMW X3 xDrive 18d110 kW/ 350 Nm5,2 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h 9.7 sek

Topspoed 198 km/h

R890 000
BMW X3 sDrive 20i135 kW/ 300 Nm7,3 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h

8.2 sek

Topspoed 215 km/h

R930 000
BMW X3 xDrive 20d140 kW/ 400 Nm5,6 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h

8 sek

Topspoed 213 km/h

R990 000
BMW X3 xDrive 30d M Sport195 kW/ 620 Nm6,6 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h

5.8 sek

Topspoed 240 km/h

R1 200 000
BMW X3 M40i285 kW/ 500 Nm8,9 ℓ/ 100 km0 – 100 km/h

4.5 sek

Topspoed 250 km/h

R1 400 000

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg en 5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.