Yamaha Ténéré 700: T7-konsep eindelik hier

(Foto: Brian Cheyne)

Aan die einde van 2016 plaas Yamaha ’n kort video oor ’n konsepmotorfiets. Die T7.

Die wêreld het behoorlik kennis geneem en dit het gegons oor wanneer hierdie fiets beskikbaar sou wees.

Hier was ’n liggewig, eenvoudige motorfiets waarmee jy op wêreldreise sou kon gaan met die bewese betroubaarheid van ’n Yamaha. Ek dink Yamaha is onkant betrap deur die oorweldigende belangstelling in hierdie fiets, want die produksie-eenheid sou eers in 2020 sy verskyning maak.

Het hy dalk net te lank gewag?

Die Ténéré lyk op die oog af net soos die fietse wat aan die Dakar deelneem. Dit is in wese ’n veldfiets met ’n groot, dun 21-duim-voorwiel en ’n 18-duim-agterwiel.

Die instrumentasie en voorlig sit in ’n hoë omhulsel soos op die Dakar-fietse. Die enjin is dieselfde 689 cc-tweesilindereenheid wat ook diens doen in Yamaha se MT-07 en 54 kW teen 9 000 r.p.m. lewer. Dit is ’n juweel van ’n enjin met ’n karaktervolle brul aan hom.

Verder is daar nie veel aan die Ténéré nie.

(Foto: Willem Ebersohn)

Dis ’n ongekompliseerde fiets met die klem op betroubaarheid eerder as baie elektronika. En hier is waar die Ténéré mense se menings verdeel. Met hedendaagse fietse wat toegegooi is onder elektronika, was daar ’n sekere deel van die mark wat vervaardigers gesmeek het vir ’n eenvoudige fiets.

Gewoonlik as ek fietse kry vir ’n toetsrit, kry ek ’n lesing oor die verskillende ryprogramme en elektroniese hulpmiddels. Nie met die Ténéré nie. Ek moes net weet waar om die sluitwering af te afskakel. Dit is al. Dit is óf aan óf af. Ek is oortuig daarvan as sluitwering nie in Europa verpligtend was op motorfietse bo ’n sekere kapasiteit nie, het die Ténéré dit ook weggelaat.

Die eenvoudige tema gaan voort met die instrumentepaneel. Dit is ’n eenvoudige vloeikristal-eenheid met bonkige syfers. Boaan is ʼn staaf aangebring waarop jy ’n GPS kan monteer en daar is ook ’n 12 V-sok om krag te voorsien. Die voorlig beskik oor dagryliggies en vier LED-lense wat die voorkant van die fiets baie aggressief laat lyk.

Eenvoudig of nie, die Ténéré is ’n mooi fiets.

Die saal is, soos dit ’n veldfiets betaam, plat en bied genoegsame beweegruimte. Die handvatsels is breed en sit redelik hoog. Daar is ook meer as genoeg beweegruimte vir jou voete, selfs met stewels. Die saal is 87,5 cm hoog, wat aan die hoë kant is, maar hy is smal voor wat beteken dat ek platvoet kon staan op die fiets.

Die fiets het ’n aangename brul aan hom. Omdat die fiets nie toegerus is met traksiebeheer nie, het ek versigtig weggetrek, maar die Ténéré se krag is nie so oorweldigend om jou die skrik op die lyf te jaag nie.

Ek het baie gou gemaklik geraak met die fiets en op die teer was hy glad nie ’n handvol nie. Die bande wat dit opgehad het, is aggressiewe grondpadbande wat die teergedeeltes nie heeltemal so maklik gemaak het nie – veral nie in draaie nie. As die teer egter ophou, is die Yamaha in sy element.

Ek was op ’n lang stuk grondpad met los gruis, diep gate en modderpoele, maar niks kon die Ténéré van stryk bring nie. Met sy hoë handvatsels en breë voetrusse was die fiets uiters gemaklik om op regop te staan. Dan kan jy voel hoe die fiets onder jou wriemel, terwyl jy op die pad konsentreer.

Die Ténéré is ’n ongelooflike bekwame fiets. Op die teer en op die grondpad.

Was Yamaha dus verkeerd om so lank te wag?

Ek dink nie so nie. Yamaha het baie tyd daaraan bestee om al die kinkels uit te stryk en ek wil glo dat jy jare lank, sonder probleme, oral op jou Ténéré sal kan ry. Gaan loer gerus in by jou naaste Yamaha-handelaar en gaan oordeel maar self.

Ek was baie beïndruk.

Die fiets is aan my geleen deur Linex Yamaha in Randburg.

Vir spesifikasies besoek: https://www.yamaha.co.za/category/motorcycles/road/T%C3%A9n%C3%A9r%C3%A9%20700

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.