Zontes-buksie nou selfs beter

Zontes het onlangs ’n groot promosie op al sy 310-modelle gehad, en ek het gevra of ek weer met die 310-R kan ry.

Dit was die eerste van Zontes se vier 310-modelle waarmee ek gery het, en ek wou net bevestig of alles nog so goed voel soos ek onthou. Soos onlangs berig is Zontes hard besig om weer sy voete te vind in die Suid-Afrikaanse mark, maar die laaste jaar was swaar vir enige vervaardiger in die 250 cc- tot 500 cc-marksegment. Daar is nie ’n tekort aan modelle nie, maar eerder aan kopers.

Zontes luister graag na die terugvoer van kliënte, en hierdie model is onlangs opgedateer. Die stilering het gelukkig onveranderd gebly, want die klein Zontes lyk baie aggressief met sy opwipstert en skerp lyne. Die voorlig het ingeboude dagryliggies en herinner nogal aan iets uit ’n Transformers-fliek. Die klein driehoekige skermpie van die vorige model is nou vervang met Zontes se goeie TFT-skermpie. Jy kan stel hoe regop of hoe plat die skermpie moet wees, afhangend van jou voorkeur.

Zontes het verder die remme verbeter en ook ’n nuwe koppelaar ontwerp. Klein veranderinge is aangebring aan die enjin wat sorg vir ’n geringe verbetering aan die verrigting van die 312 cc-enkelsilindereenheid. Zontes het nou ook banddruksensors in albei wiele en die banddruk word vertoon op die skerm.

Zontes het ’n toepassing waarmee jy jou foon met die fiets kan koppel. Die app is egter nog nie heeltemal reg vir ons mark nie, en ek kon nie die navigasie aan die werk kry nie. Ek dink dit het te doen met my foon wat Google Maps wil gebruik in plaas van die Zontes-app se navigasie. Ek glo hulle sal binnekort ook hierdie klein uitdaging kan oorkom. Die skerm het wel gewys as ek ’n oproep ontvang.

Al die ander eiesoortige Zontes-eienskappe is steeds in die nuwe model aanwesig. Alles word steeds elektries oopgemaak met die sleutel in jou sak. Zontes het besef dat die sleutel se battery kan pap word en dat dit jou dan gestrand kan laat. Daarvoor het hulle nou ’n bykomende nabyheidsensor ingebou dat jou fiets darem sal aanskakel, al is die sleutel se battery pap.

Die toetsfiets was afgewerk in ’n baie aantreklike kleur wat wissel tussen blou en pers, afhangend van hoe die lig daarop val. Die fiets is uiters treffend en het oral koppe laat draai. Op die oop pad is daar niks fout met hierdie buksie nie. Hy het oorgenoeg woema om maklik as ’n pendelfiets aangewend te word. Voor jy die fiets veroordeel oor sy herkoms, gaan vat hom ten minste vir ’n toetsrit. Jy mag net aangenaam verras word!

Die feite:

Enjin312 cc enkelsilinder
Gewig (Nat)175 kg
Kraglewering26 [email protected] 500 rpm
Wringkrag30 [email protected] 500 rpm
Tenkkapasiteit15 ℓ
Saalhoogte795 mm

Besoek gerus Zontes se webwerf vir nog inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.