Zontes en BMW se 310’s gaan soek spoke  

Die spookdorpie Diepgezet. (Foto: Brian Cheyne)

Net langs die Swaziland grens, tussen die twee grensposte Josefsdal en Oshoek, lê die dorpie Diepgezet. ’n Spookdorp. Die dorpie was die tuiste van die mense wat by die Msauli-asbesmyn gewerk het. Die myn het egter in 2001 gesluit en die hele dorpie het doodgeloop.

Ek is in 2014 daar deur en dit was ’n ongelooflike ervaring. Die leë huise en geboue het gestaan asof die wegraping plaasgevind het. Die hotel se kroeg en die kerk het gelyk of iemand net verlede week nog hier was. Ek het besluit om die langnaweek te benut om weer die plek te gaan besoek en terselfdertyd nog ’n ander spookdorp op te soek op die grondpad tussen Pelgrimsrus en Bourke’s Luck.

(Foto: Brian Cheyne)

My BMW G 310 GS en ek was weer lus vir ’n lang rit, maar weens die afgeleë plekke wat ek sou besoek, het ek besluit om Maarten, ’n maat van my, saam te nooi. Ek het by Zontes aangeklop vir hulle 310-T2, want ek het gevoel dit kan sommer dien as ’n vergelykende toets van hierdie twee fietse.

Ons het vroeg weggespring uit Pretoria en die vervelige N4 agter die rug gekry. Net na Middelburg het ons afgedraai Carolina toe. Die twee fietsies kon maklik die spoedgrens handhaaf, hoewel die Zontes se spoedmeter heel optimisties is. In terme van gemak het die GS ’n meer ontspanne sitposisie, maar die Zontes sal dalk meer gemaklik wees vir korter ryers. As jy nou en dan moet staan om die agterstewe te rek, dan is die Zontes weer meer gemaklik. Die GS se handvatsels voel vir my laer.

Die Bulembupas. (Foto: Brian Cheyne)

Van Carolina af het ons deur Barberton gery en die pad na Josefsdal aangepak. Die Bulembupas is net meer as 26 km lank, en dit bevat 124 draaie. Dit is enige motorfietsryer se droom. Die klein 310s het nou nie juis baanrekords verbeter nie, maar albei fietse het die draaie heel goed hanteer. Die fietse se spesifikasievlakke is amper identies. Die Zontes was nie heeltemal gemaklik soos die spoed geklim het nie, maar ek is seker met beter bande sal die fiets heelwat beter hanteer.

Voor Josefsdal draai jy af in die rigting van Oshoek op ’n baie goeie grondpad. Dit bevat heelwat kort draaie soos jy afsak in die vallei, maar die padoppervlak is goed genoeg dat jy hierdie pad kan ry in ’n gewone sedanmotor.

My teleurstelling was groot toe ons eindelik by Diepgezet aankom. Die dorp is gestroop van alle metaal en al die huise se dakke is verwyder. Selfs die ou kroeg se blad is weggedra. Ek wou weg. Ek wou nie sien wat hier gebeur het nie.

Ons het op ons spore teruggery en van Barberton na Nelspruit gery waar ons by ’n ou kennis oorgeslaap het. Die volgende oggend is ons noord in die rigting van Graskop. My gunstelingpad van almal is die pad van Sabie na Graskop. Lang draaie en pragtige natuurskoon het my skoon laat vergeet op watter fiets ek myself bevind. Albei fietse het hulle goed van hulle taak gekwyt.

Selfs op die grondpad tussen Bourke’s Luck en Pelgrimsrus het die twee fietse my verbaas. Omdat hulle so lig is, het hulle glad nie gesukkel op die grond nie. Die GS se sluitwering op die agterwiel kan afskakel, maar die pad was nie van so aard dat ek dit ooit nodig geag het om dit af te sit nie.

(Foto: Brian Cheyne)

Selfs my vriend wat ’n heilige vrees vir ’n grondpad het, se vertroue het so gestyg dat hy klaar beplan om weer hierdie pad te kom ry. Die dorpie op hierdie pad is ook van al sy metaal gestroop, maar daar was ’n andersheid daaraan. Seker omdat ek die plekkie vir die eerste keer gesien het.

Na 1 000 km in twee dae is die natuurlike vraag: watter een is die beste? En hier wil ek onomwonde sê dat daar nie ’n algehele wenner is nie. Elke fiets het sy voor- en nadele. Die GS se ergonomie wen vir my lengte, maar die Zontes is heelwat gladder en beter gespesifiseer as die BMW. Die BMW het ’n beter handelaarsnetwerk, maar ek het eenvoudig volle vertroue in die Chinese produk as dit by betroubaarheid kom. Selfs ons brandstofverbruik was byna identies. Ons het 27 km/ℓ (3,7 ℓl/100 km) gehandhaaf oor die twee dae.

Dit sal onregverdig wees om een fiets uit te sonder want albei het ons veilig tot daar en terug besorg, en dit is tog waaroor avontuur gaan!

BMW G 310 GSZontes ZT310-T2
Enjinkapasiteit313 cc312 cc
Kraglewering25 kW teen 9250 rpm26 kW teen 9500 rpm
Saal hoogte835 mm830 mm
Gewig (nat)175 kg193 kg
Brandstoftenk11 ℓ19 ℓ
Webtuistehttps://www.bmw-motorrad.co.za/en/models/adventure/g310gs.htmlhttps://www.zontes.co.za/zt310-t2-orange/
PrysVanaf 89 000Vanaf R87 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.