Zontes is weer goed op dreef

(Foto: Brian Cheyne)

Die maatskappy Race Screen Technology het in 2017 die Suid-Afrikaanse mark betree met Zontes- en Kiden-motorfietse. Albei hierdie modelle word deur dieselfde fabriek vervaardig; die gehalte van die produkte is dus op dieselfde vlak. Om egter enigsins ’n indruk te maak as ’n nuwe speler in die Suid-Afrikaanse motorfietsmark, is bitter moeilik. Hier verkoop ons nie groot volumes nie, en verder word die mark deur groot avontuurfietse oorheers. As jou produk nog boonop van China af kom, dan loop die grappies en die vooropgestelde menings.

(Foto: Brian Cheyne)

As jy egter mooi gaan besin oor hoe goed Chinese produkte in ’n baie kort tydjie geword het, dan moet jy Zontes ernstig opneem. Hulle reeks het ook mettertyd uitgebrei en hulle bied ʼn redelike verskeidenheid om uit te kies. Die pandemie het almal onkant gevang, en net toe Zontes begin groei toon, moes almal noodgedwonge deure toemaak en wegkruip. Een positiewe gevolg van die pandemie was dat tuisaflewering skielik geweldig toegeneem het. Dit het tot gevolg gehad dat die aanvraag na afleweringsfietse die hoogte ingeskiet het.

Jaco van der Merwe en Theo Cahill (Foto: Brian Cheyne)

Die Kiden KD125-K is uiters gewild vir aflewering. Een van Zontes se klante, Theo Cahill, het ’n vloot van 24 Kiden‑motorfietse. Ek en Jaco van der Merwe, wat die fietse invoer, het by Theo gaan inloer en met hom oor sy onderneming gesels. Hy verhuur sy fietse aan drywers wat weer op hul beurt by verskeie afleweringsmaatskappye werk. Hy onderhou self al sy fietse. Hy vertel dat hy spesifiek die Kiden gekies het omdat hulle betroubaar is en goedkoop is om te onderhou. Twee van sy fietse het alreeds 100 000 km afgelê en loop steeds sterk. Dit wil gedoen wees vir ’n 125 cc‑fiets!

Kiden KD125-K

Race Screen Technology se pakhuis was aanvanklik in Kaapstad en het onlangs na ’n groter en beter fasiliteit in Montana, Pretoria, geskuif. Weens die ontwrigting van die pandemie het skeepsvrag soms tot tien maande geneem om in Suid-Afrika aan te kom. Dit is nou as hulle ’n hawe kan kry waarvan die rekenaarstelsels nog werk. Dit het beteken dat Zontes ’n tyd lank nie hulle klante na wense van onderdele en nuwe modelle kon voorsien nie. Hulle pakhuis is egter nou weer propvol en behoort vir die afsienbare toekoms nie meer probleme te hê met onderdele nie.

Zontes 310-R (Foto: Brian Cheyne)

Vir aflewering of beginnersfietse het Kiden ’n reeks 125 cc‑fietse en vir die meer ervare ryers bied Zontes ’n fiets vir enige smaak met hulle 310‑reeks. Daar is vier modelle in die reeks en hulle is meganies eenders. Die 310-R is soos ’n kaalfiets gestileer, die 310-X het vol bakpanele en die 310-T is Zontes se avontuurfiets. Dan het hulle ook die 310-V wat soos ’n toerfiets lyk. Ek het al hierdie modelle gery en kan getuig van goeie verrigting en afwerking. Die 310-X is vir my ook seker die mooiste fiets in hierdie klas. Ek het selfs ’n rit onderneem van Pretoria na Verneukpan in die Noord-Kaap en daarvandaan tot in Kaapstad op ’n 310-T.

Hulle het tans heelwat promosies op die reeks fietse; so gaan loer gerus op hul webtuiste.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.