Zontes se 310-T2-buksie nog verder verbeter

(Foto: Brian Cheyne)

Zontes se mededinger in die sub-500 cc-avontuurfietsklas is die 310-T. Ek het al baie sorglose kilometers met só een afgelê. Trouens, dit was die einste fietsie wat my van Pretoria tot by Verneukpan geneem het. Van daar af was ek Kaap toe met hom, so aan sy betroubaarheid is daar min twyfel. Een lastigheid van die fiets was sy klein voorwiel wat gesukkel het as die pad ’n sandkol of twee het. Ek dink in elk geval nie dat Zontes vreeslik rowwe paaie in gedagte gehad het vir die buksie nie. Hoe dit ook al sy, hulle het hierdie tekortkoming aangeraak met die nuwe T2-weergawe.

(Foto: Brian Cheyne)

Nie net het die T2 ’n 19”-voorwiel nie, maar hy kom nou uit met speke in plaas van allooivellings. Die speekwiele lyk goed en dit gee die fiets ’n nuwe, aggressiewe voorkoms. Die agterwiel se grootte het onveranderd gebly. Zontes moes die voorste modderskerm groter maak, en het terselfdertyd ’n buigbare plastiekeindstuk aangebring. Dit behoort te help dat modder nie oral spat nie. Die beskermende pypwerk is steeds standaard op die T2 en dra by tot die treffende voorkoms van die fiets. Dit is asof hulle ons wil uitdaag om meer en verder te verken.

(Foto: Brian Cheyne)

Daar is ’n nuwe koppelaar ontwerp, maar die enjin het onveranderd gebly. Ander noemenswaardige verbeteringe is die nuwe, groter brandstoftenk. Dit hou nou 19 ℓ, en met die fietsie se suinige brandstofverbruik gaan jy baie ver kan ry op ’n tenk petrol.

Laastens is daar ’n nuwe TFT-instrumentepaneel wat die vorige model se vloeikristaleenheid vervang. Hierdie eenheid is nou op ál meer Zontes-fietsies te sien en dit is ’n baie treffende uitleg. Daar is vier temas om uit te kies en dit kan met jou selfoon koppel.

Hierdie klein kosmetiese veranderinge maak die 310-T2 ’n baie aantreklike opsie in hierdie deel van die mark. Zontes het nog ’n nuwe model of twee wat op pad is, wat my baie opgewonde maak. Met die brandstofprys wat nou weer opgaan, is dit nie tyd dat jy tog maar ’n motorfiets aanskaf nie?

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.