Nuwe Mej. Suid-Afrika neem by Zozi oor

Sasha Lee Laurel Olivier is aangewys as mej. SA 2019. (Foto: Verskaf)

Sasha-Lee Laurel Olivier is aangewys as mej. SA 2019. (Foto: Verskaf)

Sasha-Lee Laurel Olivier is aangewys as die nuwe Mej. Suid-Afrika vir 2019. Sy neem amptelik dié titel oor by Zozibini Tunzi wat in Desember verlede jaar as Mej. Heelal gekroon is.

Olivier (26), was die naaswenner van verlede jaar se Mej. Suid-Afrika-kompetisie en het in Desember Suid-Afrika verder op die Mej. Wêreld-verhoog gaan verteenwoordig. Sy het die top-40 in dié skoonheidskompetisie gehaal.

Olivier het gesê sy is opgewonde om die Mej. Suid-Afrika-kroon te dra. “Ek is so bly vir Zozi wat op elke manier denkbaar dit verdien om die Mej. Heelal-kroon te dra. Ek wens haar alle sukses toe en ek het groot skoene om te vul. Ek wil hê Zozi moet weet dat ek my bes sal doen om haar skoene vol te staan.”

Tunzi het op haar beurt uit New York, waar sy nou woonagtig is, gesê sy is verheug dat Olivier die leisels by haar oorneem.

“Ek kan nie aan iemand dink wat meer gepas is om Mej. Suid-Afrika te wees nie. Sasha het alles: skoonheid, verstand en bowenal toewyding om ander te help. Ek twyfel nie dat sy die platform sal gebruik om die lewe van mense in nood te verbeter nie.”

Stephanie Weil, hoof van die Mej. Suid-Afrika-organisasie, het gesê Olivier sal voortaan alle verpligtinge as Mej. Suid-Afrika nakom sowel as haar verpligtinge teenoor die borge van die kompetisie.

“Ons is baie gelukkig om Sasha as die nuwe Mej. Suid-Afrika aan te kondig, omdat sy heeltemal toegewyd is en gereed is om dié rol te vervul,” het Weil gesê.

Olivier het bygevoeg dat sy in die rol van Mej. Suid-Afrika haar werk kan voortsit om vroue, mans, dogters en seuns wat, net soos sy, seksueel misbruik is te help.

“Dit is ʼn top-prioriteit vir my tydens my tyd as Mej. Suid-Afrika,” het sy gesê.

Zozibini Tunzi en Sasha-Lee Laurel Olivier (Foto: Instagram)

Olivier beplan om haar “Beauty with a purpose”-veldtog, waarmee sy in Desember na Londen gereis het vir die Mej. Wêreld-kompetisie, voor te sit.

“ʼn Baie diep gevoel van skaamte gaan saam met verkragting en langtermyn- seksuele mishandeling. Die slagoffers voel verantwoordelik vir hul eie mishandeling en is skaam daaroor dat dit gebeur, of dat dit met hulle gebeur het. Ons moet dringend die status quo daaroor verander – skaamte behoort glad nie by die slagoffer te lê nie,” het Olivier vroeër oor dié veldtog gesê.

“Ek wil die slagspreuk #ItsNotYourFault gebruik om vir mans en vroue te wys dat hulle geensins die skuld moet dra vir wat aan hulle gedoen is nie.”

As deel van die veldtog sal Olivier uitreik na mense wat ʼn seksuele aanval by ʼn polisiestasie aanmeld, omdat dít die mense is wat die kwesbaarste is.

“Ek wil hê die slagoffers moet weet dat hulle nie alleen is nie, dat hulle gesien en gehoor word en dat hul waardigheid nie minder is omdat hulle seksueel aangerand is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Norset

Vrek, sy is mooi!

Sophia

Hulle altwee is pragtig!!!

KaterinaKat

Wat het van Zozi geword?

Nettie

@KaterinaKat, die Zozi-vroumens is as Miss Universe gekroon en moet vir haar kroningsjaar in NY, VSA woon om haar verpligtinge na te kom – sy kan dus nie Miss SA óók gelyktydig wees nie.

Patrys

Genade maar sy is mooi!