Omroeper deel fiksheidswenke vir werkende ma’s

Rozanne McKenzie. (Foto: Verskaf)

Hoewel haar stem weekdae op die klankgolwe van een van Suid-Afrika se grootste radiostasies te hoor is, is Rozanne McKenzie soos enige ander werkende ma wat balans tussen haar besige beroep, gesin en eie gesondheid probeer vind.

Sy weet ouerskap alleen is ʼn heeltydse werk wat jou reeds besige dag met bykomende verantwoordelikhede en uitdagings kan belaai. Gevolglik is iets soos oefening en fiksheid die laaste ding op ʼn ouer se prioriteitslys.

McKenzie, wat weekdae tussen 12:00 en 16:00 saam met radio-legende Alex Jay “The Workzone” op Jacaranda FM aanbied, het ook haar eie onderneming wat digitale inhoud skep én sy doen ook televisiewerk. Sy het dus begrip vir werkende ma’s se uitdaging om oefening by hul daaglikse skedules in te pas.

Sy het egter ʼn suksesresep gevind wat sy met ander wil deel:

Handel jou sweetsessie in die oggende af

Vir McKenzie bied ʼn oefensessie in die oggend die nodige dosis endorfien om haar dag met albei hande aan te pak. Dit bied haar ook meer vryheid om die res van die dag op haar omroeperswerk en ander sakepogings te fokus. Haar tweeweeklikse paaldansklasse word egter net in die aande aangebied en sy erken dat sy soms sukkel om saans energie vir oefening te hê, maar beter voel sodra sy aan die gang kom.

Jy hoef nie elke dag ʼn uur in die gim deur te bring nie

As haar dag nie ʼn sessie by die gimnasium toelaat nie, het sy ʼn paar kort funksionele oefeninge wat sy op haar foon stoor en binne 15 minute kan afhandel. Sy doen onder meer ʼn paar stelle lons-bewegings (lunges), burpees en hurk-oefeninge (squats). “Dit gaan nie oor ure se oefening nie, maar net die liggaam elke dag ʼn bietjie beweeg,” sê dié ma van twee.

Stel vir jouself realistiese en haalbare doelwitte

Volgens McKenzie is doelwitstelling ʼn noodsaaklike deel van haar fiksheidsreis. “My doelwitte kan verander, so as ek nie iets bereik het in die tydraamwerk wat ek vir myself uiteengesit het nie, hou ek daaraan werk, kyk hoe ver ek gekom het en waar ek kan verbeter.”

Sy voeg by dat doelwitte aan die begin ook eenvoudige goed kan wees soos om meer water te drink of meer groente te eet. “Dit is onrealisties om te sê jy wil 100 kg se gewigte optel as jy net ʼn maand gelede begin oefen het. Begin met klein en haalbare doelwitte.”

Haar belangrikste stukkie advies vir ma’s wat hul gesondheidsreis wil begin is om nie dadelik ʼn fiksheidsheld te wil wees nie.

Eksperimenteer met oefening

“Daar is soveel verskillende en veelsydige maniere waarop jy oefening kan kry, eksperimenteer tot jy iets kry wat vir jou lekker is,” vertel die amper 40-jarige, wat hoë intensiewe oefening sowel as haar paaldansklasse geniet.

“Paaldansklasse is fisiek én geestelik goed vir my en ek is elke keer verstom om te sien hoe sterk my liggaam word en waartoe ek in staat is, selfs as ek in party klasse sukkel. Boonop maak dit my beter met my hoë intensiewe oefening.”

Begin met basiese beginsels

Haar belangrikste stukkie advies vir ma’s wat hul gesondheidsreis wil begin is om nie dadelik ʼn fiksheidsheld te wil wees nie.

“Dis ʼn luuksheid, maar as jou gim afrigters het, moenie bang wees om hulp te vra nie. Hulle kan jou help om ’n sterk fondasie te bou en ’n program uit te werk wat strook met jou fiksheidsvlak en vermoëns.

“ʼn Goeie sportbra en die regte oefenskoene sal ook die wêreld se verskil maak en dit hoef nie duur te wees nie,” voeg sy by.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

pamela ·

Ek is mal oor Roz en stem 100% saam met haar dat jou oefen of “sweet” sessie in die oggende afgehandel moet word. Dis dalk nie altyd moontlik nie, maar defnitief die beste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.