10-punt-plan om matriek lag-lag te slaag

CM Kriel (Foto: Facebook)

Deur CM Kriel

Die blote gedagte aan matriek laat sweet op meeste leerders se voorkop uitslaan. Dit is egter onnodig. Uit my eie ervaring as matrikulant aan die Hoërskool Eldoraigne in 2016 het ek geleer dat ’n mens nie matriek hoef te vrees nie – jy moet matriek met ’n plan en doeltreffendheid aanpak. Hier volg ’n eenvoudige, maar effektiewe plan om matriek kaf te draf:

  • Maak seker dat jy graad 11 se werk onder die knie het, want die werk in matriek volg op die vorige jare. As jy matriek wil aanpak sonder om jou graad 11 werk te ken, is dit soos om ’n huis te probeer bou op ’n swak fondasie.
  • Let op in die klas, jy is reeds by die skool en kan net sowel oplet terwyl jy daar is! Indien jy oplet in die klas, maak dit die las van die leerwerk soveel ligter.
  • Woon ekstra klasse by, hierdie klasse is nie net vir studente wat sukkel nie, maar ook vir toppresteerders. Die mense wat hierdie klasse aanbied, ken die werk en weet wat belangrik is.
  • Werk hard, speel hard. Indien jy moet leer, maak seker dat daar niks is wat jou aandag aftrek nie en dat jy net op die werk kan fokus. As jy met oorgawe leer, sal jy jou blaaskans verdien. Die enigste plek waar sukses en speel voor werk kom, is in die woordeboek.
  • Hou jou vriende naby, want dit is die mense wat jou nuwe energie en motivering sal gee. My vriende het ’n baie groot rol gespeel in my hoërskooljare en daarvoor sal ek hulle ewig dankbaar wees.
  • Wees betrokke by die skool en al die aktiwiteite wat jy moontlik kan. Dit sal jou gedagtes vir ’n rukkie van die werk af hou en sal jou ook motiveer om hard en doeltreffend daarna te werk.
  • Werk ou vraestelle deur, want die mense wat die toetse opstel, is dikwels nie fluks nie. Die vrae in die eksamens is dikwels min of meer dieselfde. Hierdie vraestelle gaan jou baie selfvertroue gee en jy kan baie daaruit leer.
  • Dit is baie belangrik om te ontspan. Jy kan nie heeltyd werk nie. Gee jou brein ook tyd om ’n bietjie af te skakel, sodat jy weer daarna met ywer kan leer.
  • Leer uit jou foute in die Junie- en rekordeksamen. Moenie dat ’n slegte punt in hierdie eksamens jou gemoed verswak nie. Gebruik eerder hierdie foute en leer daaruit, want die eindeksamen gaan min of meer dieselfde vrae bevat.
  • Besef die erns van die saak en maak gedissiplineerde keuses. Jou matrieksertifikaat gaan jou hele lewe saam met jou en die meeste werkplekke gaan jou punte sien wat jy vir hierdie eksamen kry.

Geniet jou matriekjaar, die tyd vlieg baie vinnig verby en voor jy sien, is jy al amper klaar met universiteit of reeds besig om te werk. Moenie die tyd om wens nie en waardeer elke oomblik wat daar is.

 

Dié artikel is deel van ‘n reeks om matrikulante aan te moedig en te motiveer tydens die eindeksamen.

Terloops, om jou matriekuitslae te kry was nog nooit só maklik nie. Maroela Media het die “Maroela Matrieks”-app ontwikkel om dit vir matrikulante so gerieflik as moontlik te maak om toegang tot hul uitslae te kry sodra dit vrygestel word. “Maroela Matrieks” is beskikbaar vir Android– en iOS-slimfone. Laai die app nou af, dis die eerste stap ter voorbereiding vir jou groot eksamen!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.