10 wenke vir ʼn sport-ouer

Argieffoto (Foto: KeithJJ, Pixabay)

Die sportveld is ʼn potensiële slagveld vir enige ouer. Almal wil die beste hê vir hulle kind. Ons gedrag, gesprekke en invloed kan egter bepaal hoe hulle sport beleef, hoe goed hulle doen en of dit enigsins van opvoedkundige waarde vir hulle is. Gegewe dat minder as 0,1 % van skoolatlete en -spelers ná skool gaan deelneem op ʼn professionele vlak, en baie ouers hul kinders sport laat doen vir opvoedkundige redes, moet mens seker maak dat dit wel gebeur.

Uit my ervaring met spelers, afrigters en ouers het ek gevind hierdie riglyne help almal om nugter te bly wanneer dinge druk begin gaan.

  1. Eerstens, wees ʼn ondersteuner. Maak seker dat jou kind weet jy ondersteun hulle ongeag wat. Maar moet nie die rol van die afrigter, spanmaat of onderwyser probeer oorvat nie. Dit skep ʼn gevaarlike presedent, verwar die kind, ontstel ander betrokkenes en maak dit moeilik om te fokus op dit wat eintlik saak maak.
  2. Dan, praat positief oor spanmaats, die afrigter en ander ouers. Elke keer wat jy ʼn afrigter slegsê voor jou kind maak dit dat hulle volgende keer sukkel om die afrigter te vertrou. Dit geld ook kritiek op ander spelers. Sportspanne funksioneer baie beter as daar vertroue is. Moet nie teen-produktief optree nie.
  3. Wees versigtig met kritiek op jou eie kind. Tydens deelname is dat glad nie nodig nie. Direk ná ʼn wedstryd ook nie. Wag ʼn uur of vyf. Gesels die volgende dag. Dit gee jou ʼn kans om bietjie te bedaar en om perspektief te kry en te bepaal wat regtig waarde sal hê. Die kind gaan waarskynlik ook dan beter kan luister. Direk ná ʼn wedstryd is hulle velle baie dun. Wees ʼn ondersteuner.
  4. Hê realistiese verwagtinge. Ongesonde druk kan keer dat jou kind sy potensiaal verwesenlik. Plaas druk op hulle werksetiek (binne perke), gedrag, ens. Soos hierbo gesê, min gaan uiteindelik professioneel deelneem. Baie hou op omdat ander se verwagtinge vir hulle te veel geword het. Dit haal die plesier uit die sport uit.
  5. Lê eerder klem op hulle veg- en sportmangees. Maak seker hulle gee hulle beste. Respekteer die opponente, skeidsregter en ander wat betrokke is. Hier leer mens gewoontes aan wat jy later kan oordra na jou professionele lewe.
  6. Hanteer beserings en ongesondheid reg. Niks is belangriker as jou kind se welstand nie. Gee aandag aan beserings. Luister na die aanbevelings van die spesialiste. Gee hulle kans om volkome te herstel. Net so as ʼn kind siek is. Dis nie die moeite werd om hul gesondheid te ondermyn nie.
  7. Op ʼn emosionele vlak moet mens uitbranding voorkom. Om vir ʼn te lang tydperk onder te veel druk te wees sonder om volkome te ontspan sal maak dat ʼn speler in ʼn stadium nie meer kompeterend kan wees nie. Hulle motivering gaan verdwyn. Hulle gaan geen fisiese en emosionele energie hê nie. Dis belangrik om te kyk na die hoeveelheid tyd wat spandeer word aan oefeninge, kompetisie ens.
  8. Balans tussen sport en die res van hulle lewe is hier belangrik. Moenie jou gesinslewe inboet vir sport nie. Veral as daar dalk ander kinders is wat ook behoeftes het. Baie keer kry die sportkind se behoeftes voorkeur. Maak seker daar is naweke en vakansies wat nie net om sport draai nie. Moedig ander belangstellings en ʼn sosiale lewe aan.
  9. ʼn Gesonde riglyn is om hul toewyding te ewenaar. Veral soos hulle ouer word. Moenie ʼn loopbaan kunsmatig aan die lewe hou nie. As hulle hard werk en die ekstra myl stap, probeer dit doen binne wat vir jou moontlik is. Maar as hulle nie toegewyd is nie, moet julle besluit oor die pad vorentoe.
  10. So, hou dit dus opvoedkundig. Dis leersaam as ʼn kind kan leer harde werk lei tot sukses. Dat hulle kan sien soms is daar teleurstellings, maar dat mens se reaksie daarop meer belangrik is. En dat daar vreugde daarin is om saam en teen ander te kompeteer en van die veld af mekaar in die oë te kan kyk.

 

*Gielie Hoffmann werk as geestesbreier met atlete, spelers en spanne. Sy boek, The Tough Athlete, is op Amazon beskikbaar. Hy help gereeld afrigters en ouers om hierdie balans te vind.

Meer oor die skrywer: Gielie Hoffmann

Gielie Hoffmann doen as leierskapskonsultant leierontwikkeling by skole en universiteite. Daarmee saam help hy sportspanne en atlete om geestelik voor te berei.

Deel van: Ouerskap, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.