7 maniere om suksesvol te wees in die wiskunde-eksamen

wiskunde-02

Foto: Antoine Dautry/Unsplash.com

Deur Johan Koekemoer, hoof van die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW)

Hier is ‘n paar wenke wat leerders kan help met die voorbereiding vir hulle wiskunde-eksamens:

  1. Oefen konstruktief

Dit is seker die belangrikste stuk advies wat ons vandag vir jou gaan gee. Wiskunde is ʼn praktiese vak, so om bloot formules uit jou kop te leer soos ʼn papegaai, gaan jou nie ver bring nie. Kry ou vraestelle in die hande en werk hulle uit. Vraestelle is beskikbaar op ʼn verskeidenheid van webwerwe, maar kyk gerus op Markplein en die Departement van Basiese Onderwys se webtuistes.

  1. Leer uit jou foute

Om vraestelle uit te werk is egter net die eerste stap in hierdie proses. Maak seker jy verstaan waar jy jou foute gemaak het en leer hieruit. Hoe meer jy jou eie foute raaksien, hoe makliker gaan dit vir jou wees om in die eksamen daardie foute te vermy. Die uitwerk van ou vraestelle is meerdoelig. Dit gee jou selfvertroue en dit help jou om baie foute te maak. Hoe meer foute jy maak en daaruit leer, hoe beter. Jy moet jou vrees vir foutering tem en dit kan jy net reg kry deur ʼn ingesteldheid te kweek van uit jou foute leer.

  1. Gaan verder

Moenie net stop by dit wat jy in die klaskamer kry nie. Gaan verder, lees wyer en kyk op die internet wat doen ander mense. Daar is verskeie aanlyn video’s waarna jy kan kyk en indrukwekkende speletjies en apps wat jy kan aflaai om wiskunde verder te verken as deur net jou handboek te gebruik.

  1. Bou ʼn woordelys

ʼn Baie praktiese ding wat jy kan doen, is om ʼn woordelys op te stel van moeilike konsepte en terme in wiskunde en seker te maak jy verstaan al die terme. Skryf dit neer en gaan dit gereeld deur.

  1. Maak seker jou leeromgewing ondersteun leer

Die waarde van ʼn skoon lessenaar moet nie onderskat word nie. Maak ook seker jy het ʼn definitiewe leerarea waar jy op jou werk kan fokus. Wanneer jy moeg is, stap weg van die spasie en gaan ontspan in ʼn ander area. Luister gerus ook na musiek, veral barokmusiek.

  1. Bly positief

Deur die eksamen met ʼn positiewe gemoed aan te pak, kan werklik ʼn groot verskil in jou uitslae maak. Maak die doelbewuste besluit om die werk goed te leer en te verstaan (in teenstelling met net om dit te leer om die toets te slaag). Jy weet nooit,, dalk verras wiskunde jou.

  1. Bestuur jou tyd

Tydens die eksamen is ʼn mens geneig om uit tyd uit te hardloop. Gebruik jou 10 minute leestyd en identifiseer die vrae wat jy verseker weet jy suksesvol sal kan voltooi. Begin eerste daarmee. Jy mag jou vraestel in enige volgorde antwoord; so jy mag by vraag 6 begin en dit met vraag 10 opvolg. As jy ’n vraag nie kan antwoord nie, beweeg dan aan, moet nie tyd daarop mors nie.

Die Skoleondersteuningsentrum se VAW beplan om ʼn memorandum van die wiskunde-vraestel Vrydagmiddag beskikbaar te stel. Die memorandum sal by www.skole.co.za/wiskunde afgelaai kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Michael Bouwer ·

Ek stem absoluut saam met wat gese word behalwe die idee dat wiskunde prakties is.

Dit is in MY OPINIE een van die hoof redes hoekom kinders sukkel . Jy moet soveel tyd spandeer om jou wette te leer as om dit toe te pas. Jy kan trig doen tot dat jy flou word en jy gaan nerens kom as jy nie weet vaarvoor om te kyk nie (As jy nie jou identiteite ken nie).

Ek help geen student/leerder en dit geld vir beide Universiteit en skool as hulle by my aan kom en hulle ken nie hulle wette nie. Hoe wil jy meetkunde doen as jy nie eers jou theorems ken nie. Hoe wil jy eksponente, logs, differentiation, integration ect ect doen as jy nie die teorie en identiteite geleer het nie.

Soveel soos wat wiskunde n’ prakties vak is, net soveel teorie is daar om te leer.

Onnie ·

Stem saam Michael! Ouers kom kla en sê hulle kinders verstaan nie die wiskunde nie. Daar is een ding wat baie ouers en kinders nie verstaan nie. JY MOET JOU TAFELS EN REELS EN WETTE LEER!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.