7 slim wenke hoe ouers tyd kan maak

(Foto: Guille Pozzi/Unsplash.)

Deur André Badenhorst

“Daar is gewoon nie tyd nie.” Hoe dikwels hoor ons nie hierdie woorde nie? Dan kom die antwoord: Maak tyd! Maar hoe maak ʼn mens tyd as daar net 24 uur in ʼn dag is? Moet die antwoord dan nie eerder wees maak tyd op nie? En as dit dan so is, wat beteken dit? Moet ʼn mens dan minder slaap of minder ontspan? Minder vakansie hê?

Vir die reeds oorwerkte ouer is hierdie antwoorde ʼn doodskoot. Glad nie volhoubaar vir jou wat al klaar jou alles gee nie. Wanneer daardie tipe antwoorde na jou toe geslinger word, voel dit asof jy verder die dieptes in afgly in ʼn reeds oorvol see van verantwoordelikhede wat jou aandag verg, te midde van die nimmereindigende en nuttelose onderbrekings in die tye wanneer jy voel jy uiteindelik ʼn tydjie het. En dan is daar die goëlballe; daardie dinge wat jou van die kant af tref en jou dag of lewe totaal omver gooi. Soos kinders wat siek word, of een of ander gedragsprobleem, of vervoerprobleem na ʼn kultuur- of sportoefening het. Dan praat ʼn mens nie eens van die kriewelrigheid onder jou kollegas nie, veral hier aan die einde van ʼn kwartaal. En jou kosbare, maar veeleisende beroep, nee liewer ʼn roeping, want watter mens by sy volle verstand sal net vir die geld tot laat aand spartel aan iets wat jy weet nie regtig tot ʼn einde sal kom nie?

‘Same procedure as last year, miss Sophie,’ sê die dronk kelner in Dinner for one. ‘Same procedure as every year James.’ – Dinner for one

Daar is slegte nuus vir jou. Dit sal nie beter gaan nie. Nie as jy nie jou kop oor tyd begin verander nie.

Tensy jy anders begin dink, sal jy die heeltyd probeer tyd opmaak en nie tyd maak nie. Eers as jy jou kop oor tyd skuif, sal jy beheer oor tyd hê. Wat nou volg, is ʼn paar beginsels wat ouers, sonder om kortpaaie te neem, kan begin inspan om hulle met hul opvoedingstaak te help.

1.   Kontrakteer uit

(Foto verskaf)

Tegnologie kan nooit die ouer vervang nie, maar dis ʼn baie waardevolle opvoedingsvennoot. Die Wolkskool het byvoorbeeld kinders, ouers en onderwysers in die Covid-tyd bygestaan om gehalte-opvoeding by die huis ter enige tyd moontlik te maak. So kan tegnologie volgens dieselfde beginsel ook in ander scenario’s ingespan word, soos om jou kind, wanneer dit jou pas, met ander leerders in verbinding te laat kom. Een van die kragtigste vorme van leer is juis wanneer kinders saam ontdek en tegnologie maak kommunikasie moontlik sonder dat hulle die huis hoef te verlaat.

2.   Span saam

So van saam leer gepraat, “vele hande maak ligter werk”, het die oumense altyd gesê. Hoe waar is dit nie? Waarom moes ouers en/ of onderwysers dan tot dusver grootliks op eie houtjie die opvoedingstaak hanteer? Leer vind deesdae op enige plek en enige tyd plaas. ʼn Ouer wat sy opvoedingstaak ter harte neem, span saam met ander ouers, betrek die gemeenskap en werk nou saam met die skool en onderwysers. Inderwaarheid gee daardie geankerdheid in die gemeenskap aan kinders vleuels om die wêreld in te gaan.

3.   Leer is ʼn belewenis

Die meeste klagtes by ouers oor hul kinders en skoolwerk handel oor massas huiswerk en hulle kinders wat nie met toewyding daaraan werk of vir eksamens en toetse voorberei nie. Dit alles klink na werk en nie leer nie. Leer is veronderstel om die lekkerste ding op aarde te wees. Kinders is voortdurend besig om te leer. Met ʼn selfoon in die hand, het die wêreld ʼn klaskamer geword. Leer sal hulle leer. Dis jou as opvoeder se verantwoordelikheid om dit reg te kanaliseer.

Ek het ʼn ouer geken wat nooit ʼn geleentheid laat verbygaan het om leer deel van sy gesin se daaglikse handel en wandel maak nie. As Chris saam met sy gesin op reis was, is daar die hele tyd karspeletjies gespeel waar wiskunde, taal en wetenskap betrokke was sonder dat sy kinders besef het hulle leer. Chris se oudste dogter is nou ʼn hoogstaande mediese student, sy seun ʼn briljante ingenieurstudent en ek weet sommer die jongste se suksesvolle beroepspaadjie is verseker.

As jy jou kind help om teoretiese kennis deel van hul alledaagse werklikheid te maak, word die verskillende vakke ook vervleg. Neem enige stuk konkrete voorwerp in die werklike lewe en jy kan byvoorbeeld wiskunde, wetenskap en verskillende tale daarby betrek. Dit is leer in ʼn hoë rat, en jy slaan sommer ʼn paar vlieë dood met een klap. En as jy daardie leer met waarneming deur alle sintuie, met liggaamlike beweging en met gevoel laat inklee, dan word leer ʼn belewenis.

Die lewe is ʼn reis. Geniet die rit.

4.   Een ding op ʼn slag

Die verrigting van meer as een taak op ʼn slag, ofte wel multitaakverrigting (“multitasking”), is waaraan die meeste van ons die skuldigste is. Veral mense wat dink dat hulle goed met multitaakverrigting is, is gewoonlik die vrotste daarmee. Die kognitiewe ladingsteorie leer vir ons dat dit nie regtig moontlik is om tegelyk op verskillende take te fokus nie. Wat ons dink multitaakverrigting is, is inderwaarheid ʼn konstante spring tussen verskillende take. En dit is wat die meeste van ons tyd vreet. Elke keer wat jy van taak verander, moet jy weer heroriënteer.

Met soveel inligting wat die heeltyd in ons rigting vloei en al die moontlikhede wat voortdurend tot ons beskikking is, is dit ʼn baie belangrike eienskap om op een taak op ʼn slag te fokus en om dit so ver as moontlik af te handel. Dit is ook ʼn baie belangrike vaardigheid wat jy aan jou kind kan oordra.

5.   Prioritiseer reg

Nie net is die wyse waarop jy take hanteer van belang nie, maar ook die inhoud. Stephen Covey gee deur sy “tydbestuurmatriks” vir ons ʼn uitstekende instrument om ons te help om sekere take bo ander te prioritiseer. Elke kwadrant se grootte dui die tyd aan wat jy gedwing word om daarin spandeer. Die beginsel is dus dat hoe meer tyd jy in ʼn spesifieke kwadrant spandeer, hoe meer sal jy gedwing word om dit in daardie kwadrant te doen.

Covey se tydbestuurmatriks, wat vir ouers aangepas is. (Grafika verskaf)

Volgens Covey is dit wat belangrik is, maar nie dringende nie (kwadrant 2), daar waar die meeste waarde lê en waarop ouers die grootste fokus behoort te plaas. Dan volg kwadrant 1 en daarna kwadrant 3. Kwadrant 4 behoort die minste aandag te kry. In hierdie toenemend veranderende wêreld is dit die vestiging van waardes deur ons geloof en in ons interaksie met mense wat die fondasie vir ons lê om die krisisse van die lewe die hoof te bied. Hieruit kan ons aflei dat die kweek van gesonde waardes by kinders hoogs tydbesparend is.

Ten spyte van my besige program het ek altyd gesorg dat ek elke sportgeleentheid van my kind bywoon. – Steven Covey, skrywer van ‘7 Habits of Highly Effective People’

6.   Lewenslange leer

Selfgerigte leer is die belangrikste vaardigheid wat jy vir jou kind kan leer. Maak van jou kind ʼn onafhanklike leerder en jy hoef nie die heeltyd betrokke te wees nie. As ouer moet jy nie jou kind met ʼn lepel voer nie. Sukkel is deel van die leerproses en deursettingsvermoë staan aan die kern daarvan, maar wees altyd byderhand om jou kind die heeltyd van leidrade te voorsien sodat hulle self tot oplossings kan kom. Jou kind sal dan ʼn lewenslange leerder word in ʼn konstant veranderende wêreld.

Gee ʼn man ʼn vis, en jy voed hom vir ʼn dag. Leer ʼn man om vis te vang, en hy het kos vir ʼn leeftyd. – Chinese gesegde

7.   Innovasie bo perfeksie

Om dinge die heeltyd perfek te probeer doen, is ʼn mors van tyd. Die geheim is om dit op ʼn punt te kry waar dit net-net goed genoeg is, dan moet jy aan beweeg. Die voorwaarde is egter dat jy dit deur die volgende iterasies al hoe meer moet bemeester. Die moeilike vraag is egter: Wanneer is goed genoeg goed genoeg?

Kundiges sê dis die middelpunt van “om nog werk te doen” en “te veel werk gedoen”. Dit impliseer nie minder gehalte nie. Trouens, hoe meer gebalanseerd jy dit sien, hoe groter waarde sal jy daaruit kry.

Koste-analise van net-net goed genoeg. (Grafika verskaf)

Effektiewe en betrokke ouers weet baie goed waar daardie “sweet spot” van optimale leer by hul kinders is. Hulle beskou nie hoë punte as die bepalende faktor van leer nie, hulle wéét sommer wanneer leer wel optimaal plaasgevind het. Die oormatige fokus op punte is baie tydrowend en word deur baie opvoedkundiges bevraagteken.

Die antwoord lê dus nie daarin hoe om tyd op te maak nie, maar om tyd te maak. Daar is nie slegs een sleutelbeginsel om tyd te maak nie, maar dit behels ʼn kombinasie van beginsels saam met hope vindingrykheid en deursettingsvermoë.

Werk slimmer, nie harder nie.

Enkele bronne

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.