A, B, Zzzz

kind_slaap.jpg

Foto: healthykidstoday.org

[promosie-artikel]

Danielle Barfoot

Slaap is ’n basiese fisiologiese behoefte – dit is noodsaaklik vir ons gesondheid want, wanneer ons slaap, word die liggaam herstel en hernieu.

Kinders benodig veral ononderbroke slaap van gehalte om te kan floreer. ’n Goeie nagrus berei nie net hul liggame voor om die volgende dag aan te pak nie, maar dit het ook ’n aansienlike invloed op hulle gedrag – kinders wat nie genoeg slaap nie kan maklik geïrriteerd en humeurig raak, en kan ook meer impulsief of uitdagend optree. Boonop kan swak of te min slaap tot kognitiewe probleme lei, wat ’n invloed het op hul vermoë om te leer.

Ten spyte daarvan dat slaap uiters belangrik is, kry die meeste kinders minder as die aanbevole hoeveelheid – ongeveer tien uur per nag vir kinders van skoolgaande ouderdom – vir hul liggame om te rus en hul breine om dit wat hulle deur die dag geleer het, te verwerk (kinders neem daagliks ’n enorme hoeveelheid inligting in, en die brein verwerk dit wat hulle onderbewustelik geleer het ná aktiewe kennis wanneer hulle slaap).

Dit is natuurlik nie so eenvoudig om kinders betyds in die bed te kry nie! Baie bemeester reeds op ’n jong ouderdom die kuns van uitstel, terwyl ander steeks teen Klaas Vakie baklei. Ander kinders se slaap word dalk deur ’n slaapsteurnis, soos slaaploop, nagmerries of insomnia, versteur. Sekere soorte medikasie, soos vir asma of aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteitsindroom (ADHD), kan slaap beïnvloed.

Dit is noodsaaklik om jou kind betyds in die bed te kry, en daar is heelwat wat jy kan doen om goeie slaapgewoontes van kleins af by jou kind te vestig.

Skep ’n roetine: ’n Voorspelbare, ouderdomsgepaste roetine sal jou kind help om vir bedtyd voor te berei. Dit kan byvoorbeeld ’n warm bad, ’n storie of rustige musiek insluit.

Wees konsekwent: Hou by vasgestelde bedtye, selfs oor naweke. ’n Vaste slaaptyd hou jou kind se sirkadiese ritme (interne horlosie) op dreef, wat noodsaaklik is om hom of haar  te help om maklik aan die slaap te raak, én te bly.

Skep ’n kalmerende omgewing: Rondom bedtyd moet jou kind se kamer rustig en sonder stimulasie wees. Die ideaal is dat die vertrek koel, donker en stil moet wees.

Moedig ander gesonde gewoontes aan: Jou kind sal saans beter slaap as hy of sy daagliks sowat 20 minute se oefening inkry. Beperk ook kosse wat kafeïen en suiker bevat, veral in die laatmiddag en aand.

Beperk skermtyd: Skakel alle toestelle ten minste een uur voor slaaptyd af. Televisie, rekenaars en tablette is stimulerend en onderdruk ook die liggaam se vermoë om melatonien, die hormoon wat help om slaap te reguleer, af te skei.    

Slaap is ’n noodsaaklike boublok vir jou kind se algehele ontwikkeling, welstand en akademiese sukses. Maak dus seker dat hy of sy genoeg daarvan kry!

Artikel verskaf deur Impak Onderwys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.