Aandagafleibaarheid: Maalkolk van mites en misverstande

(Foto: iStock)

Ofskoon dit een van die mees nagevorste mediese toestande by kinders is, word dit dikwels verkeerd gediagnoseer, deur mites en misverstande geteister, en sommige mense beweer selfs dat dit ʼn fiktiewe, uitgedinkte toestand is. Aandaggebrek-hiperaktiwiteitsversteuring (AGHV of ADHD) is egter ʼn werklikheid waarmee miljoene kinders en volwassenes wêreldwyd leef.

Luidens navorsing raak AGHV na raming tot 1 uit 10 kinders wêreldwyd, en meer seuns as meisies word hierdeur beïnvloed. In Suid-Afrika is die voorkoms selfs hoër, en beïnvloed dit tot 16% van die land se skoolgaande bevolking. Studies toon voorts dat die simptome van AGHV in tot 70% van gevalle na volwassenheid oorspoel.

Nasionale Aandaggebrek-hiperaktiwiteitsversteuringsdag word vanjaar op 14 September in Suid-Afrika gedenk om die voortdurende kontroversievure rondom dié versteuring te blus én die gesonde bestuur van die toestand in die hand te werk.

 Wat is AGHV?

AGHV is ʼn chroniese, neurologiese ontwikkelingsgedragsversteuring wat by kinders en volwassenes voorkom, sê dr. Dirk Lombard, mediese praktisyn van Kempton Park. “Dit word gekenmerk deur oormatige aktiwiteit, swak konsentrasie en gebrekkige organisatoriese vaardighede, afleibaarheid, lae verdraagsaamheid, verveling, ʼn groter neiging om te sê of te doen wat ook al by jou opkom (impulsiwiteit), en ʼn voorliefde vir situasies met hoë intensiteit.”

Maar kinders is tog baie aktief en dikwels onoplettend, so hoe weet jy of jou kind AGHV het? Volgens Lombard hang dit in ʼn groot mate af van die mate waarin daar inkorting in die daaglikse funksionering van die kind is.

“ʼn Diagnose van AGHV kan gemaak word as hiperaktiwiteit of onoplettendheid die kind se akademiese of sosiale funksionering drasties kortwiek, baie angs by die kind veroorsaak en sy of haar selfbeeld beïnvloed. Dit is egter belangrik om te let dat daar voldoende simptome is, die simptome in meer as een omgewing vir ten minste ses maande teenwoordig is, en dat daar geen ander oorsake vir die hiperaktiwiteit (soos slaaptekort) is nie.

Drie soorte word onderskei:

Die persoon is

  • Oorwegend onoplettend met min of geen tekens van impulsiwiteit en hiperaktiwiteit;
  • oorwegend impulsief en hiperaktief met min of geen aandagprobleme nie; of
  • die gekombineerde soort – die persoon is baie afleibaar, hiperaktief én impulsief.

Hoewel die presiese oorsaak van AGHV onbekend is, is die vernaamste oorsake neurologies (daar is ʼn wanbalans van sekere neuro-oordragstowwe), biochemies of geneties (in tot 80% van gevalle).

Simptome

Die belangrikste tekens van aandaggebrek (sukkel om te konsentreer en te fokus) is:

  • ʼn kort aandagspan of aandag wat maklik afgelei word;
  • die maak van agterlosige of onnodige foute – byvoorbeeld in skoolwerk;
  • kom vergeetagtig voor of verloor dinge;
  • nie in staat om by take te hou wat vervelig of tydrowend is nie;
  • sukkel om te luister of instruksies uit te voer;
  • verander voortdurend tussen aktiwiteite; en
  • sukkel om take te organiseer.

Die belangrikste tekens van hiperaktiwiteit en impulsiwiteit is:

  • nie in staat om stil te sit nie, veral in ʼn kalm of stil omgewing;
  • vroetel voortdurend;
  • sukkel om op take te fokus;
  • oormatige fisieke beweging;
  • praat baie;
  • nie in staat om hul beurt af te wag nie;
  • doen dinge sonder om te dink;
  • onderbreek gesprekke; en
  • het min of geen besef van gevaar nie.

Hierdie simptome kan aansienlike probleme in ʼn kind se lewe veroorsaak, soos onderprestasie by die skool, swak sosiale interaksie met ander kinders en volwassenes, en probleme met dissipline.

Volgens die Aandaggebrek-hiperaktiwiteitondersteuningsgroep van Suider-Afrika (Adhasa) is dit egter baie belangrik wanneer ʼn diagnose van AGHV oorweeg word, om ander toestande wat soos AGHV kan lyk, uit te sluit. Dit kan insluit:

  • Allergieë of asma – Asemhalingsprobleme kan ʼn kind se konsentrasie beïnvloed.
  • Diabetes of hipoglukemie – Hierdie toestande hou verband met die hoeveelheid suiker in die bloed en kan veranderings in konsentrasie- en aktiwiteitsvlakke veroorsaak.
  • Gehoor- of sigprobleme – Die onvermoë om te sien of te hoor wat in die klas aangaan, kan lei tot gedragsuitbarstings, onvoltooide werk, steuring van klasmaats en hiperaktiwiteit.
  • ʼn Ystertekort kan lei tot aandag- en impulsiwiteitsprobleme.
  • Loodvergiftiging kan ook tot hiperaktiwiteit aanleiding gee.
  • Leerprobleme – As ʼn kind gefrustreerd is weens leergestremdhede, kan hy of sy gedrag soortgelyk aan AGHV toon.
  • Emosionele probleme – Dit kan wees as gevolg van ʼn egskeiding, dood in die familie, of trauma, wat as hiperaktiwiteit kan manifesteer.

Diagnose en behandeling

(Foto: iStock)

Volgens dr. Lombard sal ʼn algemene praktisyn of pediater iemand, ná ʼn voorlopige diagnose, na ʼn kinder- en adolessente-psigiater, ʼn neuro-ontwikkelingspediater of ʼn pediatriese neuroloog verwys om die diagnose te bevestig.

“Diagnose vind normaalweg vanaf die ouderdom van 5 tot 7 jaar plaas, hoewel sommige van die simptome vanaf geboorte teenwoordig kan wees. Dit is belangrik dat die simptome, soos in die DSM IV (die diagnostiese handleiding wat deur sielkundiges en psigiaters wêreldwyd gebruik word) vervat is, in alle situasies vir ʼn tydperk van meer as ses maande teenwoordig is. Simptome verskyn gewoonlik voor die ouderdom van sewe, hoewel diagnose eers heelwat later kan plaasvind.”

Oor die algemeen is voorgeskrewe medikasie die steunpilaar van behandeling vir AGHV, en in terme van gepubliseerde navorsing verreweg die doeltreffendste behandeling, sê Lombard. “Die keuse van medikasie hang grootliks af van die spesifieke kind, wat ʼn mens met die medikasie wil bereik, en oor watter newe-effekte ʼn mens die meeste bekommerd is by daardie kind.”

Ander terapie

Hoewel ander soorte terapie nie die kernsimptome van AGHV aanpak nie, kan dit nuttig wees om ander uitdagings die hoof te bied, meen Lombard. Dit sluit in:

  • Gedragsterapie om kinders (en ouers!) nuwe vaardighede te leer, soos om uitdagende of opposisie-simptome te hanteer.
  • Spelterapie is nuttig vir emosionele of sosiale probleme wat die kind mag ervaar.
  • Arbeidsterapie om sensoriese probleme, fyn motoriese beheer of lae spiertonus aan te pak.
  • Leefstylaanpassings: ʼn Goeie slaaproetine, gesonde dieet en gereelde oefening is onontbeerlik vir enigiemand, en is ʼn uitstekende aanvulling tot medikasie en ander terapie.

“Hoewel ongeveer een miljoen Suid-Afrikaanse volwassenes deur AGHV geraak word, groei die meeste kinders met AGHV tot goed funksionerende volwassenes wat suksesvolle loopbane het. Die korrekte behandeling, asook ʼn gestruktureerde, georganiseerde omgewing, kan ʼn kind met AGHV help om ʼn goed gebalanseerde tiener én volwassene te word,” sê Lombard.

Klop hier aan om hulp

  • Die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (Sadag) het ʼn toegewyde AGHV-hulplyn. Skakel 0800 55 44 33 tolvry of besoek www.sadag.org.
  • Die Aandaggebrek-hiperaktiwiteitondersteuningsgroep van Suider-Afrika (Adhasa) help mense met of wat geraak word deur AGHV reeds vir meer as twee dekades. Besoek www.adhasa.co.za of skakel 011 888 7655.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Penelopi ·

AGHV is ‘n mediese toestand – neurologies van aard. Daarom gaan dit my verstand ten bowe dat ouers weier om hul kinders op medikasie te sit wat spesifiek vir AGHV gemaak word. Wanneer ‘ n kind deur ‘n spesialis gediagnoseer word, en medikasie voorgeskryf word – gebruik asb die medikasie. Ritalin kry ‘n onnodige slegte naam omdat Boetie gesond, aktief en nuuskierig is terwyl Mammie wil spa en gin drink saam met haar vriendinne – dan vra Mamma hul huisdoktervriend vir ‘n voorskrif vir Ritalin want “Boetie is baie besig”. Ritalin is nie die sondebok hier nie.
Natuurlik gaan Boetie dan soos ‘n “zombi” wees – hy het nie AGHV nie!
GEEN vitamiene, aanvulling of minerale of jou tipiese “oor die toonbank” “herbal” konkoksies werk vir AGHV nie.

Frank ·

‘n MEDIESE toestand kan wetenskaplik oor en oor bewys word of op minste dieselfde gediagnoseer word deur verskillende mediese praktisyns terwyl AGHV nie wetenskaplik getoets kan word (soos bloed en ander monsters) nie en een na die ander vir jou ‘n verskillende diagnose gee. Jou eie woorde as voorstaander “natuurlik gaan boetie dan soos ‘n zombi wees want hy het nie AGHV nie” spreek boekdele .

Penelopi ·

Enige medikasie wat voorgeskryf word is skadelik vir ‘n person wat nie die siekte het waarvoir die medikasie ontwikkel is nie. As jy nie ‘n diabetes is nie, en jy neem is insulien kan jy doodgaan. Daarom is dit so belangrik dat kinders na die regte dokters geneem word on die regte diagnose the maak.

Penelopi ·

Baie neurologiese diagnoses kan nie deur bloedtoetse, sonar’s, x-trale ens. gemaak word nie – soos depressie, ODD, OCD, PTSD ens. Dit between nie dat dit nie bestaan nie …………. In Suid-Afrika word “mental health” glad nie die nodige aandag gegee nie. Daar is ‘n massiewe leemte en ons laat ons kinders wat sukkel in die steek.

Frank ·

Sommige simptome vanaf geboorte teenwoordig se voet en dit terwyl die spindokters nie eens WEET wat is die presiese oorsaak nie en daar nie EEN medies bewese geval is dat enige medikasie die GENEES nie en dit letterlik neerkom op bloot pleister op wond plak ipv wond self te behandel.

Penelopi ·

Daar is siektes wat nie met medikasie genees kan word nie soos diabetes, epilepsie, AGHV ens. Daarom is daar medikasie om die simptone te beheer en die person wat die mediese kondisie het se lewenskwaliteit verbeter.

Miskruier ·

In graad o word daar aanbeveel dat my seun op Ritalin geplaas word. Ons het hom elke naweek op die plaas gehad. Ons het permanent op die plaas kom woon en hy het gr 1 op n plattelandse skool begin. Geen medikasie en tog was hy hoofseun en vyf jaar later hoofseun in matriek. Kinders hoort buite en met ordentlike voedsame kos, dis hoe God ons geskep het.

Alet ·

Ongelukkig is almal van ons nie so geseënd om ‘n plaas te besit nie. Van ons moet maar in dorpe woon en werk om aan die lewe te bly. Hier kan kinders nie meer soos jare gelede in die strate speel nie. Hulle word aangerand of ontvoer.

Cola ·

Ek het dit als probeer maar moes toekyk hoe ek my seun sukkel om by te hou omdat ek geglo het aritalin is gif totdat ek by n ondersteuningsgroep gesien het ek doen hom skade vandag is hy n volwassene wat n goeie werk het met Ritalin se hulp so ek weet sommige mense dink dit is ons verbeelding of slegte kos maar ek kan getuig hy eet nou nog net gesonde kos en geen suiker so moenie oordeel elke kind verskil wat vir joune gewerk het werk nie vir myne

Miskruier ·

Lees volgende berig, en kom terug na die een. As mens n kind in n hok(huis) hou maak jy van hom n aap.

Alet ·

As mens jou kind soos ‘n aap behandel tree hy op soos een nie wanneer hy op ‘n dorps erf grootword nie. Daar is goed soos opvoedkundige speelgoed en kwaliteit tyd saam familie waar mens hulle met spel kan leer. My kind het in ‘n hok soos jy dit noem groot geword en was van graad 4 af nog elke kwartaal in die top tien. Dis opvoeding en liede en tyd spandeer saam met jou kind wat tel nie die omgewing nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.