Aanlyn gesprek wil gr. 9’s help met vakkeuses

(Foto: Agence Olloweb/Unsplash)

Om skoolvakke in gr. 9 te moet kies is nie altyd ʼn maklike taak nie. Besluite hieroor veroorsaak dikwels onnodige spanning by leerders én ouers.

Daarom hou Akademia vanjaar weer ʼn spesiale aanlyn vakkeuse-aand op Woensdag 4 Augustus van 18:00 tot 19:00 om skoliere toe te rus met die nodige kennis oor vakkeuses. Deur vooraf ʼn virtuele sitplek te bespreek kan leerders en ouers die sessie in die gemak en veiligheid van hul woonplek bywoon.

“Dit is belangrik vir skoliere om ingelig te wees en sekerheid te kry oor vakkeuses voordat hul gr. 10 betree, veral as hulle naskoolse studie oorweeg.

“Die regte vakkeuses ontsluit loopbaanmoontlikhede en kan uiteindelik daartoe bydra dat hierdie skoliere eendag hulle roeping uitleef ­– hetsy as prokureur, sekretaresse, joernalis of rekenmeester,” sê Leah van Heerden, projekkoördineerder vir die skolemark by Akademia.

Die doel van Akademia se kort, maar kragtige vakkeusegesprek is nie om vir leerders voor te skryf wat “reg” of “verkeerd” is nie, maar om waardevolle inligting deur kundiges op die gebied te verskaf sodat leerders weldeurdagte besluite kan neem.

Die propvol program sluit gesprekke in oor watter vakke nodig is vir toelating tot sekere studierigtings en hoe om persoonlikheid-, aanleg- en belangstellingstoetse te gebruik om hierdie belangrike besluite te kan neem. Hierdie sessie skep ook ’n geleentheid om kwelvrae in die kommentaarafdeling te vra wat deur die paneel van kundiges beantwoord sal word.

(Grafika: Verskaf)

Die volgende kundiges gaan skoliere tydens die vakkeuse-aand toespreek:

“As hoëronderwysinstelling sien ons dikwels dat skoliere ʼn wanpersepsie van sekere vakke het, veral as dit by studieaansoeke kom, en daarom wil Akademia hierdie persepsies uit die weg ruim.

“Ons besef dat vakkeuses skoliere slapelose nagte kan gee en het hierdie aand juis gereël om hierdie ongevraagde nagmerries in toekomsdrome te verander,” sê Van Heerden.

  • Registrasies vir die vakkeuse-aand is reeds oop. As jy in gr. 9 is en binnekort vakke moet kies, dan is hierdie gesprek net vir jou. Daar is slegs 300 virtuele sitplekke beskikbaar. Koste is R50 per leerder. Waarvoor wag jy? Besoek Akademia se webwerf om jou sitplek te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

VaalDonkie ·

Ja dis eintlik ‘n skande hoe blind jy as 14 jarige kind moet besluit watter vakke jy in graad 8 moet neem. Ek het geen idee gehad waarom almal gese het jy moet Wiskunde, Wetenskap, Biologie, en Aardrykskunde plus eerste en tweede taal vat nie. En ek het in elk geval NIKS van biologie of aardrykskunde gehou nie en sou as ek dit oor kon doen, eerder Rekeningkunde en Ekonomie wou neem. Of Houtwerk. Want die enigste ding wat my voorberei het vir my loopbaan as “software developer” was ‘n bietjie Gr 10 wiskunde en Engels. Niks van die ander vakke het enigsins vir my iets beteken nie. Wel, behalwe dat ek die regte kombinasie gehad het om te kwalifiseer vir ‘n B-graad kursus by ‘n universiteit.

Linda ·

Jare gelede het my skoolhoof my oorreed om ander vakke teneem as wat ek oorspronklik wou,berou dit tot vandag toe.

OW ·

In ons dae het die voorligting onderwysers behoorlik geslaap wat vakkeuses aanbetref.Of hulle was nooit in die klas nie of het nonsens gepraat.Tydens my matriek jaar kry die voorligting onderwyser toe die blink idee om afsprake by hom te maak vir loopbaan keuses vir die volgende jaar.Een van my maats maak toe ‘n afspraak en groot was sy verbasing toe die onderwyser hom meedeel dat hy met sy vakke niks kan doen nie.Wel ek het hom verkeerd bewys want ek het dieselfde vakke as my maat gehad.Ek het nie my tyd gemors om by die onderwyser ‘n afspraak te maak nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.