Aanlyn in afsondering: Word ’n verantwoordelike digitale burger

(Foto: McKaela Lee/Unsplash.)

Met nog sowat twee weke van afsondering wat voorlê, gaan talle mense (en kinders) aanlyn wees om die tyd om te kry.

Rianette Leibowitz, ʼn digitale ouerskap-mentor en stigter van SaveTNet Cyber Safety, meen dit is nou ʼn ideale tyd vir gesinne om ʼn paar belangrike aspekte oor hulle aanlynteenwoordigheid te bespreek.

“Een van die eerste dinge waaroor ek altyd praat, is jou verhouding met jou kind. Jul verhouding met mekaar is die eerste stukkie toerusting, en ook jou as ouer se belangrikste wapen. Dit is ook die eerste plek waar jy gaan sien as daar iets fout is.”

As skrywer van die boek, Maak jou kind skermslim, sê Leibowitz dit is belangrik dat ouers ʼn verhouding met hul kinders moet vestig waar ʼn kind met sy/haar ouers sal praat oor wat hy of sy aanlyn doen.

“Jy moet seker maak dat jou kind eerste na jou kom as hulle aanlyn in die moeilikheid beland.”

Leibowitz glo tegnologie hou groot voordele vir kinders van alle ouderdomme in – mits ouers hulle help om dit te bestuur.

“Ouers behoort mentors te wees, en nie bloot net te monitor waarmee hulle kinders besig is nie.” Dit is dan ook waarom sy die boek geskryf het.

“Ek het al my praatjies en hulp hier in een handleiding saamgevat met die hoop dat ouers, grootouers en au pairs en onderwysers – enige iemand wat met ’n kind te doen het – hierdie boek sal lees en maklik en praktiese wenke hier vind.”

Sy skryf in die boek nie net oor kuberveiligheid, aanlynboeliery en skermtyd nie, maar bespreek selfs die ontwikkeling van sosiale-emosionele vaardighede.

Leibowitz het ook raad vir hoe om ʼn balans tussen die virtuele en regte wêreld te vind en verduidelik hoe om veilige en gesonde verhoudings te bou. Daar is selfs raad vir hoe om jou persoonlike inligting aanlyn te beskerm, asook hoe om fopnuus en verdagte inhoud te herken en vermy.

“Vir my gaan dit regtig daaroor om gesinne aanlyn te bemagtig. As iemand hierdie boek lees, weet ek daar is minstens nog een gesin wat toegerus is om beter besluite aanlyn te maak.”

Sy glo ook dit is nou uiters belangrik vir ’n gesin om saam te besluit hoe hulle hul tyd aanlyn gaan bestuur.

“Jy as ouer gaan hier die voorbeeld moet stel, maar gelukkig is daar baie praktiese riglyne hieroor.”

Leibowitz sê dit is ook nou ’n goeie tyd om na al die toestelle te gaan kyk wat aanlyn in jou huishouding gebruik word. “Vra jouself hoe lyk die sekuriteitsverstellings op hierdie toestelle. Is dit gestel om net kindervriendelike materiaal te wys? Is daar die nodige brandmure en antivirusprogramme opgelaai, en is dit bygewerk?

“Daarna moet jy al jul apps en programme wat op hierdie toestelle gebruik word, nagaan. Het jy geweet die apps en programme het almal ’n ouderdomsbeperking? Dit is nou die perfekte geleentheid om weer vir ons kinders te sê: Weet jy, jy is eintlik jonger as die ouderdom wat die program of app vereis, kom ons kyk liewer na ander opsies?

“Wanneer ons kinders ’n platform soos, byvoorbeeld, YouTube gebruik, moet ons seker maak die regte verstellings is aan om ʼn jonger kyker te beveilig. Ons almal weet mos ʼn mens gaan soek nie na ontstellende materiaal nie, dit pop net op ’n manier op.”

Leibowitz se doel met haar werk is om soveel as moontlik verantwoordelike digitale burgers te help ontwikkel. Vir haar is die eerste stap na hierdie digitale burgerskap om te begin by jou eie waardes.

“Dit klink dalk eenvoudig, want ons bespreek dan nou tegnologie, die internet en aanlynstelsels, maar verantwoordelike digitale burgerskap begin regtig by iets eenvoudig soos jou eie waardes.

“As ons ons positiewe waardes wat ons in die huis toepas, ook aanlyn begin uitleef, dan gaan jy ’n hele ander soort besluitnemingsproses volg voordat jy sommer daardie “like”-knoppie druk of ’n video deel.

“Hierdie is ’n eenvoudige voorbeeld en dalk ’n meer gepaste gesprek vir jonger kinders: Maar as ons waardes sê ons glo dit is verkeerd om te jok, gaan jy ook nie aanlyn jok oor wie jy is, of wat jou werklike ouderdom is nie, of ’n ander persoon se profiel skelm gebruik nie.”

Rianette Leibowitz het ‘n paar wenke vir hom jou gesin se tyd aanlyn in afsondering te bestuur. (Foto: Rianette Leibowitz/Digitale Ouerskap Facebook-blad.)

Vat ʼn blaaskans weg van die internet

Leibowitz sê dit is uiters belangrik in die aanlynwêreld waar ons altyd verbind is met mekaar en die internet om vir onsself aanlynblaaskanse in te bou.

“Ek praat sommer van digitale detoks en jy moet hierdie wegbreek in jou jaarbeplanning inwerk, sodat jy en jou gesin so dan en wan wegbreek van tegnologie.

“Dit is ook iets wat jy sommer nou reeds daagliks kan doen. Jy gaan letterlik vir jou self sê my foon is aan in hierdie tyd, maar byvoorbeeld met aandete sal ons fone nie saam met ons by die tafel wees nie. Los maar die tegnologie net vir daardie paar minute, want dit is die ideale tyd om verhoudings te bou.”

Sy sê nog ʼn belangrike vraag wat jy vir jouself en jou gesin kan vra is: Hoe laat ek my lig aanlyn skyn? Hoe maak ek die digitale wêreld ʼn beter plek vir almal?

“In stede daarvan om dit ’n plek te maak waar jy gaan kla en kerm en die lewe van ander negatief beïnvloed, kan jy sosiale media en die internet gebruik om die lewe vir ander beter te maak, en selfs te verryk.”

  • Maroela Media het met Rianette Leibowitz per Skype gesels oor verantwoordelike digitale burgerskap. Sy het ook raad en wenke uit haar boek Maak jou kind skermslim gedeel in die tydperk van algehele afsondering waar gesinne nou waarskynlik meer tyd aanlyn gaan spandeer. Luister na die volledig onderhoud boaan hierdie berig.
  • Maak jou kind skermslim is uitgegee deur Carpe Diem Media en kan aanlyn as ’n e-boek (of gedruk) by Voelgoedboeke.co.za aangeskaf word. 
  • Volg Rianette Leibowitz aanlyn by Instagram: @RianetteL, op Facebook by @DigitaleOuerskap en @RianetteLeibowitz of besoek haar webwerf by Rianette.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.