Aanlyn skou beantwoord vrae oor vrugbaarheid

Argieffoto. (Foto: Unsplash/Luma Pimentel)

Eerskomende naweek vind ʼn aanlyn skou plaas waarby mense oor die wêreld heen kan inskakel om vrae oor onder meer vrugbaarheid, aanneming, surrogaatskap en eierbevriesing te laat beantwoord.

Dit is die tweede aflewering van die Fertility Show Africa, wat daarop gemik is om mans en vroue te ondersteun met vrugbaarheidskwessies en te help op die reis na ouerskap.

Talle plaaslike en internasionale sprekers en kenners op die gebied van vrugbaarheid sal tydens die skou beskikbaar wees om ʼn legio vrae te beantwoord en kwessies, wat dikwels as taboe beskou word, aan te raak.

Volgens Heidi Warricker, organiseerder van die geleentheid, het die behoefte vir so ʼn skou gespruit uit die feit dat een uit ses paartjies in Afrika sukkel met vrugbaarheidskwessies en die fokus van die skou is om dié mense op hulle reis na ouerskap te ondersteun.

“Die eerste skou het in 2020 by die Gallagher-konvensiesentrum in Johannesburg plaasgevind, slegs twee weke voordat die wêreldwye pandemie ons getref het. Dit was ʼn reusesukses en daarom was dit vir ons belangrik om weer so ʼn skou aan te bied, al moes ons die formaat verander om by Covid-regulasies aan te pas.”

Sy sê onvrugbaarheid is ʼn taboe onderwerp, veral in die Afrika-kultuur, en die skou poog om dié onderwerp vir almal toeganklik te maak.

“Die feit dat die skou nou aanlyn gehou word, beteken dat ons soveel meer toeganklik is vir mense reg oor Afrika en die res van die wêreld en om oplossings te bied vir mense se probleme deur hulle die kans te bied om vrae te rig aan van die wêreld se voorste spesialiste en kenners op die gebied.”

Volgens Warricker beloop konsultasies met vrugbaarheidspesialiste gewoonlik duisende rande, terwyl daar tydens die Fertility Show Africa die opsie is om die skou gratis by te woon, of daar kan teen R220 per kaartjie al die sprekers se praatjies bygewoon word.

Die skou vind Saterdag 9 Oktober en Sondag 10 Oktober van 09:30 tot 17:00 plaas. “Ons skep ʼn veilige hawe vir mense om hulle vrae te rig en inligting te bekom, terwyl hulle ʼn mate van anonimiteit kan behou.”

Die geleentheid word regstreeks vanuit ʼn ateljee in Johannesburg uitgesaai. “Dit was vir ons uiters belangrik dat die uitsending van ʼn hoë gehalte moet wees. Dit is nie soos ʼn Zoom-sessie nie. Dit is ʼn behoorlike geleentheid, met uitstallers, ʼn ontvangsarea, geleentheid vir vrae en antwoorde en ʼn netwerkarea waar besoekers mekaar kan ontmoet en stories kan uitruil.”

Thandi Moroeng sal as gasvrou van die geleentheid optree, terwyl sprekers en kenners soos dr. Alan Barrett van Ferring South Africa, dr. Sulaiman Heylen van die Cape Fertility Clinic, dr. Marienus Trouw van die Pretoria Fertility Centre, en dr. Tasneem Mohamed van die BioART Fertility Clinic, hulle kennis met skougangers sal deel.

Sielkundiges en regsgeleerdes soos Mandy Rodrigues en Robynne Friedman en Adele van der Walt, wat spesialiseer in die veld van sperm- en eierseldonateurs, sal ook by die skou optree.

Die bekroonde komediant Meirav Zur sal in haar stuk getiteld Inconceivable te sien wees en Molatelo Mainetje-Bossman, ʼn entrepreneur en vervaardiger van die rolprent When babies don’t come, sal haar reis na ouerskap met skougangers deel.

Kaartjies is beskikbaar by Quicket. Vir meer inligting en die volledige program, besoek die webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.