Afknouery in skole: Is jou kind dalk die boelie?

leandie-lombaard-02

Leandie Lombaard. Foto: Mariska Batt.

Deur Leandie Lombaard

 Afknouery kan gedefinieer word as aggressiewe gedrag met betrekking tot die opsetlikheid van die aanvaller, afknouery wat op ’n gereelde en herhaaldelike basis plaasvind of die misbruik van mag. Afknouery kan bestaan uit slaan, skop, boks, dreigemente, die versprei van skinderstories, sarkasme, verkleinering van iemand en/of om ander te spot. Boelies probeer graag om beheer oor ander kinders te kry deur afknouende woorde te gebruik of om handgemeen te raak. Boelies tree vyandig en aggressief teenoor hul slagoffers op.

Dogters of seuns kan boelies wees of gedrag van afknouery toon. Seuns is meer geneig om ander direk af te knou met fisieke aksie soos slaan of skop, waar dogters meer indirek betrokke raak deur skinderstories te versprei of om ’n ander kind uit die groep te sluit. Afknouery by kinders begin al so vroeg as kleuterskool of selfs die eerste paar jare van laerskool. Dit kan verder eskaleer in die kind se laerskoolloopbaan, waar afknouery sy hoogtepunt bereik aan die einde van die kind se laerskoolloopbaan of aan die begin van sy hoërskoolloopbaan. Teen die einde van die kind se hoërskoolloopbaan mag hy in voorvalle betrokke raak waar hy kriminele- of bendegedrag toon. Dit is dus belangrik dat jy as ouer van jou kind se jong ouderdom af stappe doen sodat jou kind nie in ’n boelie verander nie.

In een van die vorige artikels is die verskillende vorms van afknouery wat by skole voorkom, deurgegee – fisieke, verbale, emosionele, rassistiese, seksuele en kuberafknouery. Daarna is die tekens dat jou kind dalk moontlik ’n slagoffer van afknouery is, uiteengesit. Dit is belangrik om aandag te gee aan kinders wat geboelie word, maar aan die keersy is dit van kardinale belang om ondersteuning aan die kinders wat self boelies is, te bied.

Die volgende tekens kan by jou kind geïdentifiseer word indien hy self die boelie is:

  • Het vriende wat ander afknou;
  • Word gereeld na die hoof se kantoor gestuur, of gestuur vir detensie ná skool;
  • Blameer ander mense of kinders vir hul probleme;
  • Is behep met hul populariteit en reputasie onder leerders;
  • Is baie kompeterend;
  • Raak betrokke by fisieke en verbale gevegte/voorvalle;
  • Word vinnig kwaad of aggressief;
  • Het skielik nuwe besittings of ekstra geld wat nie verduidelik kan word nie; of
  • Neem geen verantwoordelikheid vir hul optrede nie.

Dit is nie altyd maklik om te erken dat jou kind dalk ’n boelie is nie. As ’n ouer wil jy nie hê jou kind moet ’n boelie bly vir die res van sy lewe nie, want situasies kan vererger soos ’n kind ouer word. Dit is daarom belangrik om op te let of daar enige van die bogenoemde tekens by jou kind verskyn en om deurlopend hul gedrag te moniteer.

Kinders weet dat dit verkeerd is om ander af te knou en dit is juis waarom hulle kies om dit te doen wanneer ouers nie in die omtrek is nie. Dit lei tot ’n toename in kuberafknouery, want die internet word gesien as ’n ouervrye herehuis. Omdat ouers in die donker gehou word oor wat die kinders daagliks aanvang (op die internet en op hul selfone) het hulle geen beheer oor die situasie en die negatiewe gevolge wat kuberafknouery vir kinders bring nie. Toesig deur ouers is dus noodsaaklik om afknouery te beëindig.

Dr. Joel Harber, ’n kenner van afknouery en die skrywer van die boek Bullyproof your Child for Life, sê dat jou kind moontlik ’n boelie is wanneer hy:

  • Ander vriende by hul groep uitsluit;
  • Aanhou met onaanvaarbare en onaangename gedrag wanneer jy reeds vir hom gesê het om daarmee op te hou;
  • Onverdraagsaamheid en minagting toon teenoor kinders wat as anders of vreemd beskou word;
  • Gereeld ander kinders spot of tart;
  • Deurlopende aggressiewe en wrede videospeletjies speel;
  • Diere seermaak; of
  • Skinder of ander kinders seermaak.

As ’n ouer het jy ’n geweldige invloed op jou kind se lewe. Ons is almal gewone mense wat soms gedrag van afknouery toon. Dit is natuurlik en beteken nie noodwendig dat ons slegte mense is nie. Dit is dus belangrik dat ons oop en eerlik oor ons eie gedrag moet dink en dan vra – wys my kind ook hierdie soort gedrag?

Die volgende is van kardinale belang:

  • Ouers moet onder geen omstandighede die boeliekind verwerp nie, maar hulle juis meer liefdevol hanteer.
  • Ouers moet geensins huiwer om deskundige hulp te vra nie.

My kind is ’n boelie. Wat kan ek daaromtrent doen?

Wanneer jou kind as ’n boelie beskou word, is dit jou plig as ouer om hulle daarvan bewus te maak dat dit volkome ontoelaatbaar is. Jy kan die volgende aan jou kind vertel:

  • “Jy kan nie saam met kinders tyd deurbring wat ander afknou nie”
  • “Ek of ’n ander volwassene sal toesig oor jou hou. Wanneer ander kinders by ons huis kom speel, moet julle speel waar ek julle kan sien”
  • “Bly weg van die kind/kinders wat jy afgeknou het”
  • “Gaan direk skool toe of kom direk huis toe ná skool” (Indien moontlik, reël met ander volwassenes om jou kind by die skool af te laai of om hom by die skool te gaan haal.)
  • “Wanneer jy by ’n ander kind gaan kuier, sal ek die ouer van daardie kind skakel om te hoor of hulle ook by die huis is.”

Hoe kan ek my kind dissiplineer?

  • Maak gebruik van positiewe dissipline – In Hebreërs 12:6-7 staan daar: “Want die Here tug hom wat Hy liefhet, Hy straf elkeen wat Hy as kind aanneem. Verdra die tug as opvoeding, want God behandel julle as sy kinders. Is daar miskien ’n kind wat nie deur sy vader getug word nie?” Spreuke 13:24 sê weer die volgende: “Wie sy seun nie straf nie, het hom nie lief nie; as hy hom liefhet, sal hy hom straf wanneer dit nodig is.” Dit is belangrik om kinders op positiewe maniere op te voed. Daar is ’n duidelike verskil tussen dissiplinering en mishandeling. Kinders moet dus deur ouers geleer word dat dit verkeerd is om aan ander kinders te slaan.
  • Gebruik prosesse van teruggawe – Wanneer jou kind ’n ander kind se besittings (soos speelgoed en klere) steel of vernietig, moet hy self rekenskap gee vir sy dade en daarvoor betaal. Jy kan jou kind klein takies in die huis laat verrig soos om skottelgoed te was, om te betaal vir dit wat hy vernietig of gesteel het. Jy kan ook jou kind se sakgeld ’n ruk lank weerhou sodat hy kan betaal vir dit wat gesteel of beskadig is.
  • Leer jou kind empatie en omgee – Kinders wat geklassifiseer word as boelies het ’n tekort aan empatie en om ’n gevoel van omgee vir ander te wys. Dit is wel belangrik dat hulle geleer word hoe hul aksies en geaardheid ander kan beïnvloed. Wanneer ouers of volwassenes begin uitvra oor spesifieke situasies begin boelies dink aan hul optredes en hoe dit ander op ’n negatiewe manier kan beïnvloed.
AfriForum-teenboelieveldtog-logo

Grafika: AfriForum/Verskaf.

’n Boelie reageer eerder as dat hy nadink oor sy aksies. Ouers kan dus hul kinders help om hul gevoelens te identifiseer en help om dit te beheer. Ouers moet hul kinders aanmoedig om oor hul gevoelens, aksies en hul houdings teenoor mense te dink. Dit sal boelies help om te leer hoe om hul gevoelens en emosies te hanteer op so ’n wyse dat ander in die proses nie seerkry nie. Om ’n boelie se geaardheid en optredes te verander vat wel tyd en moeite, daarom moet ouers die boompie buig solank hy jonk is.

Oor die algemeen skiet boelies tekort aan sosiale vaardighede. Skole, welsynsorganisasies en jeuggroepe stel gewoonlik programme saam wat kinders help met die ontwikkeling van empatie, omgee en positiewe sosiale vaardighede. Ouers kan ook met die skool se sielkundige in kontak tree indien jou kind afknouertekens toon as gevolg van aggressie, frustrasie of selfs depressie.

Ons wil graag jou storie hoor. Stuur vir ons ’n e-pos na [email protected] en word deel van die bewusmakingsveldtog.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers, Ouerskap

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

HPV ·

Jy is geregtig om ‘n klag van aanranding by die polisie teen die boelie te lê. Glo my dit werk.

Cacophony ·

Is die benadering dan tov dissipline dat die boelie ‘n pak slae moet kry? Hoe kan dit effektief wees vir ‘n kind wat reeds aggresief is?
Asb ek vra net al die pro lat mense moet tog asb nie nou op julle perdjies spring! Ek vra hoe geweld in die vorm van ‘n loesing die antwoord kan wees

Deidré ·

Ek is nie so seker of probleem ouers met disfunksionele huishoudings hierdie raad aanvaar nie! Dis juis in die ouerhuise waar boelie gedrag begin …………..woorde wek, maar voorbeelde strek!

Liza101 ·

Deidre, jy neem die woorde uit my mond uit! Hierdie gedrag begin by die huis en die “boelie” ouers kan glad nie insien dat daar ‘n probleem is nie, hulle boelie self! Ek het eendag oopmond gestaan en toe kyk hoe die “boelie” se pa die skoolhoof verskree oor daar gepraat was dat sy “blondekop-botter-smelt-in-die-mond” dogtertjie ‘n boelie is! Die skoolhoof het vir die ouer se gedrag onverskoning gevra en niks is verder daaraan gedoen nie! My kind was steeds daagliks geboelie!

SO ·

Dit kom soms by al die k8nders van ‘n gesin voor dat hul almal boelies en en mekaar nog sal aanmoedig. Komende van iemand wat as kind geboelie was. Selfs eie broers en susters en ander familielede maak hulke hieraan skuldig. Selfs wanneer hulle volwasse is.

Veritas ·

Die ouers van kinders, wat slagoffers van boelies is, moet die skoolhoof onmiddellik daarvan verwittig. Indien die skoolhoof versuim om daadwerklik op te tree, moet die ouers onverwyld die geval by die Departement van Onderwys aanmeld. Die departement het ‘n afdeling wat hulle toespits op boelies en sal onmiddellik stappe neem.

Ouvrou ·

Onderwys department behulpsaam? Seuns verkrag dronk dogter op sport veld en plaas video op sosiale media. Seuns word geskok en department gaan hulle in ‘n ander skool plaas. Praat van ‘n goeie op lossing!

mari ·

Gaan kyk gerus en laat u kind kyk na boelie video wat opgelaai is deur Laerskool Impala – boelie video, dit help kinders identifiseer, dit kan met enige iemand gebeur en wat om tedoen om hulp tekry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.