AfriForum se teenboelieveldtog – laerskole word bemagtig

leandie-lombaard-teenboelieveldtog-bekendstelling

Leandie Lombaard spreek ‘n skool aan die Wes-Rand toe oor AfriForum se teenboelieveldtog. Foto: Verskaf.

Deur Leandie Lombaard

Die burgerregte-organisasie AfriForum het die afgelope drie weke besoek afgelê by twee skole aan die Wes-Rand: Laerskool Roodekrans en Laerskool Helderkruin. Die doel was om die teenboelieveldtog amptelik by laerskole van stapel te stuur om afknouery in skole hok te slaan, veral nadat “boelie” die afgelope tyd oor sosiale media gons met twee voorvalle: Norkem Park High School in Kempton Park waar ’n video geneem en versprei is van gewelddadige leerders wat baklei; asook die leerder wat glo by Hoërskool Parys aangerand is.

AfriForum het net positiewe terugvoer van albei skole gekry wat hulle besoek het – van sowel leerders en ouers as onderwysers – en is opgewonde om hierdie veldtog verder uit te brei.

Die teenboelieveldtog sluit praatjies met leerders, ’n inligtingsessie vir ouers en ’n werksessie vir onderwysers in. Dit is belangrik om al drie partye by die teenboelieveldtog te betrek sodat gedeelde leierskap tussen leerders, ouers en onderwysers gevorm kan word en hulle mekaar kan bemagtig om werklik ’n verskil te maak.

Die teenboelieveldtog het sy eie persoonlike kenteken met die naam Matteus, juis omdat daar in Matteus 7:12 geskryf staan dat ons ander mense moet behandel soos ons graag behandel wil word. Matteus dra die volle wapenrusting van God en leer kinders om ook elke dag hul eie wapenrusting “aan te trek” sodat hulle nie net teen die boelies daar buite beskerm word nie, maar ook dat die wapenrusting hulle sal beskerm om nie ander kinders te boelie nie.

Die volle wapenrusting van God (Efesiërs 6:11-18)

  • Waarheid as gordel: Beskerm jou teen ’n tong wat jok en om in waarheid te wandel.
  • Borsharnas van geregtigheid: Beskerm ons harte teen beskuldigings en aanvalle.
  • Skoene van vrede: Om oor gevaarlike struikelblokke te kan loop en die boodskap van Jesus aan ander oor te dra.
  • Skild van geloof: Help ons om nie te twyfel nie en om in die getrouheid van God se Woord te glo.
  • Helm van verlossing: Om ons denke te bewaar, want sonde begin by ons denke – die helm help ons om tussen goed en kwaad te kan onderskei.
  • Swaard van die Gees: Die Woord van God (die Bybel) beskerm ons teen die vyand, maar genees ook wonde.

Die kinders word ook geleer dat daar ’n groot verskil is tussen eenmalige konflik en boeliery/afknouery. Dis belangrik om dié verskil te verstaan, want nie elke situasie is ’n boeliesituasie nie. ’n Boelie is iemand wat ander op ’n aanhoudende wyse seermaak, tart, spot of uitsluit; eenmalige konflik is iets wat net een keer gebeur en nie sommer weer nie. ’n Bietjie konflik is ook nou en dan nodig, want kinders moet leer dat elkeen uniek en verskillend is en dat ons nie ons hele lewe lank met almal gaan saamstem nie. Ons moet daarom besef dat ons konflik op ’n goeie manier moet hanteer. Boeliegedrag is ’n gans ander storie, want om te boelie beteken om ’n ander persoon oor en oor seer te maak of sleg te sê sodat daardie persoon al in vrees begin leef óf dit wat die boelie vir hom sê, begin glo, soos byvoorbeeld “Jy is dom”.

Die onderwysers het ’n doeltreffende werksessie deur Antoinette Steyn van AfriForum se trauma-eenheid bygewoon waar onderwysers geleer het dat elke mens se persoonlikheid verskil en dat kinders se persoonlikhede verskil en daarvolgens hanteer moet word. Die ouers het ’n insiggewende inligtingsaand bygewoon waar die akteur Jacques Gombault as spreker opgetree het.

Dit is belangrik dat skole ’n boelieraad aanstel sodat dié probleem dieper ondersoek kan word. Die boelieraad van dié twee skole het ’n toneel vir hul skool opgevoer wat die vier hoofvorme van afknouery uitbeeld, naamlik emosionele, verbale, fisieke en kuberafknouery. Hulle het ook oplossings vir elke situasie gebied: Soms was die boelie die vredemaker; ander kere was een van die omstanders die een wat ’n oplossing vir die situasie gebied het. Daar was ook ’n poppekas vir die jonger kinders wat sowel afknouery as ’n gepaste oplossing uitgebeeld het.

  • Indien jou kind se skool AfriForum by die teenboelieveldtog wil betrek, kan jy ’n e-pos na [email protected] stuur. Laat ons die hoërskole verander deur te begin om die laerskole te verander.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Ryno ·

In Australië was daar ń soortgelyke veldtog maar vanaf ń sekulêre platform wat baie meer inklusief is.
Die “golden rule ” ( Do unto others…) was in gebruik onder verskeie nasies tussen 500-2000 AD lank voor monotheism. Dit is dus onnodig om Matteus uit die bybel aan te haal en dit ń godsdiens gedrewe saak te maak.

johnny_walker ·

Christus loop al die aarde lank voor 2000 BC , so miskien moet jy weer mooi gaan kyk na die bybel en waar wette vandaan kom , Christus het self gesê hy het Abraham ontmoet en dat Abraham bly was om hom te sien , moet jou nie blindstaar aan NG predikante en ander propoganda gedrewe mense nie , lees jou bybel met ywer en jy sal sien daar is meer as wat meeste christene besef

Leandie Lombaard ·

Beste Ryno,

Dankie vir jou kommentaar. Ons as AfriForum is ’n organisasie met ’n Christelike grondslag en ons ondersteun die Christelike waardestelsel. Ons streef ook daarna om dit uit te leef in die wêreld daarbuite, daarom is ons kenteken se naam, Matteus.

As jy enige vrae het kan jy vir my ’n e-pos stuur: [email protected]

Vriendelike groete
Leandie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.