Akademia help matrieks ook met Wetenskap en Rekeningkunde

Matriekleerders van 2018 gedurende verlede jaar se Winterskool by die Centurion-studiesentrum (Foto verskaf)

Goeie matriekuitslae lyk nie net goed op ʼn CV nie, maar is die sleutel tot verdere studie. Daarom is dit belangrik dat matrikulante alles in die stryd werp tydens voorbereiding vir die matriekeksamen. Dit is geen geheim nie dat ekstra voorbereiding matrieks help om beter punte te behaal. Omdat meeste van ons leerders in oorvol klasse skoolgaan en nie altyd toegang het tot ʼn privaat tutor of ekstra klasse nie, kan matrikulante groot voordeel trek uit ekstra klasse tydens die wintervakansie.

Akademia bied reeds sedert 2015 met groot sukses jaarliks ʼn Winterskool in die Junie-vakansie aan. Vanjaar vind die Winterskool van 2 tot 5 Julie plaas by Akademia se studiesentrums in die Moot (Gauteng) en Somerset-Wes (Wes-Kaap). Die vakke wat aangebied word, is Wiskunde, Tegniese Wiskunde en Afrikaans Huistaal. Fisiese Wetenskappe en Rekeningkunde word ook vanjaar vir die eerste keer aangebied.

Hanre Groenewald, ʼn student wat die Winterskool verlede jaar bygewoon het, sê hy het baie by hierdie ekstra klasse gebaat. “Ek het baie meer hulpbronne ontvang as wat ek by die skool gekry het en onderwysers by die Winterskool het die werk ook baie beter verduidelik as my eie onderwysers,” het hy gesê.

Marli Buys se wiskundepunt het verbeter nadat sy Akademia se Winterskool verlede jaar bygewoon het. Sy sê die Winterskool was veral waardevol aangesien leerders na die tyd wéér na video-opnames van die lesse kon kyk. Video-opnames word aan leerlinge wat die winterskool bygewoon het beskikbaar gestel om werk te hersien en as verdere voorbereiding vir die rekord- en eindeksamens te gebruik.

Marie Grabe, ʼn voormalige onderwyser in Afrikaans Huistaal aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool, sê dit is beslis die moeite werd vir matrikulante om Akademia se Winterskool by te woon. “Akademia maak gebruik van die beste onderwysers, wat weet wat tydens die eksamen van matrikulante verwag word,” verduidelik Grabe. “Hierdie onderwysers wys al die vangplekke vir leerders uit en wys hulle ook hoe om gestruktureerd te leer.”

Matrieks het nog kans tot 29 Junie 2019 om hulle plek vir vanjaar se Winterskool te bespreek. Kostes beloop R100 per persoon per dag. Besprekings word aanlyn op Akademia se webwerf voltooi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.