Akademia hou virtuele kampusopedag

Akademia hou op 29 Augustus vanaf 09:00 – 11:00 haar heel eerste virtuele kampusopedag. Nes met ʼn tradisionele opedag gaan voornemende studente wegstap met sekerheid oor wat hulle kan verwag van studies by Akademia se nuutingerigte Centurion-kampus. Die opedagprogram is propvol inligting en digitale ontmoetings met dosente en ondersteuningspersoneel om te verseker dat voornemende studente ʼn deeglike voorsmaak van studies by Akademia kry.

Voornemende studente sal by die opedag kan deelneem aan aanlyn wegbreekkamers gerig op die spesifieke kwalifikasies waarin hulle belangstel. Meer inligting word ook oor studente-aktiwiteite en verblyfopsies verskaf. Hulle vind verder eerstehands uit wat hulle te wagte kan wees van studies by Akademia, hoeveel tyd hulle gaan bestee om die kwalifikasie te voltooi, en wat die loopbaanmoontlikhede is.

“Ons sal baie graag voornemende studente op die splinternuwe Centurion-kampus wou ontmoet, maar vir eers kan hulle sommer in die gemak en veiligheid van hulle eie sitkamer bywoon en saam die hele gesin op ʼn digitale reis na hulle toekoms toer,” vertel Zydèlia Venter, bestuurder: kommunikasie by Akademia. “Sodra die inperkingsmaatreëls opgehef word, nooi ons voornemende studente en ouers uit om dit in persoon te kom ervaar.”

Marthinus Visser, besturende direkteur by Akademia, meen dat die bywoning van opedae deurslaggewend is as jy naskoolse studies oorweeg. “Nie net kry jy inligting oor wat die onderskeie studierigtings behels nie, maar kry ook die geleentheid om jou dosente vooraf te ontmoet.”

Navorsing het bewys dat die eerste kontak met en ervaring van ʼn instelling een van die kritiese oomblikke in ʼn voornemende student se besluitnemingsproses is. Daarom is dit ʼn gulde geleentheid vir studente en ouers om die instelling en die kultuur eerstehands te ervaar, en sodoende daardie groot besluit op ʼn ingeligte wyse te neem. Verder is dit die ideale geleentheid om spesifieke inligting te bekom waaroor jy nog altyd gewonder het of waarvoor jy nie vrymoedigheid gehad het om op ander maniere te vra nie.

Akademia hou ook ʼn kompetisie vir voornemende studente wat die opedag bywoon om ʼn geskenkbewys ter waarde van R5 000 vir die aankoop van eerstejaarhandboeke te kan wen. Besoek Akademia se webblad vir meer inligting hieroor.

Waarvoor wag jy? Bespreek jou aanlyn sitplek en kom saam op ʼn digitale loopbaanreis na jou toekoms. Stuur ʼn e-pos aan [email protected]  of stuur ʼn WhatsApp na 0861 222 888 vir enige navrae. Akademia, jou Afrikaanse studietuiste!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.