Arbeidsterapie kan lewens verander

Arbeidsterapie het soveel verskillende fasette. Verbeeldingspeletjies is baie goed vir kinders se ontwikkeling. (Foto: Verskaf)

Deur Tanya de Vente-Bijker

As jy my drie jaar terug gevra het wat arbeidsterapie is, sou ek waarskynlik gefrons, gehuiwer en ’n onsamehangende antwoord gebabbel het. Want ek het eintlik geen idee gehad nie. Ek het geweet dit is ’n tipe terapie, iets wat vir kinders gebruik word… maar dit is hoe ver my kennis gestrek het. Vandag kan ek vertel hoe arbeidsterapie ons gesin se lewe kom verander en verbeter het.

My dogtertjie was ’n baie soet baba, ’n “boekbaba” het my man gesê. Maar toe sy so ’n jaar en ’n half oud was, het die tantrums en huilbuie begin. Niemand behalwe ons, of my ma, mog haar vashou nie. Roetine was baie belangrik en vakansies, of enige iets uit ons gesin se roetine, was nag. Omdat ons graag reis het ons halsstarrig volhard in nuwe plekke verken, maar tydens ’n duur strandvakansie het sy geweier om op die strand te speel en wou net heeltyd teruggaan huisie toe. In die wildtuin het die karavaan haar veilige hawe geword en wildtuinvakansies het gelukkig beter gegaan as ander vakansies omdat ons altyd in die karavaan was.

ʼn Kuier of braai by vriende was stresvol. Soms het ons eenvoudig tuis gebly, of sy het by Ouma gaan speel. Want ons het geweet as sy vanaand saam kom braai, gaan ons môre ʼn baie moeilike dag hê.

Winkels, en veral besige winkels, was ’n sneller en ek moes menige keer my kind styf vasklou en skreeuend uit ’n winkelsentrum dra. Baie keer as vriendelike mense in die winkels met my kind begin praat het, het sy geskree of gegrom. Party mense het gelag, party ouer tannies was uiters geskok en daar was een of twee keer wat mense dit as rassisties opgeneem het. Dit was ons normaal en ons het gedink dit is nou maar hoe party kinders deur die lewe gaan.

Dit was eers toe ’n tweede persoon vir ons sê ons haar dalk laat toets deur ʼn arbeidsterapeut dat ons verder begin dink het. Ek het gedink arbeidsterapeute sien eers kinders as hulle ouer as vyf jaar is, maar uiteindelik aan die begin van verlede jaar het ons besef ons moet iemand kry wat haar kan evalueer.

Ons het ’n arbeidsterapeut gaan soek wat ook met kleiner kinders werk en ’n evaluasie laat doen. ’n Nuwe wêreld het vir ons oopgegaan. Ons kind is tas- en audiosensitief. Dit beteken te veel harde geluide en te veel nuwe sensasies oorstimuleer haar en dit is dan wanneer sy reageer deur ʼn tantrum of huilbui of eenvoudig baie moeilik raak.

Vandag, ʼn jaar van arbeidsterapie later, het ons ʼn ander kind. Daar is geen tantrums meer nie, by uitsondering, as dit ʼn baie besige naweek was en sy moeg is, sal daar trane wees. Maar die gewone trane, nie dié van vroeër nie. Sy gesels met vreemde mense, geniet vakansies op ander plekke en ons sien haar nie meer as ons by vriende braai of ná kerk geselsies maak nie. Sy speel nou met die maatjies. Haar terapie het haar vaardighede gegee hoe om die oorstimulasie te hanteer. Ons, as ouers, het geleer om die snellers betyds raak te sien en in te gryp voor dit te laat is. En sy self het onbewustelik ook geleer om te stop voor dit te veel raak. Ek weet al, wanneer sy vra of sy bietjie kan tablet kyk, het sy alleentyd nodig.

Arbeidsterapie kan ʼn verskil maak

Speel-speel skep die terapeut geleenthede vir die groei en ontwikkeling van die kind se vaardighede. (Foto: Verskaf)

Nelia* getuig ook hoe arbeidsterapie haar kind se lewe verander het.

“Ons dogter sukkel, aangesien sy ’n agterstand opgebou het ná mediese intervensies as baba en kleuter. Sy het baie angstig geword en ‘slaan toe’ as sy onder enige druk beland.”

Nelia vertel haar kind kry spelterapie by ’n terapeut wat in mediese trauma spesialiseer asook arbeidsterapie by ’n terapeut wat in sensoriese integrasie spesialiseer.

“Arbeidsterapie en spelterapie help ons kind om haar emosies te vokaliseer, beter te selfreguleer asook om skolasties beter te presteer. Haar konsentrasie is ook al baie beter as wat dit aanvanklik was. Sy is ook baie meer sosiaal en gaan selfs dokter toe sonder om totaal en al angstig te raak,” vertel Nelia.

Haar raad as ouer is om ’n terapeut te vind wat saam met jou as ouer sal werk en wat jou en jou kind se hande sal vat.

“Vir my, persoonlik, was dit ook belangrik om iemand te kry wat by my kind se persoonlikheid sou pas asook die geduld sou hê met haar. Ons het al ongelukkig bloutjies geloop met ander terapeute in dié opsig. Onthou, terapeute het ook verskillende spesialiteite, soek dus ’n terapeut wat aan jou kind se behoeftes kan voldoen.

“Arbeidsterapie kán en sál ’n verskil in jou kind se lewe maak,” sê Nelia.

Terapie is nie altyd maklik nie

Hierdie “vlermuispakkie” (spandex body sock) gee vir die kind spier- en diepdrukterugvoer en help skep ‘n veilige gevoel. Ons gebruik dit by die huis as die kinders bietjie wil kalmeer – hulle gaan lê in hulle “vlermuispakkies.” Die pakkies reis ook saam met vakansies. (Foto: Verskaf)

Ons is ook baie dankbaar vir die terapeut waarby ons uitgekom het met ons dogtertjie. Lita du Plessis, ʼn arbeidsterapeut van Pretoria, het hoofsaaklik Dr. Stanley Greenspan se DIR®/ Floortime-benadering gevolg met ons dogter.

Soms kry die groot woorde en terminologie my steeds onder. Maar Lita verduidelik die ‘D’ in DIR, verwys na ‘Developmental’, ’n ontwikkelingsbenadering wat pertinent na die kind se funksionele emosionele kapasiteite, of sosio-emosionele vermoëns oplet soos dit deur die ‘Individual Differences’ (‘I’), beïnvloed word. Laasgenoemde verwys na ‘wie’ die kind is, en sluit ook dinge soos sensoriese-, motoriese- en taalaspekte in. Die ‘R’ vir ‘Relationship-based’ verwys na die skep van ’n veilige, koesterende verhouding waarbinne die terapeut die kind ontmoet daar waar die kind is en van daar beweeg om haar/hom te ondersteun en te help groei.

Lita verduidelik ouers is die hoeksteen van hierdie benadering. “Dit impliseer dat my rol as terapeut is om saam met die ouer of ouers te werk sodat hulle tuis en in die toekoms met ‘Floortime’, die praktiese deel van hierdie benadering, kan voortgaan.”

Lita sê haar eerste prioriteit was om ons kind veilig te laat voel: in haar lyfie, asook in haar menswees. Sy het gebruikgemaak van ons kind se belangstellings.

“Ek het dít wat haar interesseer, gebruik sodat ek op ʼn spelerige wyse haar ontwikkelingsvermoëns kon uitdaag. Deurentyd het ek sensoriese geleenthede geskep en ingebring sodat haar onderliggende individuele profiel (onder meer tassensitiwiteit) aandag kry. Hierdie sensoriese insette is op Ayres Sensoriese Integrasie beginsels gebou.

“Ongelukkig is geen terapeutiese proses altyd maklik of gemaklik nie. Tydens sommige sessies het ek haar onwetend bietjie ver uitgedaag, wat tot trane of ongelukkigheid aanleiding gegee het.”

Maar omdat Lita ʼn goeie verhouding met haar opgebou het, kon sy elke keer weer die verhouding herstel en haar weer by ’n punt van regulasie en veiligheid bring.

“Met elke uitdaging, sonder dat die kind dit besef het, kon sy bietjie meer hanteer en uiteindelik groei en nodige vaardighede ontwikkel.”

Maar hoekom is arbeidsterapie in sommige opsigte steeds ʼn vreemde konsep? Lita sê dit is ʼn wye veld met verskeie onderafdelings.

“Dit is ook nog ’n relatiewe jong beroep. Ek dink dat mense bloot nog net nie van die beroep gehoor het of dit nodig gehad het nie, of dalk wanpersepsies van die beroep koester. Pediatriese arbeidsterapie is, byvoorbeeld, nie net vir kinders met erge leerprobleme of fisieke diagnoses nie. Daar is soveel meer.”

Sy verduidelik arbeidsterapie is daarop gerig om ’n individu, of selfs ’n groep mense, te help om in funksionele lewensruimtes hul potensiaal te bereik.

“Dit sluit die ontwikkeling, instandhouding of rehabilitasie van nodige vaardighede, in. Toegepas op skoolgaande kinders, verwys dit daarna dat ’n kind gehelp word om optimale klasdeelname te hê deur spesifieke aandag te gee aan moontlike motoriese ontwikkelingsagterstande (byvoorbeeld fyn motoriek), asook sensoriese behoeftes.”

Lita verduidelik as jou kind nog nie die nodige ontwikkelingsmylpale bereik het, ouderdomstoepaslik optree, spesifieke take verrig, of in sekere situasies funksioneer nie, is dit tyd om ʼn arbeidsterapeut te kontak.

“Pediaters, ander mediese personeel, dagmoeders en onderwysers kan ook soms leiding gee en aanbeveel dat ʼn kind deur ʼn arbeidsterapeut geëvalueer word,” sê sy.

Maar interessant genoeg, by ons was dit slegs tuis wat ons die probleme opgetel het, by die speelskool het ons dogtertjie haarself so ingehou dat als tuis uitgeborrel het. Lita sê dat ’n arbeidsterapeut wat Ayres Sensoriese Integrasie-opleiding het, kan help indien jou kind se gedrag en optrede deur sensoriese behoeftes (soos die vermyding van sekere aanrakings of klanke, of selfs die totale teenoorgestelde daarvan!) beïnvloed word. Die ander benaderinge wat arbeidsterapeute inkorporeer, is bydraend en verder verrykend.

Anders as wat ek gedink het, sê Lita kinders kan van enige ouderdom af, selfs van babatyd af, vir arbeidsterapie gebring word. En die goeie nuus is, dit is nooit te laat om iemand te help nie. Ek kan nog onthou toe ek die arbeidsterapeut die eerste keer gebel het – dit het baie moed gekos om die foon op te tel. En toe ek haar aanvanklike woorde verkeerd geïnterpreteer het, het ek skoon aggressief geraak en in trane uitgebars. Maar ek was self op breekpunt en uiters gefrustreerd met my kind.

Vandag is ek dankbaar dat ek ʼn jaar terug daai dag die telefoon opgetel het en gebel het. Want vandag is my kind ʼn ander kind. En ek sal arbeidsterapie vir ewig dankbaar wees daarvoor.

Verdere leesstof oor sensoriese prosessering, insluitend sensoriese sensitiwiteite:

  • Too Loud, Too Bright, Too Fast, Too Tight: What to Do If You Are Sensory Defensive in an Overstimulating World – Sharon Heller
  • Raising a Sensory Smart Child: The Definitive Handbook for Helping Your Child with Sensory Processing IssuesLindsey Biel and Nancy Peske

 *skuilnaam

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SomeOne ·

as ouer mens, is ek is seker ons almal ken sulke situasies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.