Berei jongmense voor vir veranderende werksomgewing

jeug

Foto: Devin Avery/Unsplash.com

Deur Marlien van der Westhuizen

Suid-Afrika het tans die hoogste jeugwerkloosheidsyfer in die wêreld. Volgens Statistiek SA is byna 75% van jongmense tussen die ouderdom van 15 en 24 jaar werkloos. Een hoofrede hiervoor is ʼn tekort aan vaardighede onder jongmense in ʼn immerveranderende werksomgewing. Die toenemende rol van tegnologie, verstedeliking en die globalisering van waardekettings het die aard van werk- en vaardigheidsvereistes drasties verander.

As antwoord op die internasionale krisis waar ongeveer 71 miljoen jongmense werkloos is, het die internasionale bestuurskonsultasiefirma, McKinsey, ʼn studie onder 18 000 individue in 15 lande gedoen. Hiervolgens is ‘n omvattende vaardigheidsreeks van 56 eienskappe saamgestel wat nodig is om ʼn werk te kry. Hierdie reeks kan as volg gegroepeer word:

  1. Kognitiewe vaardighede

Kognitiewe vaardighede verwys na die vermoë om ingewikkelde idees te verstaan, effektief by jou samelewing aan te pas, uit ervaring te leer en om dit aan ʼn gehoor te kommunikeer. As deel van kognitiewe vaardighede is fundamentele geletterdheid en gesyferdheid belangrike vaardighede wat op skoolvlak bemeester behoort te word. Leerders wat op hierdie vlak sukkel kan daarby baat om aan ekstra klasse tyd te spandeer, of gebruik te maak van platforms soos Wolkskool. Verder speel vaardighede soos kreatiwiteit, kritiese denke en probleemoplossing ʼn belangrike rol in ʼn leerder se vermoë om ʼn werk te kry. Hierdie vaardighede word hoofsaaklik verbeter indien die kennisoordag vooraf by die huis in die sogenaamde omgekeerde klaskamermodel plaasvind. Dit gee die onderwyser tyd om dieper gesprekke in die klaskamer te voer waar kreatiwiteit, kritiese denke en probleemoplossing ʼn uitlaatklep kry.

  1. Interpersoonlike vaardighede

Interpersoonlike vaardighede beskryf die vermoë om sosiale situasies doeltreffend te hanteer. Verder dui dit op die vermoë om in ʼn span te werk en verhoudings te bou. ʼn Leerder moet empatie kan toon, sowel as nederigheid. Skole speel ʼn belangrike rol in die ontwikkeling van interpersoonlike vaardighede omdat onderwysers en leerders onderling vir mekaar rolmodelle kan wees. In ʼn formele skoolomgewing leer leerders hoe om op ʼn gesonde wyse konflik te hanteer en kan hulle mekaar inspireer. ʼn Belangrike fokus vir skole is om toe te sien dat leerders die belangrikheid van voortgesette leer begryp om sodoende gewillig te wees om voortdurend te leer, aan te pas en te ontwikkel.

  1. Selfhandhawingsvaardighede

Selfhandhawing beteken dat leerders oor genoegsame selfkennis beskik om hulle emosies te kan verstaan (en te beheer) en hulle eie sterkpunte optimaal te benut. Dit lei na selfvertroue en die moed om risiko’s te neem, wat weer na breër horisonne, passie en optimisme in ʼn leerder se lewe lei. Hierdie vaardighede vereis dat leerders selfgerig werk en skoolwerk voltooi sonder dat daar voortdurend vir hulle gesê word wat om te doen. Selfs nog belangriker is dat leerders moet aanhou probeer om moeilike take te voltooi sodat hulle uithouvermoë en probleemoplossingsvaardighede kan verbeter.

  1. Digitale vaardighede

Ten slotte verwys digitale vaardighede na vaardighede wat deurlopend ontwikkel moet word en nodig is vir al drie bogenoemde vaardighede. Digitale vaardighede beskryf die vermoë om toepaslike inligting te bekom, te verstaan, te evalueer, te kommunikeer en selfs te skep. Dit verwys ook na etiese aanlyn praktyke en om verstandig en veilig op te tree terwyl leerders aanlyn is. In ʼn wêreld wat toenemend meer gedigitaliseer raak, moet leerders basiese programmering en die ontleding van data verstaan om op ʼn meer algoritmiese manier te kan dink.

Op 15 Julie vier ons Wêrelddag vir jeugvaardighede en benadruk ons die verantwoordelikheid van ouers, onderwysers, skole en ander onderwysrolspelers om ons leerders op die werksplek voor te berei deur die bostaande vaardighede te ontwikkel. Hierdie vaardighede sal help dat leerders in ‘n meer outomatiese, digitale en dinamiese arbeidsmark oor die nodige vaardighede beskik om werk te doen wat van groter waarde is as werk wat deur intelligente masjiene gedoen is. Leerders sal gevolglik voortdurend kan aanpas om by te hou by die groeiende aanvraag vir tegnologiese, sosiale en emosionele en hoër kognitiewe vaardighede.

  • Marlien van der Westhuizen is ’n navorser by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.