Skolastiese voorbereiding is die fondament waarop ʼn suksesvolle toetrede tot graad een gebou word. Dié voorbereiding is geskoei op die ontwikkeling van ʼn kind se gereedheid vir formele leer en onderrig om te kan plaasvind. Dit begelei ook die proses waartydens ʼn kind sy akademiese vaardighede (lees, spel, skryf, rekenkunde) ontwikkel. Na hierdie proses word dikwels verwys as “skoolgereedheid”.
Christa Badenhorst, ʼn opvoedkundige sielkundige van Pretoria, het ʼn paar wenke met die Skoleondersteuningsentrum (SOS) gedeel oor hoe om te verseker jou kind is gereed vir graad een.
Jou kind moet sy naam kan herken.
Een van die belangrikste vaardighede wat elke kind moet hê wanneer hulle graad een toe gaan, is om hul eie naam en van te kan herken en, indien moontlik, te skryf. Daar kan byvoorbeeld van jou kind verwag word om sy of haar plekkie by die tafel uit te ken deur ʼn naamplakker.
Grootmotoriese vaardighede
Dit kan ouers gedurende die vakansie ontwikkel deur jou kind te laat touspring, vir hom ʼn bal te gooi om te vang en te skop, hom op ʼn‘n stuk tou te laat balanseer en hom aan te moedig om te huppel.
Die regte potloodgreep
As jou kind eers ʼn‘n verkeerde potloodgreep aanleer, is dit baie moeilik om reg te stel. Laat hom oefen met ʼn driehoek-potlood, of deur ʼn wasgoedpennetjie tussen sy duim en wysvinger vas te klem, terwyl hy skryf. Maak ook seker hy sit mooi regop terwyl hy skryf.
Nog vaardighede wat jou kind moet hê wanneer hy of sy graad een toe gaan:
- Sy eie skoenveters kan vasmaak
- Verantwoordelikheid neem vir sy eie besittings
- Kan self badkamer toe gaan
- Kan ʼn storie oorvertel
- Kan onderskei tussen links en regs
- Herken kleure en vorms
- Kan stilsit en luister na ’n opdrag
- Kan knip met ʼn skêr