Besigheidsbytjies se sakeplan: Bemark jou onderneming

Deur Leandie Bräsler

In die vorige artikels het ons wenke gedeel oor hoe jy jou besigheidsidee kan ontwikkel en jou sakeonderneming kan beplan . Hier is ’n paar wenke oor hoe jy jou besigheid nou kan bemark:

Deel 3: Bemark jou besigheid

  1. Bepaal wie jou teikenmark is

Skryf al die verskillende tipes kliënte neer wat jy dink by jou produk/diens sal baatvind of daarin sal belangstel. Wanneer jy ’n troeteldieroppasserbesigheid begin, sal jou kliënte tipies die mense wees wat reis vir werk, mense wat lang ure moet werk en mense wat met vakansie gaan.

  • Jy moet jou markarea oorweeg, tensy jou ouers jou kan help met vervoer indien jou markarea redelik klein is. Dit kan dan slegs areas insluit waar dit vir jou veilig sal wees om na jou bestemming toe te stap of om fiets te ry.
  • Hierdie kliënttipes word kliënteprofiele genoem. Sodra jy jou kliënteprofiele vasgestel het, sal jy ’n beter idee hê van hoe jy jou besigheid aan hulle kan bemark.
  • Verskillende kliënteprofiele benodig soms verskillende bemarkingstrategieë.

 

  1. Stel vas of jy mededingers het

Is daar iemand anders in jou omgewing of dorp wat soortgelyke produkte of dienste bied of lewer? Indien wel, sal julle om dieselfde kliënte meeding. Hoeveel vra hulle vir hul produkte en/of diens, en hoe vergelyk hul pryse met wat jy gaan vra? Hoe sal jou produkte en/of diens beter wees as hulle s’n? Waarom moet kliënte jou besigheid bo hulle s’n kies?

  • Jy kan die doeltreffendste bemark as jy hierdie spesifieke besonderhede van jou mededingers weet.
  • Die aanbied van laer pryse of produkte en dienste van beter gehalte is twee wyses waarop jy kan meeding.
  • As jy, byvoorbeeld, ’n besigheid begin om mense se gras te sny, sal jy met gevestigde tuiniers moet meeding. Jy kan ’n kliëntebasis opbou deur ’n beter produk of diens te lewer en so ook kliënte-aanbevelings aanmoedig.
  1. Verken verskillende bemarkingstrategieë

Gaan jy adverteer deur pamflette uit te deel? Indien jy dit doen, waar gaan jy dit uitdeel? Gaan jy jou besigheid op sosiale media bemark, of deur middel van e-posse? Gaan jy jou besigheid met deur-tot-deur-besoeke bemark? Gaan jy jou eie webblad hê?

  • Onthou om jou kliënteprofiele in gedagte te hou wanneer jy op bemarkingstrategieë besluit.
  • As jy, byvoorbeeld, mense se troeteldiere oppas, kan jy strooibiljette by veeartse en troeteldierwinkels plaas of selfs uitdeel. Jy kan ook pamflette uitdeel aan mense in jou omgewing wat troeteldiere het.

 Maak besigheidskaartjies vir jou besigheid

Besigheidskaartjies kom baie handig te pas en is baie professioneel. In vandag se tyd kan jy sommer besigheidskaartjies aanlyn teen ’n lae koste bestel. Jy kan selfs jou eie besigheidskaartjies maak deur drukbare besigheidskaartjiepapier (met templette) te koop om jou met jou ontwerp  help.

Maak seker dat jy vanaf 1 April tot 31 Julie 2020 vir AfriForum en AfriVriendelik se Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie inskryf. Hierdie kompetisie word aanlyn gedryf op www.besigheidsbytjies.co.za en inskrywings is absoluut gratis. Laerskoolleerders en graad 8- en 9-leerders kan hiervoor inskryf. Daar is groot pryse op die spel.

Laai gerus gratis AfriForum en AfriVriendelik se Besigheidsbytjiegids hier af waar jy solank aan jou sakeplan kan begin werk. Besigheidsbytjies is ’n inisiatief van AfriForum.

  •  Leandie Bräsler is AfriForum se bestuurder vir junior jeugleierskap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.