Bewusmakingsweek laat kollig op tienerselfdood val

(Argieffoto: Pixabay)

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) berig dat nagenoeg 800 000 mense per jaar hulle eie lewens neem: Dit kom neer op een persoon elke 40 sekondes.

Selfdood is ʼn wêreldwye fenomeen onder mense van alle ouderdomme. Doeltreffende en getuienisgebaseerde ingrypings kan op verskeie vlakke, hetsy dwarsoor die bevolking of individueel, ingestel word om selfmoorde te voorkom.

Daar is aanduidings dat vir elke volwassene wat daarin slaag om hul eie lewens te neem, daar twintig volwassenes is wat poog om selfdood te pleeg.

Verder word berig dat 9% van alle tieners wat in Suid-Afrika sterf se dood aan selfdood toegeskryf kan word. Die groep onder wie selfmoord die vinnigste toeneem, is mense jonger as 35, spesifiek vrouens tussen 15 en 19.

“Dit is nie moeilik om te sien waarom ernstige depressie en selfdood aan mekaar verbind is nie. Depressie behels ʼn hartseer gemoedstoestand wat lank duur en ʼn verlies aan plesier uit dinge put wat jy eens op ʼn tyd geniet het,” verduidelik Zane Wilson, stigter van die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag).

“Dit behels gedagtes oor die dood, negatiewe gevoelens oor jouself, ʼn gevoel van waardeloosheid. Ons kry oproepe van tienermeisies van 15 jaar oud wat aanhoudend deur haar stiefpa mishandel word, ʼn seun wat sy ouer broer in bendegeweld verloor het en ʼn kind van 12 wie se ma onlangs aan vigs dood is.

“Soms voel dié mense asof hulle niks het om na uit te sien nie of dat die lewe minder pynlik sal wees as hulle dit beëindig.”

Depressie is wel behandelbaar en volgens Sadag toon sowat 70% van depressielyers ʼn beduidende herstel.

Aanlyn werkswinkels word ook eersdaags deur die Aquilla Training-groep aangebied wat daarop gemik is om kinders te help om trauma te verwerk en lig te werp op die onderwerp en erns van selfmoord.

Dié werkswinkels word in Engels en Afrikaans aangebied. Klik hier vir meer inligting oor die werkswinkels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan Venter ·

Die land is in so ‘n gemors, ons het in effek ‘n bewusmakingsweek- of maand nodig vir elke aspek in die land waaroor die ANC regering die mense versaak het, veral die morele verval en armoede, gemeenskappe wat toenemend in vrees verkeer oor wat volgende, dit blyk selfs ‘n wonderwerk te wees as jou kind na skool of ‘n uitstappie, ongeskonde by die huis aankom, indien wel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.