Bloemhof kraai koning in tienertoneelkompetisie

Foto: Skermskoot uit die video

Foto: Skermskoot uit die video

Die Hoër Meisieskool Bloemhof van Stellenbosch is die nasionale wenner van die 51ste ATKV-Tienertoneelkompetisie met die produksie Vyf: ’n dokumentêr. Dié aankondiging is verlede week gemaak op die Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom.

Dié skool ontvang R30 000 en die ATKV-Tienertoneelwisseltrofee. Vyf: ’n dokumentêr is ’n werksessieproduksie, saamgestel deur die lede van die geselskap.  Dit word beskryf as verbatimteater, ’n vorm van dokumentêre teater, en stel ondersoek inl na die psige van ’n kontemporêre tienermeisie.

In dié produksie word die deure van ’n meisieskool op ’n skrefie oopgestoot vir die publiek. Die 704 stories van 704 leerlinge is gesif om die banale sowel as die belangrikste ervarings van ’n tienermeisie te ontbloot: neurose, vrese, angs, paniek en vreugde van vyf jaar se groeipyne waar “maanskyn en rose” ’n gedig is wat jy in gr. 10 behandel. ’n Private blik in ’n wêreld waar jou matriekafskeidsrok ’n staatsgeheim is, waar bad hair days jou laaste kommer is en waar ’n A-gemiddeld die standaard is. ’n Wêreld van die matriarg. Elke woord is verbatim gebruik.

Die regisseur is André Gerber en die hulpregisseur is Elizabeth Munro.

Die produksie is ook bekroon met die toekenning vir beste ensemblewerk. Hoër Meisieskool Bloemhof het in 2012 met Spektakel en in 2013 met Sneeuwitjie en die sewe zombies ook dié gesogte titel verower.

Randfontein High School is aangewys as die naaswenner en ontvang R20 000 prysgeld vir Die einde. Dit is die eerste keer dat hierdie skool deelneem aan ATKV-Tienertoneel.

Die einde is ’n oorspronklike, kragtige drama wat die wrede bendekultuur in ons tronke uitbeeld. Dit is ’n eerlike en dikwels uitdagende uitbeelding van ’n skynbaar vergete samelewing. Antonio Martin wat die rol van Cupcakes vertolk is as die belowendste speler tydens in die eindronde aangewys. Die toekenning vir beste regisseur(s) is oorhandig aan Stephen Kotze en Amanda Jankowitz vir Die einde.

Hoërskool Zwartkop se Hospitaner, geskryf deur Johann Smith, het in die derde plek geëindig. Die skool ontvang R10 000. Linda van der Walt van Hoërskool Zwartkop is aangewys as die beste vrouespeler in ’n ondersteunende rol.

Ben Blignaut, ook van Hoërskool Zwartkop, en Loyame Mlawuli van Randfontein High School deel die toekenning vir beste mansspeler in ’n ondersteunende rol.  Cantona James wat die rol van General (X) vertolk het in Die einde is aangewys as die beste akteur.

Potchefstroom Gimnasium se As die trein kom het vierde geëindig en Hoërskool Noordheuwel se DubbelDrie vyfde. Potchefstroom Gimnasium het die toekenning ontvang vir beste hantering van tegniese aspekte, asook vir die beste aktrise. Dié prys gaan aan Charlize Barnard vir haar vertolking van Nine.

Tydens die eindronde het die ATKV drie nuwe toekennings aangekondig waarmee die tegniese leerlinge, wat net so hard agter die skerms werk, beloon word: dié van beste verhoogbestuurder, beste klankoperateur en beste beligtingsoperateur. Die eerste ontvangers van hierdie toekennings is Zander Brits van Port Natal Skool in Vergeet om te vergeet (beste verhoogbestuurder), Inge Heins van Hoër Meisieskool Bloemhof in Vyf: ’n dokumentêr (beste klankoperateur) en Mokgadi Mabitsela van Randfontein High School in Die einde (beste beligtingsoperateur).

Altesaam 180 toneelstukke het vanjaar deelgeneem aan die ATKV-Tienertoneelkompetisie met ongeveer 3 000 hoërskoolleerlinge wat die verhoë warm gespeel het. Tien streekfeeste het gedurende Augustus plaasgevind, waarna die tien beste produksies uitgenooi is na die eindronde.

Die doel van dié oudste projek van die ATKV is om ’n liefde vir Afrikaanse toneel by hoërskoolleerlinge te kweek sodat hulle hul eie kreatiwiteit en talente daardeur kan ontgin en slyp.

Die ander finaliste was Hoërskool Eldoraigne met Vriendin, Hoërskool Wilgerivier Frankfort met Mallewales, Hoërskool Jan van Riebeeck met Jaarblad, Hoërskool Upington met Kaplyn en Port Natal Skool met Vergeet om te vergeet.

Die beoordelaars tydens die eindronde was Elma Postma, Hennie van Greunen, Ilse Oppelt, Ira Blanckenberg, Marí Borstlap, Pedro Kruger en Wilhelm van der Walt.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.