Boepie-blues: Vermy eerder die ‘Facebook-kenners’

(Foto: Pixabay)

(Foto: Pixabay)

Om vir die eerste keer ma te word, is uiters opwindend… maar ook met tye vreesaanjaend.

Ek skrik menigte nagte in ʼn koue sweet wakker oor alles wat ek moontlik verkeerd kan doen met ʼn splinternuwe seuntjie wat oor minder as ʼn maand in my arms gaan lê.

Oudergewoonte tas ek dan in die donker rond vir my selfoon en begin op Facebook-groepe rondkrap. Daar is hordes van hulle waar mammas, nuut en nie nuut nie, hul angstige pleidooie kan uiter in die hoop dat daar êrens nog ʼn ma is wat ook voel soos sy voel of beleef wat sy beleef en na antwoorde, berusting of vertroosting soek.

Mammas vra raad oor die grootste tot die kleinste (soms lagwekkende!) kwessies. Van “my seuntjie moet begin met vaste kos, is Purity of fyngedrukte groente beter?” en “my baba se doeke is ʼn sekere groenerige kleur, is dit normaal?” tot “ek wil my en my man en my ouma en my niggie se name saamvoeg om ʼn naam vir my dogtertjie te kry, wat dink julle van Johannelemieke-Né?”.

Ek het al vir mense se antwoorde aanmekaar gelag, ek was al geskok en ek het al myself vererg, maar tog gaan ek elke keer terug, veral wanneer ek self ʼn angstige oomblik ervaar en begin soek na iemand wat miskien ʼn liggie in my donker tonnel sal wees.

In een van my angstige oomblikke, lees ek raak hoe ʼn mede-eerste‑keer-mamma desperaat na raad vra oor borsvoeding – ʼn onderwerp wat ek in die laaste agt en ʼn half maande agtergekom het ʼn uiters gelaaide en sensitiewe een is, en een waaroor sekere vroue geen genade teenoor mekaar het nie.

Deur haar skrywe kan ʼn mens agterkom dié mamma se hart is baie seer: sy smeek die ander vroue om haar asseblief nie na ʼn sekere borsvoeding-groep op Facebook te verwys nie, want sy het genoeg oordeel daar ervaar en voel reeds soos ʼn slegte ma oor hoe hulle haar daar behandel het.

Ek vererg myself onmiddellik weer en kan voel hoe my koue angssweet in ʼn warm irritasiesweet verander. Soos ek deur die kommentare op haar inskrywing lees, onthou ek weer waarom ek eerder Facebook-groepe oor die algemeen moet vermy. Die ander ma’s raai haar aan om te doen net wat vir haar werk, om nie te voel sy is ʼn slegte ma nie en dat sy en haar nuwe kind mekaar net moet geniet.

Waarom is dit nodig dat iemand, deur vreemdelinge se toedoen, nogal, soos ʼn slegte ma moes voel in die eerste plek, wonder ek. ʼn Mens kasty jouself reeds genoeg oor hoe jy jou arme bloedjie deur hierdie wrede lewe gaan kry dat ek nie kan dink dat ʼn mens jouself nog moet blootstel vir ander se menings oor iets waarvoor daar in elk geval nie ʼn handboek is nie.

Wie sê Sannie weet beter as Johanna of Marie wat om te doen? Elke mens, elke kind en elke persoon se omstandighede verskil. Waarom moet ons mekaar só druk op sosiale media dat ons voel ons is nie goed genoeg nie? ʼn Mens kan reeds nie jou boude in ʼn Spar of ʼn Wimpy draai voordat een of ander dame vir jou ongevraagde raad wil gee nie, nou soek ons nog redes om mekaar af te kraak op sosiale media ook.

Die Here vertrou ʼn babatjie aan elke mamma toe omdat Hy glo sy is goed genoeg – wat jy as ma daarmee maak, is jou saak. Nié alle ma’s is goed vir hulle kinders nie, maar dit is nie die res van ons se plek om te besluit wie is goed genoeg en wie nie.

Vir eeue het vroue kinders grootgemaak net met die moederinstinkte en die genade wat die Here vir hulle gegee het. My ma en my ouma en my oumagrootjie het nie Facebook gehad waar hulle kon raad vra oor koliek, borsvoeding en opvoeding nie. Hulle het die beste gedoen met wat hulle tot hulle beskikking gehad het en ek glo ons almal het heel oukei uitgedraai.

Vroumense en mammas: Ondersteun mekaar, verleen hulp en bied ʼn veilige hawe vir mekaar. Of, vermy doodeenvoudig die Facebook-groepe. Al dink Sannie, Johanna of Marie elkeen van hulle weet die beste, het hulle ook maar net gedoen wat hulle kon en ook gereeld met ʼn groen poefdoek en hande in hare gesit wanneer Johannelemieke-Né net eenvoudig nie wou ophou skree nie.

  • Leonie Bezuidenhout is ʼn joernalis vir Maroela Media en vryskutblogger. Sy is 31 jaar oud en tans swanger met haar eerste baba.

Lees alle Boepie-blues-rubrieke op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Barbie ·

Gaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaaap!!! .. dis nou weer iemand wat die eerste keer ma word wat dink sy weet alles.

Denise ·

Ek het maar my Moederlikke instink ingespan en het twee droom babas groot gemaak ek moet se ek was baie gelukig en hulle is net n jaar uit mekaar ek het geglo in roetine en so kon selfs ek elke midag slaap so belangrik !!!!

Marinda ·

Ek kan met geruste hart Bloem Momdoc as groep aanbeveel,sy is ‘n dr met twee kids en gee lekker praktiese beproefde raad.

JK ·

Vermy Google en Facebook as jy vra het. Google gaan enige iets dui dat jy half dood moet wees, en FB kenners is daar net om hulself beter te laat voel.

Sean ·

Sosiale media verblind ons van die waarheid in die kleurvolle lewe wat reg voor ons is, elke dag, elke oomlik. Die lewe is waardevol in die aansig van jou mede mens, nie deur die lens van n selfoon nie.

John ·

Ons het ‘n familie rotsduiwe in die tuin. ‘n Hele paar broeisels het al die lewe gesien sedert ons hier bly. Die mees getroue ouerpare kry mens sekerlik net in die diereryk. Sonder handboek en internet, broei die ma vir dae deur reènbuie en koue op die skamel nes terwyl die pa kos aandra en naby waak… ook snags. Dit strek ook weke en die getrouheid wyk nie. Selfs wanneer die kleintjies al groterig is, dra hulle kos aan en koer en koer om die kleintjies veilig te laat voel. Ons mense steek erg af.

Patch ·

Moederinstink tree dadelik in as jy die bondeltjie liefde die eerste keer vashou. Jy sal weet wat om te doen en wat nie. Luister na ander se raad maar dit beteken nie dat jy dit hoef toe te pas nie. Besluit self wat jy dink is die beste vir die nuwe kleinding. Elke mamma se ouerskap mening verskil. Sterkte met die nuwe hoofstuk in jul lewe, geniet elke oomblik van ouerskap. Elke oomblik is spesiaal, koester dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.