Bokkieweek gooi, dribbel en skop in Kroonstad af

(Foto verskaf)

Na twee jaar van inperking kan die room van Afrikaanse leerders weer in unieverband by die jaarlikse Bokkieweek teen mekaar meeding.

Die Bokkieweek, ʼn inisiatief deur Afrikaner Volkseie Sport (AVS), bestaan uit 15 unies met 2 758 spelers, wat vir hoendervleisoomblikke gesorg het toe hulle trots en opgewonde tydens Maandagaand se openingsgeleentheid reg rondom Hoërskool Trio in Kroonstad, ʼn trotse finalis van Kwêla se Dorp van die jaar-kompetisie, se rugbyveld gestap het.

“Daar sal in totaal 743 wedstryde wees,” sê ds. Peter Stans, uitvoerende hoof van AVS, wat al sedert 1995 by Bokkieweek betrokke is. Rugby-, hokkie- en netbalspelers sal tot Vrydag teen mekaar meeding. “Dit is so lekker om die bruisende entoesiasme onder die Afrikanerjeug te beleef.”

Adam Tas, wat al vantevore by Bokkieweek betrokke was, het Maandagaand vir vermaak gesorg en het met “Die Oukraalliedjie” tot “The Gambler” gehelp om die Vrystaat-koue te verdryf.

(Foto verskaf)

“Ek was self ook ʼn rugbyspeler en het op linkervleuel uitgedraf,” vertel hy nadat hy geduldig vir ʼn string foto’s saam met gretige spelers geglimlag het.

Bokkieweek is amptelik tydens Maandagaand se o.19-openingswedstryd tussen Stellaland en Noord-Vrystaat, vanjaar se gasheer-unie, afgeskop waar Noord-Vrystaat met 13 – 10 gewen het.

“Dit is nie net ʼn week waar geesdriftige ouers en ondersteuners spelers langs die veld aanmoedig nie, maar ook ʼn week waar verskeie rugby-akademies talent identifiseer met die oog op werwing.

“Die nasionale spanne en wenners sal Vrydag na afloop van die wedstryde tydens die prysuitdeling aangekondig word,” verduidelik Rentia Mynhardt, skakelbeampte vir Bokkieweek.

“Daar vind op 15 Julie ʼn bekroningsfunksie vir die nasionale spanne plaas, waarna hulle dan op 16 Julie in Vereeniging by Hoërskool Dr. Malan teen spanne soos klubs sal meeding.”

Die reuk van pap en kaiings, sosaties, kerrie-en-rys, koffie en pannekoek sorg selfs vir ʼn groter feestelike en warm atmosfeer, ten spyte van die wit wintersgras van die Vrystaat. Kaartjies kan teen R20 by die hekke gekoop word. Voorskoolse kinders kyk gratis.

Uitslae van alle wedstryde word deurlopend op Facebook geplaas. Regstreekse aanlyn dekking van die o.19-rugbywedstryde is daagliks beskikbaar. Na afloop van elke dag se wedstryde word daar ook opnames van sommige netbal- en hokkiewedstryde (o.19) beskikbaar gestel.

Die finale rugbywedstryde van alle ouderdomme word Vrydag op die A-veld gespeel en sal regstreeks gestroom word. Die o.19-eindstryd vir meisies- en seunshokkie en netbal sal ook Vrydag regstreeks aanlyn te siene wees. Loer gerus op die Facebook-blad vir verdere besonderhede en foto’s.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mea ·

Dit was ‘n belewenis. Net ‘n regstelling die openingsaand is op North High School se rugbyveld gehou en nie Hoërskool Trio nie.

Miena ·

ek wou se erens mis ek iets – my dogter is in Trio en daar gaan niks aan nie.

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Mea en Miena

Die Bokkieweek word deur Hoërskool Trio aangebied en albei skole se velde is ingespan vir die Bokkieweek se aktiwiteite en wedstryde.

Groetnis
Esté Meyer Jansen namens Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.